Speel klaar met peutergeite

akkreditasie
Raadop oor peuter-uitbarstings? Net soos noodhulp jou lewe kan red, is daar 'n paar beproefde tegnieke wat kan help keer dat jou peutertjie ontplof!

Dissipline bly een van ma’s se grootste bekommernisse. Hoe pak jy dit aan? En hoe doen jy dit reg?

Ons het vier basiese, maar belangrike benaderings uitgelig wat jou kan help: Hoe om slegte gedrag te vermy met proaktiewe strategieë, hoe om goeie gedrag slim te beloon, om minder belangrike oortredings te ignoreer en om jou kleinding se aandag af te lei van sy minder gewenste gedrag.

Vermy die ontploffing

Jou eerste stap is altyd om vloerstuipe en swak gedrag heeltemal te probeer vermy. Natuurlik is dit nie altyd moontlik nie, maar jy kan die gevaar van ’n reuse uitbarsting drasties verklein met ’n paar eenvoudige strategieë.

Hou die basiese  boustene in plek

Die kans dat ’n uitgeruste kleuter met ’n vol magie beheer verloor, is baie kleiner as wanneer hy honger en moeg is. Net so is ’n gestruktureerde en voorspelbare roetine die eerste treetjies na minder dissiplineprobleme.

Wees konsekwent

As jy kalm en duidelik is oor grense, sal jou kleuter weet waar hy staan. Of hy nou drie of 13 jaar oud is, elke kind wil weet watvan hom verwag word, wat aanvaarbare gedrag is en wat die gevolge sal wees as hy die grens na onaanvaarbare gedrag sou oorsteek. Moenie nee sê net om dit later na ja te verander omdat jou kind aanhou kerm nie – so pluk jy ’n lat vir jouself.

Maak dit maklik om soet te wees

Moenie jou kind onnodig in die versoeking lei nie. As jy verbode lekkergoed neersit waar hy dit kan sien, kan jy maar weet hy gaan heeltyd daaroor kerm; hou dit dus liewer buite sig. Moenie jou huis vol kosbaarhede pak wat hy nie mag aanraak nie – hy is immers ’n klein ontdekker. Hierdie beginsel geld regdeur jou kind se lewe.

Beloon goeie gedrag

Dis maklik om in ’n aanhoudende negatiewe dissiplinepatroon vas te val, maar probeer op die positiewe eerder as die negatiewe fokus. So voorkom jy baie dissiplineprobleme.

Een praktiese manier is om goeie gedrag te beloon met behulp van ’n beloningskaart. Dit werk so:

  • Stel a doel. Die doel moet konkreet, spesifiek en gepas vir jou kind se ouderdom wees, dus nie te moeilik of te maklik nie.Bly by een doel op ’n slag. Sê byvoorbeeld vir jou tweejarige: “Elke keer as jy in die potjie piepie, plak ons ’n sterretjie.” Te veel doelwitte maak hulle net deurmekaar.
  • Stel ’n mikpunt Sê: “Sodra jy 10 sterretjies het, kan ons iets spesiaals gaan doen.” Moenie ’n te moeilike mikpunt kies nie, anders kan jou kleinding moed verloor, maar probeer dit lank genoeg volhou dat dit die positiewe gedrag vaslê.
  • Besluit op ’n beloning, soos ’n spesiale uitstappie of ’n maatjie wat kom speel. Dit moet iets wees waarvoor hy bereid is om te werk.
  • Teken sy vordering aan Elke keer as hy in die potjie piepie, mag hy een sterretjie op sy beloningskaart plak. Hou hom betrokke. Dit is vir hom lekker en help hom gefokus bly as hy kan sien hoe hy vorder. Prys hom oor elke sterretjie en moedig hom aan om tot die einde vol te hou. Moenie te veel drama gooi as hy af en toe ’n fout maak nie.
  • As hy sy mikpunt en uiteindelik sy einddoel bereik, moet jy weer die verband tussen sy “harde werk” en die beloning bevestig: “Ons gaan Saterdag by Danie speel, want jy dié week so mooi in die potjie gepiepie! Mamma is trots op jou.”

Lei die aandag af

Om jou kleinding se aandag af te trek en hom ’n plaasvervanger-voorwerp te gee wat hom interesseer, is ’n baie nuttige manier om hom uit die moeilikheid te hou.

Terwyl ’n plaasvervangende aktiwiteit of voorwerp hom iets anders gee om sy handjies besig te hou, verskuif pogings om sy aandag af te trek sy fokus weg van die verbode item of aktiwiteit.

  • Plaasvervangers Die idee is om jou japsnoet se energie in ’n meer aanvaarbare rigting te kanaliseer. As jou kleinding dus besig is om sy drinkbekertjie rond te skop, neem hom liewer buitentoe en gee hom ’n bal om te skop. Of as hy byterig raak en aan jou wil knaag, hou ’n beskuitjie byderhand en gee dit vir hom sodra hy wil byt terwyl jy sê: “Mamma kry seer as jy my byt. Byt liewer hieraan.” As hy in die huis rondhardloop, neem hom liewer buitentoe waar hy na hartelus kan hardloop.
  • Aandagaftrekking Wie het nog nie die “waar’s die voëltjie?”-tegniek beproef om ’n peuter se aandag van sy eie gehuil of ’n minder gepaste item af te trek nie? Aandagaftrekking is ’n vinnige en taamlik maklike manier om hom uit die moeilikheid te hou sonder dat konflik ontstaan. Dit werk goed omdat kinders van hierdie ouderdom se aandagspan in elk geval baie kort is. Gestel jou kleuter is besig om die blare van jou blomme af te trek. Eerder as om te raas, kan jy vra hy moet jou kom help om die blomme nat te lei.

Hierdie tegnieke werk goed vir taamlik ongekompliseerde situasies, maar ander sal ’n fermer tegniek vereis.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees