Teen die tyd dat julle dié woorde lees, is ons kuiken, Ben, al ampertjies vier maande in die “skool”. Op ouderdom drie jaar en vyf maande het hy die nes vir die eerste keer behoorlik verlaat. Geen oggende meer waar hy ’n uur of twee lank sorgeloos in die parkie naby ons huis kerjakker saam met Memory, sy onvervangbare versorger, nie. Geen storie-uur op Dinsdae by die plaaslike biblioteek nie. Geen kreatiewe (lees: morsige) aktiwiteite saam met sy tjommies by die weeklikse speelgroepie in die buurt nie.

Dis ’n traumatiese gedagte. Afgelaai by ’n speelskool met vreemde maatjies, losgelaat in ’n onbekende omgewing, oorgelewer aan ’n ongewone roetine waar ’n gegewe soos sy geliefde oggendslapie tussen halfelf en halftwee waarskynlik die eerste ding is wat in die slag gaan bly.

Uit die aard van die saak verstaan ek en Carla die situasie. Hierdie verloop van sake is immers onafwendbaar. Dit het net so vínnig op ons afgekom! Dis dán dat ’n mens sinne oor jou kind begin met: “Nou die dag nog was hy …” of “Dit voel dan soos gister dat hy …” Maar die tyd staan vir niemand stil nie.

Nou die dag sê Carla, iewers tussen half trots en half hartseer: “Ben is skielik ’n regte klein ménsie.” Sy is reg. Hy het voor ons oë – sonder dat ons dit werklik besef het – gróót geword. Die gewone nukkerigheid van ’n driejarige tersyde, want dié beleef ons steeds met reëlmaat, het ons seun eensklaps ’n wil en mening van sy eie ontwikkel.

Terselfdertyd het hy nou ook die vermoë om met sy ma en pa oor sake te redeneer – om sy kant van die saak te stel en argumente aan te voer, hoe onwaarskynlik ook al, wat ons ten gunste van sy siening probeer oortuig. As sy vertoë nie slaag nie, weet hy maar alte goed, is daar altyd ’n teatrale vloermoer om op terug te val – selfs al het ons vinnig geleer om in sulke gevalle nie bes te gee as die versoek onredelik is nie.

Ben het derhalwe ontwikkel tot ’n skikkingspesialis, ’n middewegmeester. As hy byvoorbeeld soggens sy klere vir die dag kies en die vorige dag se hemp uit die wasgoedmandjie haal, is hy skynbaar reeds met ’n plan gereed. “Jy kan nie wéér die Minions-hempie aantrek nie, my seun. Jy het dit gister gedra en dis nou vuil, want jy het daarop gemors toe julle die prentjies geverf het. Kyk, daar is oral verfkolle.” Dan dink hy ’n rukkie en sê: “Oukei, pappa. Ek nou dié hempie dra en eers dan ánder hempie as Meme (sy naam vir Memory) kom, reg so? Dis compromise, nè, pappa?”

Waar op dees aarde het hy dié woord gehoor? En, belangriker, hoe het hy geleer om dit in konteks te gebruik? Ek vermoed by sy ma, wat die ondankbare taak het om hom saans aan die eet te kry terwyl ek al tandeknersend in die spitsverkeer my weg huis toe probeer baan.

Noudat ek daaraan dink: Dit moet sy wees, want ek hét haar al in aksie gesien. “Jy kan net ’n treat kry as jy al die kossies op jou bord eet wat mamma spesiaal vir jou gemaak het. Hier is dus die compromise: Eet die laaste drie happies van die heerlike worsie en groente, dan gee ek vir jou ’n bakkie jogurt vir nagereg. Reg so?”

Dit werk soms; beslis nie altyd nie. Wat is dit in elk geval met kinders van dié ouderdom se eetgewoontes? Waar hy nog ’n maand of vyf gelede die bekkie soos ’n neskuiken oopgesper het vir als wat lepel- of vurksgewys sy kant toe kom, is daar nou skielik saamgeperste lippe en ’n heen en weer geskud van die kop.

Selfs iemand wat met die helm gebore is, sal sukkel om sy voor- en afkeure te voorspel. Nes jy dink die spyskaart is min of meer onder beheer, kom daar ’n bestelling wat jy nie verwag het nie. Dis gewoonlik vir iets wat jy op daardie spesifieke oomblik (weens tydsbeperking of gebrek aan bestanddele) glad nie kan berei nie. Dis asof hy wéét sy versoek gaan ’n vervaarde geskarrel in die kombuis veroorsaak. Nog erger is wanneer die smaaklike skepping wat met groot moeite en hope liefde gemaak is, met minagting uitgespoeg word (as dit wel tot binne die mond gevorder het).

My vrou is vas oortuig Ben is ’n vegetariër. Tans verkies hy sojaworsies en -burgers. Enige vleisgereg word, halfgekou, summier uit die mond gehaal en in jou hand gedeponeer. “Hierso, pappa, nou jy dit eet.” ’n Hel erger as destyds se doekdiens op ’n nugter maag, as my eerlike mening gevra word.

Daar is hy dus nou. Ons regte klein mensie. Kompleet met ’n hele netwerk nukke en grille, ’n magdom menings, eiesoortige idees en onverskrokke oortuigings. Net nou die dag nog, soos gíster, was hy baba Ben.