Peuter-pret!

akkreditasie
Jou aapstert ontgroei sy babaskoene voor jou oë. Wees op die uitkyk vir dié heerlike mylpale.

Ek eet self

Jou peutertjie se selfvertroue neem vinnig toe en jy hoor ál meer die woordjie “self!” Een van sy eerste treetjies na onafhanklikheid is dat hy daarop aandring om self met ’n lepel te eet, gewoonlik so teen 18 maande oud. Wees voorbereid: Sy vingers is nog onhandig en dis dus ’n morsige affêre.

Jy sal waarskynlik teen badtyd kos op allerhande vreemde plekke ontdek, soos agter sy ore en tussen sy tone! Maak die lewe makliker deur koerantpapier of ’n plastiektafeldoek onder sy eetstoeltjie te pak sodat jy makliker kan opruim as die helfte van sy bord kos op die vloer beland.

Wenk:

Maak seker jy neem minstens een foto van jou kleinding met sjokoladekoek wat byna sy hele gesig versier!

Klouterkabouter

Jou kleinding het skaars die wonder van loop baasgeraak of hy ontdek ’n nuwe vaardigheid: om te klim. Sommer gou sal jy agterkom dat niks meer veilig is met jou waaghals in die omgewing nie – as hy nie teen jou diefwering uitklouter nie, klim hy op jou banke (en val anderkant af), of trek ’n stoel nader en klim op jou kaste.

Hy sal ook waarskynlik leer om op te klim voor hy leer hoe om af te klim, en jy sal hom dus gereeld uit netelige situasies moet red. Jou kleinding leer ook teen 20 maande hoe om trappe met een voet op ’n slag af te klim – ’n reuse sprong in sy groot motoriese ontwikkeling.

En teen twee jaar leer hy om met albei voete gelyk te spring – iets wat hy oral beproef en waarop hy baie trots is. Veiligheid is nou van kardinale belang, want ’n peuter ken nie vrees nie.

Wenk:

Hou die kamera byderhand vir daardie oomblik wanneer jy hom bo-op jou yskas betrap!

Tyd vir 'n eie bed

As jou peuter eers ontdek het hoe om te klim, is sy kot nie meer veilig nie en is dit tyd vir die groot trek van kot na bed. Dis ’n mylpaal waarvoor jy dalk hare op jou tande nodig sal hê, want dis veel moeiliker om hom in sy eie bed te hou as in sy kot.

Belê gerus in ’n mooi duvet om sy nuwe slaapplek vir hom spesiaal te maak. Nog ’n moontlikheid is om jou peuter op ’n matrassie voor jul bed te laat slaap.

Wenk:

Al ooit gesien hoe jou peuter uit sy bed sluip om by julle te gaan inkruip, net om halfpad van sy bed af weer aan die slaap te raak in die vreemdste posisie? Lê dit vas!

'n Dagslapie minder

Iewers in die tweede lewensjaar maak die meeste peutertjies die sprong van twee dagslapies na een. Dis ’n aanpassingstyd, aangesien jou kleinding dikwels moeg en knorrig raak as hy net een keer slaap, maar ook nie meer twee slaapsessies nodig het nie.

Wees daarop ingestel om dit te wissel na gelang van behoefte. As jou kleinding teen die einde van ’n oggend oormoeg begin word, kan jy middagete vroeër gee en hom langer in die middag laat slaap.

Wenk:

Moegheid kan jou peuter soms op die mees onwaarskynlikste oomblik oorval, wat vir skreeusnaakse fotogeleenthede kan sorg. Kiek jou kleinding as hy oor sy bord kos aan die slaap raak, of al sittend terwyl hy nog besig was om met iets te speel.

Dapper stapper

Dis die een mylpaal waarvoor alle ouers asem ophou en wat hulle uiteindelik breëbors laat glimlag as die groot oomblik aanbreek: daardie eerste wankelrige treetjies gewoonlik kort ná sy eerste verjaardag, wat die peuterjare inlei. Skielik is hy nie meer ’n babatjie wat vir byna alles van jou afhanklik is nie, maar hy kan self oor die weg kom – en sommer blitsvinnig ook!

