Potjie-politiek

akkreditasie
Hoop jy doekvrye dae wag om die draai? Dan is hier kunsies, strategieë en ware verhale wat julle sal help om potjielesse met (uiteindelike) sukses aan te pak.

Wanneer jou kind tekens begin toon dat sy in die toilet of potjie geïnteresseerd is, of wanneer sy jou oor haar lyf se doen en late begin inlig (“ek het gepiepie” of “vuil doek”), kan jy met potjielesse wegspring.

Volg jou kind se leiding. Beskou haar as die bestuurder van haar lyfie en jou as haar werktuigkundige wat daar is om haar motortjie by te staan en die lekkende oliekolle op te vee.

Tekens van gereedheid

  • Sy bly langer tye droog.
  • Sy kry dit reg om haar broek self op of af te trek.
  • Die tyd van haar stoelgang is taamlik vasgestel.
  • Sy kan sê of aandui wanneer sy piepie of poefie en wil hê jy moet haar doek ruil die oomblik dat dit vuil is.
  • Sy praat gereeld oor die badkamer of gaan sit self op die potjie.

Waar begin jy?

Jy kan sake vir jou en jou kleinding makliker maak deur vroeg al met haar oor die potjie te gesels. Wys haar teen 18 maande wat ’n potjie is en vertel haar waarvoor dit gebruik word. Boekies oor potjieroetine is ook nou baie nuttig.

Kies ’n boekie met woordeskat waarmee jy gemaklik is en karaktertjies waarmee jou kind sal kan identifiseer. Guido van Genechten se Mag ek in jou doek loer? (Human & Rousseau) is ’n prettige hulpmiddel met opligflappies en baie humor.

'n Potjieskedule kan help

Teken ’n week lank aan wanneer jou kind piepie of poef. Dit sal jou help om vas te stel hoe gereeld haar lyfie is en min of meer wanneer sy die potjie nodig gaan hê. Só kan jy haar neem wanneer jy weet sy ’n beter kans op sukses gaan hê.

Elke keer dat sy dit regkry om die potjie met sukses te gebruik, het sy ’n beter idee van wat van haar verwag word.

Wanneer sy gereed is...

Haal die doeke deur die dag af. Die enigste manier waarop jou kind waarlik gaan agterkom wanneer sy die potjie nodig het, is deur die piepiestraaltjie langs haar been af te voel of deur die ongemak van ’n vuil broekie. Jy gaan bereid moet wees om met geduld en liefde skoon te maak en haar direk ná ’n ongelukkie potjie toe te vat sodat sy die verband kan trek.

Moet nooit jou teleurstelling wys wanneer sy ’n glips het nie. Daar is min dinge wat ’n kind so ontstel as om mamma of pappa teleur te stel. Hou dus die potjieproses stresvry, anders kan dit met weke of selfs maande vertraag word.

Onthou dat suksesvolle potjiegebruik ’n groot mylpaal vir jou kind is, en nie vir jou nie – hoewel dit beslis andersom voel! Doek-onafhanklikheid verg baie oefening. Normaal ontwikkelende kinders behoort teen die ouderdom van drie doekvry te wees.

As die nood druk

Hou maar altyd ’n noodtassie byderhand met ’n stel of twee ekstra klere en onderklere, vogdoekies en plastieksakkies vir vuil klere. Weet maar: Die nood gaan op die ontydigste oomblik druk. Dis nie haar skuld nie. Jou noodtassie gaan jou uit hierdie penaries red.

Willemien Viljoen van Forest Town, Johannesburg

“Kinders wat gereed is, wil graag onafhanklik wees. Dis vir hulle lekker! En wanneer hulle dit regkry, voel hulle so trots op hulleself.

My vyf kinders was almal êrens tussen twee en ’n half en drie reg om die doeke weg te gooi. Snaaks genoeg was ek elke keer bevrees. Dan kom jy agter hoe graag hulle eintlik wil leer en al wat hulle nodig het, is aanmoediging. Daar gaan baie nat broeke wees, maar op ’n dag snap hulle dit en dan’s jou sorge vergete.

Linda (14) en Christian (12) het teen drie min of meer op dieselfde tyd van die nag- en dagdoek ontslae geraak. Melodie (7) was al vroeg-vroeg van die nagdoek af, nog lank voor ons formeel met ’n dagroetine begin het.

