Die meeste ouers wat hul kinders al deur die nag droog probeer hou het, sal jou vertel dat dit ’n morsige en frustrerende affêre is. Om deur die nag droog te bly, is nie iets wat ’n mens sommer kan leer nie – dit hang af van hoe volwasse ’n kind al is.

Die goeie nuus is dat die meeste kinders kort voor lank snags droog is. As jy weet hoe dié mylpaal met ontwikkeling saamhang, is dit baie makliker om die proses te bestuur.

WANNEER IS DIT ’N GOEIE TYD OM TE BEGIN?

Elke kind se nagtelike droogheid hang van die individu en sy ontwikkelingsrypheid af, sê dr. Errol Gottlich, ’n kindernierspesialis van Sandton.

Fisieke eienskappe speel ’n rol, soos senuweegeleiding, hoe volwasse jou kind se blaas is en of uriendrywende hormone (hormone wat urinering help terughou) al vervaardig word.

Die ouderdom waarop kinders snags droog begin bly, verskil dramaties en kan enigiets tussen 18 maande en vier jaar wees.

HAASTIGE HOND …

Jy plaas jou kind onder onnodige spanning as jy haar probeer dwing om droog te bly voor sy daarvoor gereed is. Aan die ander kant kan dit vir jou frustrerend wees om snags te moet opstaan om glipsies skoon te maak.

Hou jou kind snags dus liefs in die doeke tot dit duidelik is dat sy gereed is om droog te slaap, sê dr. Margaret Fockema van die Bekken-en-Uroterapie-Instituut by die Sunninghill-hospitaal in die noorde van Sandton.

“So slaap jou kind deur en bly die beddegoed droog. Party kinders piepie verskeie kere in die nag en dan kry g’n mens behoorlik rus nie. Onderbroke slaap is sleg vir ouers en kan by kinders selfs gedragsprobleme veroorsaak,” sê sy.

Wees op die uitkyk vir die volgende tekens: Jou kind moet bedags kan voel dat sy wil piepie, sy moet vra om sonder ’n doek te slaap en sy moet ’n paar oggende ná mekaar ’n droë doek hê.

JOU KIND MOET INKOOP

Hoewel ’n kind se liggaamlike gereedheid die belangrikste faktor is, is dit ook belangrik dat sy gewillig moet wees om met droog slaap te begin eksperimenteer.

”As sy nie emosioneel gereed is nie, sal jy haar net gespanne maak,” waarsku Margaret.

”Jy kan die voorstel maak, maar as sy nog nie wil nie, is dit beter om eers ’n rukkie te wag.”

Die Johannesburgse sielkundige Jade Paterson stel voor dat jy met jou kind gesels oor wat presies voorlê sodat sy weet wat om te verwag. Stel haar gerus dat sy moontlik glipsies sal hê en dat dit normaal is. ”As jy kinders so betrek, bemagtig jy hulle,” sê Jade.

JOU TERUGVOER

Dis verstaanbaar dat jy dalk nie heeltemal in beheer van jou reaksie gaan wees as jy in die middel van die nag wakker gemaak word om nat beddegoed om te ruil nie.

”Ek raak regtig befoeterd as ek ná so ’n glips wakker word,” erken Tina (36) van Johannesburg (nie haar regte naam nie).

”Ek wil sommer met my vierjarige raas: ‘Jy’s nie meer ’n baba nie, jy behoort dit nou al reg te kry!’

”En dan voel ek regtig sleg daaroor, want bedags sal ek nooit so reageer nie.” Moenie jou kind kritiseer of straf nie, waarsku Jade. Dit kan haar skaam en skuldig laat voel en dien geen doel nie.

”Natuurlik is jy ook net mens en gaan jy partykeer jou gevoelens of behoeftes die oorhand laat kry. Jy kan dit later regstel en dis in die haak. Dit gaan meer oor jou algemene ingesteldheid oor die saak; dis wat jou kind sal bybly.”

Kos wat die blaas irriteer
  • KOELDRANK Gaskoeldranke soos Coke en selfs sodawater
  • KAFEÏEN Tee, koffie, donker gaskoeldrank, sommige donkerder kruietees (kafeïenlose weergawes inkluis), sjokolade, sommige hoesmiddels en party oor-die-toonbank-medisynes
  • VRUGTE EN VRUGTESAPPE WAT BAIE SUUR BEVAT Dit sluit in lemoene, pomelo’s, suurlemoene, lemmetjies, mango’s, pynappels en vitamien C-aanvullings
  • KOS MET ’N TAMATIEBASIS Tamatiesap, tamatiesous en braaisous
  • SKERP KOSSE Pas veral vir brandrissie-geregte op.
  • SUIWELPRODUKTE Melk, kaas, maaskaas, jogurt, roomys
  • SUIKER Versoeters (kunsmatig en andersins), heuning, fruktose, sukrose en laktose. Lees etikette, want dié bestanddele word by baie verpakte kos gevoeg.
  • NAGEMAAKTE KLEURSTOWWE Groen en rooi is veral irriterend.

Bron: Die Bekken-en-Uroterapie- Instituut van Suid-Afrika

AS DINGE AGTERUITgaan

Soms bly ’n kind ’n ruk land droog en begin dan weer bed natmaak. Glipsies af en toe is normaal. Gereelde bednatmakery ná ’n lang droë tydperk kan egter op fisieke probleme dui soos chroniese hardlywigheid, blaasontsteking, die begin van suikersiekte of ’n ander mediese toestand. Gaan dan liewer dokter toe.

Baie mense meen dat bednatmakery die gevolg van sielkundige probleme is, sê Margaret.

”Dit gebeur egter in die minderheid gevalle. In navorsing is bevind dat onthutsende gebeure soos ’n egskeiding of ’n nuwe baba ’n kind selde so beïnvloed dat sy weer begin bed natmaak. In die meeste gevalle is die oorsaak fisiek.”

MOENIE, MOENIE, MOENIE

  • MOENIE DIE POTJIE SKEDULEER NIE Wat jy bedags doen, het ’n invloed op wat snags gebeur. Pasop vir ’n skedule waarvolgens jy jou kind elke twee uur toilet toe sleep, want dit kan haar blaas ooraktief maak sodat dit nóg moeiliker is om snags droog te bly.
  • MOENIE MINDER VLOEISTOWWE GEE NIE As jou kind nie bedags genoeg vloeistowwe inkry nie, skakel haar liggaam deur die dag die hormoon aan wat urine terughou ten einde die bloeddruk konstant te hou. Teen die aand is daar dan nie genoeg van die hormoon oor nie, en die gevolg is ’n nat bed. Begin vloeistowwe liewer ’n uur voor slaaptyd beperk, is Margaret se raad.
  • MOENIE STIMULANTE GEE NIE Sommige kos- en dranksoorte irriteer die blaas (lees die kassie hierbo) en laat dit saamtrek. Hoewel alle kinders nie daardeur geraak word nie, is dit tog ’n goeie idee om jou oog te hou op hoeveel van hierdie kosse jou kind inneem – veral as sy droog is, maar nog glipsies kry. Sommige van dié middels kan tot 48 uur in die bloedstroom bly, sê Margaret.
  • MOET HAAR NIE WAKKER MAAK OM TOILET TOE TE GAAN NIE As jy kinders snags wakker maak om ’n draai te gaan loop, leer jy die blaas dat dit korrek is om hom snags te ledig. So skep jy ’n verkeerde patroon, waarsku Margaret.
  • MOENIE STRES NIE Die mense wat die meeste angstig is oor nagtelike droogheid, is die ouers wat haastig is om hul kind uit die doeke te kry.

Probeer dus maar om nie gespanne te raak of jou kind met ander te vergelyk nie. Wees rustig oor die saak en loof jou kind wanneer sy wel droog bly – dis die suksesvolste manier om Operasie Droë Nagte te laat slaag, sê Errol. 

Wanneer moet ek bekommerd raak?

Soek raad as jou kind ouer as vyf is en haar bed meer as een keer per week natmaak, veral as:

  • Jy of jou maat ’n geskiedenis van bednatmakery het;
  • Jou kind emosioneel ongelukkig is oor die bednatmakery;
  • Sy ’n geskiedenis van urienweginfeksie het;
  • Daar iets met haar nier of blaas verkeerd is; en/of
  • Sy oor die algemeen nie mylpale haal nie.