Wenk:

Sorg dat jy ’n kamera of videokamera byderhand het om hierdie spesiale oomblik vas te vang. Maak ’n voetafdruk in ’n stukkie sement buite jul huis – dit sal ’n baie spesiale plekkie word!

Ek kry momentum

Peuters hou nie van stadig beweeg nie en sodra hy die lopery goed onder die knie het, sal hy sy hardloopvermoë tot die uiterste toets. Dit kan gevaarlik word omdat jou kleinding se kop swaar is in vergelyking met die res van sy lyf, wat hom maklik sy balans kan laat verloor as sy voete nie meer kan byhou nie. Wees dus gewaarsku dat jou kind waarskynlik meer as een bloukol gaan opdoen.

Wenk:

As hy en sy hondjie al hardlopend op die gras baljaar en jil van plesier, is dit pure vreugde! Bêre hierdie herinneringe in jou onthou-bottel.

Klaar met doeke

Meer as twee jaar lank was doeke koop deel van jou maandelikse begroting en die doeksak altyd reg en gepak – en dan is dit skielik nie meer nodig nie. Nie alle peuters is ewe gou gereed vir potjielesse nie, maar die meeste raak dit iewers tussen hul tweede en derde verjaardag baas.

Moenie haastig word nie en laat jou deur jou kind lei om dié groot mylpaal te bereik. Jy sal dalk lag oor jou eie opgewondenheid wanneer daardie eerste pieps in die potjie val, maar dis ’n groot stap vooruit vir jou peuter!

Wenk:

Potjielesse in die somer is groot pret as jou kleinding kaalbas in die tuin rondhardloop om te probeer agterkom hoe die storie nou eintlik werk. So nie, laat hy hom met ’n boek op die toilet tuismaak.

Tatta foppie

Jy het waarskynlik al begin dink jou kleinding gaan eendag voor die kansel staan met sy bababottel of foppie in die mond, maar dan verras hy jou eendag deur self sy bottel weg te gooi of sy foppie vir die kat te gee. Of dalk het hy ’n bietjie meer aanmoediging nodig om van sy gunsteling-gebruiksgoed ontslae te raak. Hoe dit ook al sy, nou is die tyd dat jou kind afskeid neem van sy bottels en soos ’n groot kind uit ’n bekertjie begin drink.

Wenk:

Julle kan ’n spesiale ritueel daarvan maak om sy bottel of foppie weg te gee aan ’n baba wat dit nodiger het.

Onsigbare maatjie

Jou peuter is ’n sosiale wesentjie. Tog speel hy eers net langs sy maatjies, pleks van met hulle. Maar teen so twee jaar sal hy ál meer interaktief met maatjies begin speel. Dis ook iewers tussen twee en drie dat jou peuter die wonder van fantasiespel ontdek en in sy eie verbeeldingswêreld wegraak waar sy teddiebeer kan praat of sy motor¬etsie hom na ’n ander land kan wegvoer.

Wenk:

Luister gerus af terwyl jou kleinding (en sy maatjies) speel. Dis kosbaar! Kyk ook of jy dit ongemerk op jou videokamera kan vasvang.

'n Prentjie van my

Jou kleinding se fyn motoriese vaardighede verbeter in die peuterjare met rasse skrede. Teen omtrent 18 maande sal hy met ’n kryt op papier begin krabbel. Hy sal die kryt waarskynlik nog met sy hele vuis vashou, maar teen drie sal hy ’n dik kryt in ’n normale skryfposisie kan hou en al sirkels met strepies deur kan teken terwyl hy in alle erns vir jou vertel dis ’n prentjie van homself. Wees gewaarsku: Nou is die tyd dat jou mure as skilderdoek gebruik gaan word!

Wenk:

Raam sy eerste tekening van homself met ’n datum by. Doen dit elke ses maande en kyk hoe hy vorder.

Weg met babataal

Teen ’n jaar oud kan jou kleinding al enkele woordjies kwytraak, maar in die peuterjare begin sy woordeskat werklik ontluik en groei dit vinnig tot tweewoordsinnetjies ná sy tweede verjaardag. Maak ook reg vir frustrasie as hy sukkel om hom uit te druk. Nou breek die tyd van oulike sêgoed aan.

Wenk:

Skryf elke skattige sêding neer. Dis so kosbaar en jy sal dit so altyd onthou.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees