Teen hierdie tyd het jy agtergekom dat die woordjie “nee” ’n gunsteling is, en dat selfs die dinge waarvan sy nou die dag nog gehou het, deesdae ’n oorlog veroorsaak. Hou op om jou te verwyt! Jou kind gaan deur ’n natuurlike fase waarin sy daarvan bewus raak dat sy ’n aparte mensie van haar geliefde ouers is. Dit is vir haar ’n moeilike emosionele proses om vrede te maak met haar onafhanklikheid. Soms wil sy alles op haar eie doen, terwyl sy ander kere weer klouerig en afhanklik van jou is.

Tree kalm op

Dit sal haar baie help as jy koel en kalm bly tydens konfrontasies en jou reëls konsekwent hou. Dit sal sekuriteit skep in selfs die ergste van storms! ’n Kind tussen 12 en 24 maande oud verstaan die woord “nee” en kan in sekere gevalle haar samewerking gee. Sy is egter glad nie volwasse genoeg om te verstaan waarom jy kwaad word en wat die rede daarvoor is nie – selfs al is sý die rede. Om dan jou stem te verhef, te raas of te raps, gaan haar net bang maak of ontsenu. Uiteindelik gaan sy nie iets daaruit leer nie.

Dit is daarom nodig dat jy kalm en ferm bly. Wanneer jou kind vir jou “nee” sê, is sy bloot besig om jou na te boots. Al voel dit soms asof sy jou aspris uittart, is dit op daardie ouderdom nie werklik moontlik nie. Sy is net besig om haar onafhanklikheid op ’n manier uit te druk.

Die beste manier waarop sy leer, is deur herhaling. Dit is seker een van die mees uitputtende aspekte van ouerskap! Eerder as om ’n konfrontasie te hê, gebruik die geleentheid om (weer eens) te verduidelik waarom dit nodig is om te bad/eet/tande te borsel/te gaan slaap. Jou kalm stem wat rustig die storie vertel van die suikergoggatjies wat haar tande in die nag opvreet as sy dit nie borsel nie, behoort genoeg te wees om die aggressie te ontlont, selfs al verstaan sy nie presies alles wat jy sê nie.

Moenie baklei nie

Dis belangrik om nie dissipline as ’n soort oorlog te benader nie. Jy is immers baie meer ervare as sy en kan jou pad rondom probleme vind. Jy weet dat jou peuter slegs daardie opdragte gaan uitvoer waarvoor sy lus het, en dit maak die stryd halfpad gewonne. Die uitdaging is dan om jou meerdere kennis en ervaring te gebruik om haar sover te kry om jou opdragte uit te voer.

Probeer dus om opdragte te vermy wat ’n “nee”-antwoord tot gevolg kan hê. Eerder as om te sê “Dis tyd om te gaan bad”, kan jy dit in ’n speletjie omskep deur te sê “Wie gaan eerste by die bad wees, ek of jy?”

Kyk ook ’n bietjie na jou roetines. Hoewel roetine noodsaaklik is om sekuriteit te vestig, kan jy probeer om die inhoud daarvan interessanter te maak. Dinge soos om badspeelgoed gereeld te wissel of eettyd met stories en liedjies op te kikker, kan help om jou peuter se aandag in so ’n mate af te lei dat sy van haar gunstelingwoordjie sal vergeet!

Daar sal vloerstuipe wees

Wanneer jou kind onbeheers kwaad is, bars die gevreesde vloerstuipe of woedebui los. Die meeste kinders tussen 18 maande en drie jaar oud kry dit, sommiges meer gereeld as ander. Dit kom meer by eiewillige of vasberade kinders voor as by dié wat rustig en inskiklik is.

’n Woedebui af en toe kan eintlik goed vir jou kind se emosionele ontwikkeling wees, glo dit of nie! Dit gee uiting aan haar opgekropte frustrasies, maar dis nodig dat sy ook leer dat dit beheers moet geskied.

Kleuters ontplof gewoonlik om een van twee redes. Die eerste is dat hulle jou aandag soek of gefrustreerd is. Dikwels is die frustrasie die gevolg van jou weiering dat hulle iets doen of met iets speel wat hul oog gevang het. Die tweede algemene rede is oormoegheid of oorstimulering. Die kleuter kan die situasie nie meer hanteer nie en stort ineen.

Ondanks jou beste bedoelings is daar tye wanneer ’n woedebui gáán plaasvind. Probeer om kalm te bly en onthou dat sy hierdie fase mettertyd sal ontgroei. Moenie jou humeur verloor of toegee nie, en moenie omkoop, slaan of dreig om haar te laat bedaar nie. Aanvaarbare maniere om ’n woedebui te hanteer, is:

  • Ignoreer die woedebui, maar bly naby en sê: “Ons sal weer praat wanneer jy klaar gehuil het.” As sy veilig is, kan jy die vertrek verlaat.
  • Lei haar aandag weg na iets anders, ’n voorwerp of ’n ander aktiwiteit.
  • Hou haar vas, gewoonlik van agter af, tot haar lyf ontspan en jy dit in ’n drukkie kan omskep. Doen dit net as jy sterk genoeg is en jy voel dis die regte ding.
  • Verwyder haar uit haar omgewing, veral as julle in die openbaar is of indien daar potensieel gevaarlike voorwerpe is wat haar kan seermaak.
  • Skree vir ’n rukkie saam en maak dan jou stem geleidelik sagter – jou kind sal jou waarskynlik naboots tot julle albei fluister.
  • Bly ferm. Moenie toegee aan die oorsaak van die woedebui nie, dit oortuig jou kind net dat ’n woedebui werk!
  • Maak vrede sodra die ontploffing verby is. Verduidelik dat dit natuurlik is om kwaad te word en dat jy ook soms kwaad word. Verseker haar dat jy haar steeds liefhet en dat dit slegs haar optrede is waarvan jy nie hou nie.

Nie in ons huis nie

Aggressie is normaal by kleuters. Tog moet kinders wat slaan, byt, knyp, skop, hare trek, krap of ander vorme van fisieke aggressie toon om hul sin te kry, gehelp word om hierdie gedrag af te leer. Aggressie teenoor ’n ander kind, dier of ouer persoon het onmiddellike aandag nodig. Verduidelik aan jou kind dat die gedrag seermaak en dat jy dit nie weer sal toelaat nie en die aktiwiteit sal stopsit as sy dit weer doen. Maak dan ’n groot ophef van die slagoffer en ignoreer jou kind. As jou kind dit weer doen, voer jou dreigement uit en verwyder haar uit die situasie.

Goue geheime van peuterdissipline

Stadig maar seker sal jy wel jou peuter gelei kry na die soort gedrag wat in ons samelewing aanvaarbaar is. Sy het die volgende daarvoor nodig:

die ruimte om die wêreld om haar te ervaar;

die vryheid en sekuriteit om dinge te ondersoek;

die tyd om ander kinders te ontdek; en

tyd saam met jou.

Die kuns is om riglyne te begin neerlê en grense te stel sonder om bogenoemde onnodig te beperk – en daarvoor is die peuterjare die ideale tyd. Dit is egter ook normaal dat peuters die perke probeer oorskry net om te kyk hoe ver jy hulle sal laat gaan.

Jy kan konflik dikwels voorkom deur wangedrag te voorspel en jou kind van die toneel te verwyder, bewus te wees van die faktore wat dit veroorsaak, geringe oor­tredings te ignoreer en nie heeltyd “nee” te sê nie. Onthou ook om jou kind te prys wanneer sy haar goed gedra! 

Vermy opdragte waarop jou peuter ‘nee’ kan antwoord. Moenie jou humeur verloor of toegee nie.