Só help jy jou linkshandige kleinding

akkreditasie
Voel jy soms asof jy 'n linkshandige kleinding in ‘n regshandige wêreld grootmaak?

Jy is dalk bekommerd oor hoe jy hulle kan help leer om te skryf, eetgerei te gebruik, ‘n instrument te speel of ‘n nuwe sport baas te raak. Is jy veronderstel om hierdie aktiwiteite vir hulle te wys deur self na jou linkerhand oor te skakel as jy dalk regs is? Of moet julle hulle los om dit vir hulself uit te werk?

Die belangrikste ding om te onthou is dat linkshandige kinders op presies dieselfde manier as regshandige kinders ontwikkel. Die dominansie van die een hand (of kant) oor die ander word deur die brein bepaal en word nie beïnvloed deur die manier waarop ‘n kind speel of deur na ‘n ander persoon, soos ‘n ouer, dop te hou terwyl hulle ‘n taak demonstreer nie. Kinders wat ‘n dominansie vir die een hand wys en dan gedwing word om die ander hand te gebruik, sal steeds uiteindelik alle aktiwiteite baasraak. Dit sal egter langer neem en hulle sal dalk nie so akkuraat soos hulle maats wees nie.

Hand, voet, oog en oor dominansie word bepaal deur die ontwikkeling van die brein se linker of regter hemisfeer. Tydens voorgeboortelike ontwikkeling, kruis senuwee van een kant van die brein om aan spiere aan die teenoorgestelde kant van die liggaam te verbind. ‘n Linkshandige persoon het dus bloot net ‘n beter ontwikkelde senuweenetwerk in die regterkant van die brein.

Handdominansie word gewoonlik eers teen die ouderdom van vyf vasgelê end it is heeltemal normaal vir jonger kleingoed om handjies te ruil terwyl hulle seker aktwiteite doen. Indien jy egter teen hierdie ouderdom steeds onseker is watter hand jou kind se sterker een is, kan probeer om hulle mooi dop te hou terwyl hulle uit ‘n bekertjie drink, ‘n skêr gebruik, ‘n bal gooi en teken of skryf.

Hand- en voetdominansie stem gewoonlik ooreen, maar daar is tog kinders vir wie dit nie die geval is nie en jy hoef jou glad nie daaroor te bekommer nie! Sommige mense is ook ewe gemaklik met albei hande. Dit is egter beter vir jou kind om een dominante kant te ontwikkel om fyn motoriese take vinniger en meer akkuraat te bemeester.

Dit is belangrik om te onthou dat die ontwikkeling van die potloodgreep in dieselfde volgorde plaasvind vir beide links- en regshandige kinders. Jy sal heel eerste sien hoe jou kleinding ‘n potlood met hul hele handjie vashou en hul skouer beweeg wanneer hulle teken of op ‘n papier krap. Kort daarna sal hulle die potglood tussen die punte van hul duim, wysvinger en middelvinger begin vashou. Teen die ouderdom van vyf behoort hulle reeds ‘n dinamiese drie-vinger greep soos ‘n volwassene te hê en fyn, beheerde bewegings te gebruik om die potlood te beweeg. Dit is altyd ‘n goeie plan om vir jou kleintjie ‘n verskeidenheid skryfbehoeftes te gee sodat hulle kan bepaal waarmee hulle gemaklike voel. Groter potlode sal jou kleinding nie noodwending help om beter te teken of skryf nie, maar ‘n potlood met ‘n driehoekige vorm moedig die korrekte potleedgreep aan.

Hou in gedagte dat dit heeltemal normaal is vir jou kind om met hul linkerhand te skryf en met hul regterhand te knip. ‘n Spesiale linkshandige skêr sal dit egter makliker vir hulle om hierdie vaardigheid aan te leer.

Onafhangend van watter hand jou kleinding gebruik, is dit altyd voordelig vir hulle om ‘n goeie postuur te probeer handhaaf terwyl hulle inkleur, teken of skryf. Jou kleintjie moet met hulle voetjies plat op die vloer, langs mekaar en vorentoe gedraai, sit. Moedig hulle aan om mooi regop te sit met hul skouers in ‘n reguit lyn. Hulle kan met hul kop effens vorentoe leun, maar nooit soveel dat hul borskas op die tafel rus nie. Die tafel se oppervlak moet sowat 5cm bokant hul elmboë wees en die afstand tussen hul oë en die boek behoort sowat 20cm te wees. Plaas die bladsy voor die middel van hul lyf en parallel met hul dominante hand se voorarm. Regshandige kinders kan die papier sowat 25 grade na links draai en linkshandige kleingoed sowat 35 grade na regs. 

Onthou, ongeag van jou kind se ouderdom is dit altyd ‘n goeie idee om jou kind aan te moedig om op hul maag te lê of regop te staan terwyl hulle teken! 

Myslimkind is Suid-Afrika se voorste program vir Vroeë Kinderontwikkeling (VKO). Kliek hier om aan te sluit by die program.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees