Sukkel met potjielesse

akkreditasie
Maak dit saak as 'n driejarige nog nie potjielesse onder beheer het nie? 'n Kenner antwoord.

Vraag:

My kind is nou drie en ’n half jaar oud. Ons is nou al ’n paar maande lank met potjielesse besig, maar kom nie juis êrens nie. Ek raak nou bekommerd, want al die ander kinders van haar ouderdom het potjielesse al onder die knie. Het my kind ’n probleem? Wat kan die oorsaak wees?

Antwoord:

Elke kleuter het ’n unieke temperament en daarom is daar nie ’n regte manier of ’n regte tyd om te leer nie. Kinders bemeester potjielesse op verskillende ouderdomme, en dis hoekom verskillende benaderings vir elkeen werk.

Soos met enige ander ontwikkelingsmylpaal is daar aspekte van ontwikkeling wat bemeester moet word voor potjielesse aangepak kan word.

As jou antwoord “ja” op al die volgende vrae is, is die kans goed dat jou kleuter se potjielesse gaan slaag: Is jou kleuter minstens twee uur lank droog, of is sy ná ’n dagslapie droog?

  • Weet jou kleuter wanneer sy urineer of ’n dermbeweging het? Soms gebruik hulle woorde soos “piepie”, “poepoe” of “potjie”. Ander kere hou hulle op waarmee hul besig is, gaan na ’n ander kamer of hurk agter ’n bank. Dit is ’n baie belangrike mylpaal, want as jou kleuter nie daarvan bewus is nie, gaan jul potjielesse onsuksesvol wees.
  • Kan jou kleuter stap, afbuk en opstaan (soms met hulp) en ook haar broekie aftrek?
  • Kan jou kleuter eenvoudige opdragte volg en ken sy woorde soos potjie, toilet, toiletpapier, hande was en basiese liggaamsdele?
  • En die belangrikste: Is jou kleuter gemotiveer om die potjie of toilet te gebruik? Boots jou kleuter jou na deur ook op die toilet te gaan sit, haal sy haar doek af veral as dit vuil is, en noem sy dat sy onderklere wil dra pleks van ’n doek? Selfs al is die boustene hierbo in plek, is dit nie wenslik om in die volgende omstandighede met potjielesse te begin nie:
  • Tydens ’n groot verandering soos ’n nuwe bababoetie of -sussie, ’n verandering van huis of kleuterskool, of selfs ’n juffrou of versorger;
  • Wanneer jou kleuter van ’n bababedjie na ’n groot bed geskuif word;
  • ’n Familiekrisis soos dood, egskeiding of enige situasie wat trauma veroorsaak het; of
  • Ná afloop van ’n ernstige siekte. Jou kleuter se unieke sensoriese temperament speel ’n rol. Elke kleuter het ’n
    unieke manier waarop sy inligting van haar lyfie en die omgewing verwerk en interpreteer. Sensitiewe kleuters is soms van die eerstes wat suksesvol is met potjielesse. Nat en vuil doeke pla hulle en hulle leer gou hoe dit voel as hul blaas of derm vol is.

As hulle egter te sensitief is, hou hulle dalk nie van die gevoel wanneer hul blaas en derm leeggemaak word nie. Dit beteken dat hulle soms urine en stoelgang terughou, wat komplikasies kan inhou.

Kleuters wat minder sensitief is, het soms meer tyd nodig om potjielesse onder die knie te kry. Hierdie kleuters kom nie altyd agter as hul blaas of derm vol is nie, en glipsies kom gereeld voor.

Ek dink nie dit is toevallig dat die ouderdom wanneer ons potjielesse aandurf, juis ooreenstem met die tyd wanneer kleuters selfregulering ontwikkel nie. Kleuters moet leer hoe om hul liggaam, emosies en denke te beheer.

’n Magstryd tussen ouers wat beheer probeer uitoefen en kleuters wat teen eksterne beheer protesteer is normaal, maar kan potjielesse moeiliker maak. Hanteer potjielesse daarom op ’n gemaklike manier – sonder om te veel van ’n ophef daaroor te maak.

Dink aan potjielesse as ’n proses waartydens jy sowel as jou kleuter verantwoordelik is vir verskillende takies; jou
kleuter moet haar kant ook bring, en kan dit slegs doen as die boustene in plek is.

Jou belangrikste rol as ouer is om ’n warm en empatiese omgewing te skep waarbinne hierdie lewensvaardigheid geleer kan word. Dit beteken dat jy:

  • Erken dat jou kleuter in beheer is van haar eie lyfie;
  • Die items voorsien wat potjielesse suksesvol maak, soos ’n klein potjie, stoeltjie of toiletsitplek;
  • Glipsies verwag en sonder uitbarstings hanteer; en
  • Straf of oordrewe lof tydens die proses vermy.

Jou kleuter se aandeel in hierdie proses is:

  • Om te leer hoe dit voel as haar lyfie die toilet benodig; en
  • Om potjielesse te bemeester sodra sy kan.

As jy steeds bekommerd voel oor jou dogtertjie se vermoë om potjielesse te bemeester, is dit ’n goeie idee om ’n afspraak by ’n pediater te maak. Dit sal ook van waarde wees om ’n sielkundige en/ of arbeidsterapeut te raadpleeg. 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees