VRAAG:

Wat is die beste manier om peuters wat dinge uit frustrasie byt (soms ook vir ma en pa, maar nie ander nie) by te staan en ander hanteringsmeganismes te leer? Dit is gewoonlik goed soos kombersies en speelgoed wat in die slag bly.

LENMARIE STANTON ANTWOORD: Omtrent die helfte van alle peuters onder drie jaar in dagsorg word deur ander kinders gebyt sonder dat hulle enige permanente emosionele gevolge ly. Hoewel dit nie sosiaal aanvaarbaar is nie, beskryf ontwikkelingsielkundiges dit as algemene gedrag vir kinders onder drie jaar.

Dis ’n manier waarop kinders uitdrukking gee aan woede, frustrasie en ’n behoefte aan beheer voor hulle in staat is om dit met woorde te doen. Dit wys ook outonomie en is soms ’n doeltreffende manier waarop ’n kind aandag of ’n speeldingkan kry. Te veel uitdagings soos moeilike aktiwiteite, eise, behoeftes en struikelblokke kan tot woede en frustrasie en dan tot ’n gebytery lei. Baie peuters verstaan nie wat dit beteken om te deel of dat aanraking soms seer kan wees nie. Hulle moet dus ander kommunikasiemetodes leer.

Peuters kan ook byt wanneer hulle gespanne voel, geen roetine het nie of nie genoeg interaksie met hul ouers het nie. Soms boots hulle net ander bytertjies na. Probeer om die gedrag te keer nog voor dit begin. Gee aandag aan faktore wat dit veroorsaak, soos kinders wat speelgoed gryp, of ’n geraas tydens speeltyd. Eers as jy die oorsaak kan bepaal, kan jy dit keer voor dit weer gebeur. ’n Ander betroubare tegniek is afleiding. Baie peuters vergeet dat hulle kwaad is as hul aandag eenvoudig afgelei word, of as hulle geprys word vir hul deelname aan ander aktiwiteite.

Ouers byt dikwels hul kinders uit pure moedeloosheid terug, maar dis iets wat jy moet vermy. Peutertjies het nog nie probleemoplossing- of sosiale vaardighede nie. Dit bly dus jou verantwoordelikheid om die korrekte vaardighede vir hulle te leer. Onthou, jou peuter verstaan nie die verskil tussen die byt van ’n speelding of ’n mens nie. ’n Onmiddellike, herhaalde boodskap van pyn in ’n eerlike stemtoon (eina, dit maak seer!) kan help om jou kind die verskil te leer. Sorg dat jou bytertjie liewer ekspressiewe kommunikasievaardighede aanleer.

Kundiges reken dat taalontwikkeling kinders minder laat byt. Leer jou kind woorde soos “stop” en “myne” vir as iemand sy speelding by hom vat. Sê ook “ons byt kos, nie maatjies nie” en gebruik positiewe taal om jou peuter te leer om “saggies te vat” eerder as om te “byt”. Probeer konsekwente roetines implementeer en handhaaf. Jy kan jou kind ook ná stimulerende spel help bedaar deur rustige musiek te speel.