Sy het eenvoudig van babatjietyd af met ’n droë doek opgestaan. Rebekka (3) is weer lankal deur die dag in haar kleinbroekies, maar het steeds ’n nagdoek en staan elke oggend nat op. Ben (4) het ná een van sy enkele nagglipse op drie by my kom inkruip – met nuwe droë nagklere aan!

Nadine Rademeyer van Northcliff, Johannesburg

“My eerste, Riaan (7), was ’n modelkind. Ek was dus nie voorbereid op die uitdagings wat my tweede sou bied nie. Jacques is nou vyf en dra steeds ’n nagdoek. Hy het so dikwels glipsies gehad dat ek moedeloos was.

Soms het ek selfs my geduld verloor. As ek geweet het hoe my gedrag hom sou raak, sou ek baie geduldiger gebly het. Omdat hy my nie wou teleurstel nie, het hy begin knyp en vreeslik hardlywig geword. Baie trane later sukkel hy ongelukkig steeds daarmee.”

Uitstekende wenke

Juffrou Dienie Oberholzer van die Orbanskool in Westdene, Johannesburg, het ’n klassie van 12 peuters tussen twee en drie jaar oud, wat elkeen in ’n ander stadium van oorgang na doekonafhanklikheid is. Sy help daagliks om haar peutertjies eers potjiegereed te kry en dan hul onafhanklikheid te vestig. Sy deel al dié nuttige wenke.

  • Wees voorbereid op glipsies Nie net broeke word nat nie, met seuntjies is vars hempies dikwels nodig. As jou kind by die skool gaan leer potjie gebruik, pak aanvanklik tussen twee en drie stelle droë klere in. Die juffrou gaan dit nodig kry.
  • Neem jou peuter gereeld toilet toe Doen dit minstens elke uur en ’n half. Dis harde werk en hulle gaan dikwels met jou stry en weier om te gaan, al het hulle ’n nood. Dit kos baie aanmoediging, maar hou voet by stuk.
  • Gee klein belonings as hulle aanvanklik suksesvol gesit het – ons gebruik sterretjies of plakkers. Eetgoed is nie ’n goeie idee nie. Lof is ’n wonderlike beloning: “Jy’s nou ’n grootseun!” of “Kyk hoe oulik het jy nou probeer!” of “Mamma is so trots op my meisiekind.”
  • Wat dikwels help is spesiale onderklere Jy sal verbaas wees hoe die Superman op sy onderbroek jou seuntjie se toiletroetine makliker gaan maak. Vir dogtertjies is dit net so belangrik – hulle sien vinnig die verband raak tussen “kleinbroekie” en “groot meisie”.
  • Gebruik ’n ringkussing vir die outjies wat skrikkerig vir die groot gat van die toilet is.
  • Trek in hierdie tyd eerder broeke met rekke aan as broeke met knope of gordels wat moeilik aftrek. Jou kind moet sy broek met gemak kan afglip. Frokkies wat met drukkertjies tussen die bene toegeknip word en oorpakke moet liefs ook vermy word.
  • Dis juis om dié rede dat potjieroetine makliker in die somer as in die winter gevestig word. As die peuters te veel klere het waarmee hulle moet worstel, gaan hulle gouer moed verloor. Hulle sweet ook natuurlik minder in die winter en piepie daarom meer gereeld.
  • Baie pappas is gretig om hul seuns te laat staan en piepie, maar aanvanklik is dit nie ideaal nie want hulle het nie genoeg beheer nie. Laat hulle met ’n geruste hart eers sit. Hulle sal weldra leer staan.
  • Die afveewerk moet steeds deur mamma gedoen word – ten minste tot hulle drie jaar oud is. Meisies is geneig tot blaasinfeksie en dis dus belangrik om seker te maak dat hulle mooi afvee.
  • In die meeste gevalle bemeester peuters die piepieroetine vinnig, maar dit kos hulle langer om daardie magie in die toilet te laat werk. Dit verg meer selfvertroue en die spiere wat moet werk, is heeltemal anders. Hulle gaan jou dalk vra om ’n doek te bring as hulle wil poef. Dis heeltemal normaal. Trek aan die begin die doek aan, maar laat hulle dan met doek en al op die potjie gaan sit om hul ding te doen. Dit sal hulle help om hulle spierkoördinasie reg te kry.
  • ’n Mamma moenie stres as haar kind van vier nog nagdoek dra nie. Dis iets wat nie beheer kan word nie. Jou kind se lyf sal self tussen drie en vier leer hoe om die proses te hanteer. As hy aanhoudend met droë doeke opstaan, kan jy maar die nagdoek wegbêre.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees