Peuter-liefde vir baba

akkreditasie
Is jou peuter minder opgewonde oor die verwagte nuwe gesinslid as die res van julle? Hier is raad.

Toe jou peuter met waggelbeentjies haar eerste treetjie gee, was sy so oulik dat julle die voorbehoedmiddels weggepak het en kort voor lank moes jy ’n swangerskapstoetsie gaan koop. Maar nou is jy – met rede – bekommerd dat jou oudste dalk minder beïndruk met die nuus gaan wees.

’n Nuwe baba is veral vir enkelkinders ’n groot aanpassing, sê die Pretoriase spelterapeut Wietske Boon.

“Sy is gewoond aan al haar mamma en pappa se aandag en tyd. Wanneer ’n nuwe baba op pad is, hou dit baie onsekerhede vir haar in. Wat gaan nóg alles verander? Gaan mamma en pappa nog lief wees vir my? Is ek steeds belangrik?

“Jaloesie is ’n normale reaksie wanneer ’n nuwe baba opdaag, want vir ’n kind wat nie gewoond is daaraan om aandag, tyd en speelgoed te deel nie, is dit ’n groot aanpassing om haar ouers se aandag en tyd asook haar leefruimte met iemand anders te deel.”

Jou kleinding se vrese is nie sonder rede nie. Waarneming van ma’s met twee kleintjies het immers getoon dat hulle altyd meer aandag aan die jonger kind bestee. Dis egter belangrik dat jou peuter na die koms van die nuwe baba uitsien en hom met ope arms verwelkom.

Langtermynstudies het getoon kinders wat in die eerste drie weke ná ’n medespruit se geboorte ’n vriendelike belangstelling in die nuweling toon, 14 maande later steeds meer positief op hul klein sibbe reageer as kinders wat in die eerste weke onttrek het. Die goeie nuus is dat jy baie kan help om die aankoms van die nuwe baba vir jou ouer kind lekker te maak.

Wen haar hart vir baba

Jou kleinding se eerste bekendstelling aan die gedagte van ’n nuwe boetie of sussie kan help bepaal of sy die nuweling as bedreiging of aanwins sal ervaar. Wietske het raad oor hoe jy die proses so flink moontlik kan laat verloop:

  • Vertel vir jou peuter wanneer julle uitvind dat ’n nuwe asempie op pad is. Dit hang van julle af wanneer julle die nuus bekend wil maak, maar die beste plan is om vir jou kind te vertel voor die nuus kans kry om na vriende en familie te versprei. Jy wil nie hê jou kind moet by ander mense hoor dat daar ’n baba op pad is nie. As iemand naby julle onlangs ’n baba gehad het, kan jy vir jou kind verduidelik deur daarna te verwys: “Net soos hulle nog ’n baba gekry het, gaan ons ook nog ’n boetie of sussie kry.” Hou die verduideliking eenvoudig sodat jou kind dit kan verstaan.
  • Jou peutertjie is dalk nog te klein om baie vrae te formuleer, maar gee haar die geleentheid om vrae te vra en beantwoord dit eerlik en op haar vlak. Daar is ook heelparty oulike kinderboeke wat baie van ’n kind se vrae beantwoord, soos Waar kom babas vandaan? deur Sally Ann Wright en Honor Ayres (Lux Verbi)
  • Eerlikheid is belangrik. “Wees altyd eerlik oor wat jou peuter kan verwag wanneer die nuwe baba gebore is. Daar gaan lekker tye wees wanneer sy kan help, maar soms gaan die baba ook huil en baie van mamma se tyd verg.
  • Gesels met jou kleinding oor haar eie babajare. Dit sal haar help om babas beter te verstaan en haar laat besef dat haar eie babatyd vir jou net so kosbaar was. Dit sal haar van voor af gelief laat voel. Kyk saam na foto’s van haar babajare en gesels met haar oor waarvan sy gehou en wat sy gedoen het.
  • Neem haar saam ginekoloog toe om na baba se hartklop te luister. Dis ’n spesiale ervaring vir julle as ouers en net so spesiaal vir haar. Dit sal haar ingesluit laat voel en haar vrees verminder dat julle haar eenkant toe sal stoot as baba eers daar is.
  • Betrek haar by aktiwiteite soos die inrig van die babakamer en die kies van ’n naam. Maak dit pret! As sy na ’n ander kamer moet trek, berei haar voor en verduidelik waarom dit nodig is. Dis beter om te sê “omdat jy nou mooi groot is” as om te sê “omdat boetie jou kamer moet kry”.
  • Verduidelik laat in die swangerskap dat jy hospitaal toe moet gaan om die baba te gaan uithaal, maar dat sy daar vir jou kan kom kuier en haar nuwe boetie of sussie daar kan ontmoet.

'n Eerste ontmoeting

Jou kleinding sal waarskynlik in die hospitaal vir die eerste keer met die nuweling kennis maak. Wietske het wenke om die verhouding tussen ousus of ouboet en baba op ’n hoë noot te laat afskop:

  • Gee vir ousus ’n geskenk wanneer sy julle die eerste keer in die hospitaal besoek.
  • Neem ’n foto van haar saam hospitaal toe en sit dit op die bedkassie sodat sy kan sien dat sy steeds ’n belangrike rol in jul lewe speel.
  • Gee haar ‘beheer’ oor die situasie: Wanneer sy die eerste keer vir baba ontmoet, kan sy baba saam met pappa in die babakamer gaan haal en na mamma se kamer toe bring.

Welkom tuis, baba!

Hoewel jaloesie normaal is wanneer ’n nuwe baba opdaag, is dit belangrik om te weet dat jou kinders se verhouding deur veel meer as jaloesie aangevuur word. Jou peutertjie sal instinktief belangstel in die nuwe aankomeling en sy behoeftes begin verstaan. Benut hierdie belangstelling tot jou voordeel. Wietske het raad:

  • As jy en baba tuiskom, laat iemand anders baba dra sodat jy al jou aandag aan jou peuter kan gee. Sy het jou gemis terwyl jy in die hospitaal was. Laat haar toe om vir baba die huis te “wys”.
  • Koop vir haar ’n babapop wat sy kan voer, doek aansit en jou gedrag mee kan naboots. Dit gee haar ’n sin van beheer oor die situasie asook die geleentheid om die verandering te verwerk en positief te hanteer. (As jy borsvoed, moenie skrik as sy die pop aan die bors wil sit nie!)
  • Gebruik taal wat jou peuter by baba se versorging betrek, byvoorbeeld: “Dink jy kleinboet is nou honger? Sal ons hom voer? Wat dink jy?” Navorsing toon dat as ’n ouer moeite doen om ’n baba se reaksies en versorging met sy ouer boetie of sussie te bespreek en hulle so te betrek by besluite oor sy versorging, hulle gewoonlik later beter verhoudings met die jonger boetie of sussie het.
  • Laat haar help met take soos badtyd deurdat sy die seep of doeke aangee, en prys haar vir haar hulp en betrokkenheid.
  • Maak tyd om aandag aan net haar te gee, al beteken dit dat ouma ’n uur lank na baba moet omsien. Dis belangrik dat sy ervaar dat julle nog net so lief vir haar is en dat haar behoeftes steeds vir julle ’n prioriteit is.
  • Stel steeds duidelike grense vir aanvaarbare gedrag. Sy kan onseker wees oor wat toelaatbaar is met die nuwe baba in die huis.
  • Oorreed familie en vriende om haar eerste te groet en ’n geselsie te maak of gee haar die geleentheid om haar babasussie of -boetie aan gaste voor te stel.
  • Wees voorbereid op regressie, waar jou kind weer babagedrag toon soos om bottel te drink of selfs te borsvoed. Dis haar manier om die verandering te hanteer. Moenie ’n drama daarvan maak nie, maar prys “grootkind”-gedrag.
  • Jou peuter kan jaloers of aggressief optree deur baba van jou skoot af te probeer stoot as jy hom voer of moeilik raak sodra baba jou aandag nodig het. Sê: “Mamma moet eers vir boetie aan die slaap maak, maar daarna sal ek met jou speel.” As julle bekommerd raak oor haar gedrag, kan julle ’n sielkundige of spelterapeut raadpleeg om haar te help om haar emosies te verstaan en by die verandering aan te pas.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees