Speel slim met syfers

akkreditasie
Maak jou kind van kleins af al spelende lief vir wiskunde.

Wiskunde gee nie maagpyn nie – veral nie as jou peuter dit sommer saam met moedersmelk inkry nie! Die geheim is om jou spruit klein-klein en baie speels aan die wonderwêreld van syfers bekend te stel. Hier is ’n paar prettige speletjies.

Tel

Die slim mense onderskei tussen twee soorte tel: ritmiese tel, waar jou kind 1,2,3 en verder tel asof dit ’n rympie is wat hy uit sy kop ken en opsê; en tel met begrip, waar jou kind vir jou kan wys dat die woordjie beteken dat daar twee blommetjies of twee blokkies is. Albei soorte is belangrik vir latere wiskundige vaardigheid. ’n Grondbeginsel wat jou kind moet baasraak, is dat elke “tel” een voorwerp verteenwoordig en dat ’n mens dus elke ding net een keer moet tel.

Daarom is dit uiters belangrik om dinge vir die kleinspan altyd konkreet te maak deur hulle aan te raak, hul lyfies te betrek of hulle iets te laat aanraak. Tel alles in jul huis hardop, van die messe en vurke as julle teddiebeerpiekniek hou tot die badspeelgoed met badtyd.

Deel koekies uit

Een vir jou, een vir my, een vir Teddie! Twee vir jou, twee vir my, twee vir Teddie! Drie vir jou, drie vir my, drie vir Teddie!

Bou 'n toring

van blokkies of stapelkoppies en tel terwyl julle dit doen: een blokkie/koppie, twee blokkies/koppies ... Slaan die toring dan om en sê: “nul koppies!”

Ryg krale

Ryg saam-saam groot krale aan pypskoonmakers terwyl julle tel: Een kraletjie, twee kraletjies ... As julle almal klaar geryg het, maak jou armband toe deur die pypskoonmakers inmekaar te vleg en tel dan al die krale op die armband.

Gebruik aanvanklik net twee kleure en moedig kleinding aan om patrone te vorm (een rooi, een blou) – hy sal dit waarskynlik nog nie kan doen nie, maar dis later ’n belangrike wiskundige bousteen. Julle kan ook die kleure benoem.

Swaaipret

Stoot jou kleinding op die swaai en tel hardop elke keer as jy haar swaai.

Sing telliedjies

wat vorentoe en ook terugtel (dis net so belangrik, want dit help later met aftreksomme), soos Vyf Dinosourusse Spring op die Bed (op Anna Davel se Kammalielie-CD), Tien Klein Paddatjies of Eendjies, Eendjies, Stap in ’n Ry. Enige telliedjie werk, veral as jy dit prakties kan demonstreer.

Maak saam 'n getalleboek

Skryf of plak die getal 1 en dan moet kleinding een mooi prentjie soek. Skryf en plak 2 en dan plak jy byvoorbeeld twee skoene daarby. Glip dit in ’n lêer met plastiekkoeverte.

Doen al die getalle tot by 10 en laat jou woelwatertjie gereeld self deur sy boekie blaai terwyl julle saam tel: een bal, twee skoene, drie perde ... So brei julle sommer sy woordeskat ook uit.

Blaas seepbelle

en tel elke borrel wat jou kind met haar handjies stukkend klap.

Klei-nommers

Rol slangetjies van klei en vorm dit bo-oor ’n syfer wat op papier uitgedruk is terwyl jy sê: “Kom ons maak hierdie drie.”

Tel en gooi

Sit ’n hopie watteballetjies of klein sponsies op die tafel neer. Gee vir jou slimkop ’n klein tangetjie waarmee hy die watteballetjies kan optel en dit in ’n bakkie kan gooi terwyl julle tel hoeveel hy ingooi. Jy sal die meeste van die telwerk doen, maar so hoor hy die woordjies en begin dit met tel verbind. Dit sal ook sy vingerspiere oefen.

Speel lyfspeletjies en -rympies

met jou kleinding sodat hy hoeveelhede aan sy eie lyfie kan voel. Helena Wasserman se Wie Is Dit? is perfek hiervoor:

Wie het twee handjies,
en spierwitte tandjies? (Raak aan albei
handjies en dan aan sy mondjie)
Wie het twee beentjies,
en ook twee hakskeentjies? (Raak aan
albei sy beentjies en dan sy hakskene)
Wie het twee ogies,
en vet elmbogies? (Raak daaraan ook)
Is dit die hond? Is dit die katjie?
Is dit die stoel? Of die deurmatjie?
Is dit lemoene? Is dit spanspekke?
Nee, julle almal, dit is mos ekke!

Of tel jou kind se vingers en tone:

Eerste Varkie Parkie het gaan boer, boer,
boer! (dis een!)
Tweede Varkie Parkie het die mieliepap
geroer (dis twee!)
Derde Varkie Parkie plant die wortels en
die beet (dis drie!)
Vierde Varkie Parkie het van alles iets
geweet (dis vier!)
Maar Vyfde Varkie Parkie wou net vreet,
vreet, vreet! (kielie sy magie)

LW!

Dis baie belangrik dat wiskunde vir jou kind pret is – anders gaan dit hom beslis later maagpyn gee. Moenie jou peutertjie afrig nie, maar gebruik gewone spel om die verskillende begrippe terloops aan hom bekend te stel.

Soek die getal

Giet ’n koppie rys en twee tot drie druppels voedselkleursel saam in ’n toerits-plastieksakkie en vryf dit tot al die rys gekleur is. Laat die sakkie oornag oop staan sodat die rys droog word.

Maak dan ’n plastiekbottel half vol gekleurde rys. Plaas verskillende syfervormpies soos ’n dik 2 van skuimrubber, karton of metaal in die bottel. Die syfers moet verkieslik van dieselfde kleur wees sodat jou kind nie dink 2 is ’n kleur nie! Julle kan ook ander speelgoed ingooi.

Skud dit en kyk wat julle sien. As dit ’n 2 is, benoem dit: Dis ’n 2! Jy kan ook syfers op afsonderlike kaartjies skryf en dan vir jou kleinding die kaartjie met die 2 op wys en sê: “Kom ons soek hierdie een. Dit is die twee.” Help hom die botteltjie manipuleer om dit te vind.

Springpret

Maak groot syfers tot by 5 uit karton en sit dit op die vloer neer. Sit vrolike musiek op en beweeg van syfer na syfer. By die 1 spring jy en jou japsnoet een keer in die lug, by die 2 twee keer, ensovoorts. Kyk of hy na ’n rukkie self kan agterkom waar hy twee keer moet spring en waar drie keer. Julle kan ook bollemakiesie slaan of in die rondte draai.

Bordkrytpret

Teken met bordkryt ’n ry sirkels of blokke op plaveisel en binne-in elke sirkel of blok ’n ander getal van 1 tot 5. Laat jou japsnoet met ’n boontjiesak in elke sirkel probeer gooi. As hy in die 5 gooi, kry hy vyf Smarties, en as hy in die 1 gooi, kry hy een. Die 1 moet makliker wees om raak te gooi as die 5, anders sal hy dit net in die 5-sirkel probeer gooi!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees