Dis baie stresvol as jou peuter ander kinders skielik begin byt, maar dit beteken nie dat jy ’n slegte ouer is nie. Dit kan egter gebeur dat maatjies by die skool nie met hom wil speel nie en dat hy nie meer na speelafsprake genooi word nie.

Jy sal wonder wat moontlik agter dié gedrag kan skuil. Hoekom het hy skielik begin byt? Gaan hy ooit daarmee ophou? Wat kan jy doen om dit te beheer? Ons het antwoorde gaan soek.

Hoekom byt hy?

Volgens suster Ann Richardson, skrywer van Koester jou kleuter (Metz Press), byt kinders uit frustrasie of soms omdat hulle tande kry.

Jy sal gelukkig maklik die verskil kan sien wanneer jou kind byt om sy tandvleis te streel (gewoonlik wanneer hy onder twee is) en wanneer hy byt omdat hy kwaad, jaloers, gefrustreerd of ontsteld is.

“As ’n ander kind jou kind irriteer, sal jy gou agterkom dat hy om ’n emosionele rede gebyt het en nie omdat hy tande kry nie,” sê Ann. Sy verduidelik dat wanneer ’n kind nog nie die woorde het om hom mee uit te druk nie, hy dikwels in moeilike situasies kan reageer deur te byt of stamp.

As jou kind ’n introvert is of sensitief is vir sensoriese oorlading, sal hy moontlik op ’n meer uitbundige kind reageer deur te byt. “Soms is sosiale geleenthede of speel met ander kinders eenvoudig te veel vir ’n sensories sensitiewe kind.

“Hulle begin oorweldig voel in ’n sekere omgewing (te veel sand, te veel speelgoed, te veel geraas) en kan die stimulasie op ’n emosionele vlak nie hanteer nie,” sê sy.

Hoe reageer jy?

Die beste ding wat jy kan doen as jou peuter ’n ander kind byt, is om weg te loop. Ja, dit klink vreemd en die ander ma’s op die speelgrond sal jou dalk skeef aankyk en dink dat jy jou kind met moord laat wegkom, maar jy moet die bytertjie ignoreer, sê Ann.

“As jou kind ’n ander kind byt: Draai jou rug op hom, moet niks vir hom sê nie en fokus jou aandag op die slagoffertjie. Verduidelik aan hom dat wat jou kind gedoen het, sleg is.

“Die bytertjie sal gou die boodskap kry en tot die gewaarwording kom dat hy geen aandag weens sy gedrag gaan kry nie.” Moet jou kind nooit terugbyt nie, is die raad van Lenmarie Stanton, ’n kliniese sielkundige van Mahikeng in Noordwes.

“Dit is iets wat ouers dikwels uit moedeloosheid doen, maar peuters het nie probleemoplossings- of sosiale vaardighede nie.” Lenmarie sê wel dat ’n onmiddellike herhaalde boodskap in ’n eerlike stemtoon wat pyn uitdruk, soos “eina, dit maak seer!” help om jou kind te help.

“Selfs as die slagoffer uitlokkend was, moet jy nog steeds die byter ignoreer deur jou rug op hom te draai wanneer jy die geveg beëindig,” sê Ann.

Sy sê dat al was wat by die skool gebeur het, dikwels nie in die eerste plek die byter se skuld nie, gaan alle oë steeds op jou gerig wees wanneer jy hom gaan haal en kan jy gekasty word oor wat jou kind gedoen het.

“Jy moet saam met jou kind se juffrou probeer uitpluis hoekom jou kind in die eerste plek byt. Probeer die verskillende persoonlikhede identifiseer wat ter sprake is en wat die onderliggende probleem is.”

As jou kind by die skooltjie byt, behoort die skool die byter te dissiplineer op ’n manier wat vir hulle werk, solank dit net nie op mishandeling neerkom nie.

Vra jou kind se juffrou hoe hulle dit hanteer om seker te maak jy is gemaklik daarmee.

Wat kan jy doen?

Die beste plan is om die bytgedrag te probeer voorkom eerder as daarop te reageer, sê Lenmarie. Dít doen jy deur aandag te gee aan faktore wat dit veroorsaak, soos dat ander sy speelgoed gryp, of dat die chaos en geraas van speeltyd hom oorweldig.

“As jy kan bepaal wat die bytgedrag veroorsaak, kan jy keer dat dit weer gebeur.” Nog ’n betroubare tegniek is afleiding. “Baie peuters vergeet dat hulle kwaad of gefrustreerd is as hul aandag afgelei word, of as hulle geprys word vir hulle deelname aan ander aktiwiteite,” sê Lenmarie.

“Meestal is die probleem dat daar ’n paar kinders is wat nie met mekaar oor die weg kom nie,” sê Ann. Waarsku jou kind gereeld om nie te byt nie, en waarsku ander ouers voor ’n speelafspraak dat jou kind soms byt.

Vra hulle moet jou bel as daar ’n probleem is, sê Ann. Die alternatief is om jou kind weg te hou van die geselskap van die kind met wie daar dikwels konflik is.

Jou peuter se patrone van bytgedrag moet ontleed word om te bepaal of oorstimulering, ’n gebrek aan speelgoed, te min aandag of ander gebeure jou peuter se bytgedrag voorafgaan, sê Lenmarie.

“Probeer om ’n konsekwente roetine te implementeer en handhaaf. As daar rituele is, asook doeltreffende maniere om kinders ná stimulerende spel tot bedaring te bring (soos die speel van rustige musiek) kan frustrasie en dus bytgedrag afneem,” is Lenmarie se raad.

In ’n neutedop moet jy jou kind se sensoriese profiel verstaan. Is dit dat hy nog nie kan praat nie en geneig is om uit frustrasie te byt? Jy moet begrip hê vir die situasie, sê Ann.

As jy eers verstaan hoekom hy byt, moet jy jou bes probeer om die swak gedrag te keer of te vermy voor dit kop uitsteek. Sorg byvoorbeeld dat speelafsprake nie te lank aanhou nie – een uur per ouderdomsjaar is ’n goeie riglyn.

Moet ook nie verwag dat jou kind laat in die dag mooi gaan speel nie, want teen daardie tyd is hy moontlik reeds oorgestimuleer en is dit eerder tyd vir ontspan met ’n bad, boek en bed.

Lenmarie raai ouers aan om hul byters te leer om te sê “stop” of “myne” as hul speelding gegryp word. Sê ook “ons byt kos, nie maatjies nie” en gebruik positiewe taal om jou peuter te leer om “saggies te vat” eerder as te “byt”.

Die goeie nuus is dat die bytery mettertyd self verdwyn, maar voorskoolse kinders en selfs ouer kinders sal steeds soms byt as hulle uitgelok word. Doen alles wat jy kan om die oorsaak te vind voor die probleem handuit ruk.

Draai jou rug op die byter en gee aandag aan die kind wat gebyt is.
Raad vir jou byter

Lenmarie Stanton, kliniese sielkundige, gee die volgende advies:

  • Skei die byter van die slagoffer. Ontlont die situasie wat die bytery veroorsaak het. Verwyder die bytertjie van die bron van frustrasie. Dit kan kalmerend wees en ook die kind wat gebyt is, veilig laat voel.
  • Help die bytertjie verstaan watter emosies tot haar gedrag gelei het. Leer haar hoe om dit beter te hanteer. Jy kan sê: ”Jy lyk kwaad, maar jy mag nie byt wanneer jy kwaad voel nie en jy mag jou juffrou om hulp vra.” Vermy dit om die woord “reg” of “verkeerd” te gebruik. Gebruik telegrafiese taal: kort en duidelike sinne.
  • By kleuterskole is dit ’n goeie plan om ’n afkoelhoekie te hê waar ’n volwassene ’n kind kan help afkoel. Die kind behoort daar te bly vir een minuut vir elke jaar wat sy oud is (dus drie minute vir drie jaar, ensovoorts).