Teen jou kleinding se eerste verjaardag kan sy al met omtrent agt tandjies spog, en in die loop van die jaar sal sy nog ’n hele klompie ryker word. Kort voor haar tweede verjaardag volg haar oogtande gewoonlik, en daarna die kiestande, wat meestal vroeg in die tweede jaar verskyn. Uiteindelik sal jou kind 20 melktande hê wat bly sit tot sy ses of sewe jaar oud is. Daarna begin sy hulle vir 32 permanente tande verruil. 

Maar al is melktande tydelik, bly die versorging daarvan uiters belangrik, sê dr. Hennie Bothma, ’n tandarts van Germiston aan die Gautengse Oos-Rand. “Jou kind se babatande is plekhouers vir haar permanente tande. Hulle stimuleer ook beengroei en ontwikkeling van die kakebeen. En nes grootmenstande kan slegte tandjies absesse kry en baie seer wees – daarom moet jy maar mooi na die tande omsien en alle gaatjies moet gestop word,” sê Hennie.

Plaak en soetgoed bly tande se grootste vyand en die enigste manier om jou kind daarteen te beskerm is met ’n goeie tandeborselroetine, is sy raad.

Hoe om te borsel

Jou peuter sal haar tande waarskynlik self wil borsel. Jy kan dit gerus aanmoedig sodat sy die vaardigheid kan baasraak, maar jy moet steeds die uiteindelike verantwoordelikheid aanvaar omdat sy nog nie al die fyn motoriese vaardig­hede het wat nodig is om behoorlik te borsel nie. 

Borsel elke tandoppervlak in haar mondjie. Dit verwyder voedseldeeltjies wat dalk tussen of in die tande vassit en tandbederf-bakterieë kan laat groei. Borsel die buite- en binnekant van haar tande met klein sirkelbewegings en die bytoppervlaktes met kort heen-en-weer-bewegings. Borsel ook die tong liggies. Leer haar om haar mond skoon uit te spoel sonder om tandepasta in te sluk. Vlos haar tande gereeld.

Superwenk

Maak ’n speletjie van tande borsel deur ’n kookwekker te stel en jou kind aan te sê om tande te borsel tot dit lui. Daarna stel jy dit weer en is dit jou beurt om te borsel tot dit lui. Jy kan dit op sowat drie minute stel.

As sussie nie borsel nie

As jou kleinding haar kakebeentjies opmekaarklem wanneer jy die tandeborsel nader bring, kan dit ’n reuse-magstryd afgee. Dan moet jy ’n plan maak.

Plan 1

Gaan koop saam ’n tandeborsel

Dis belangrik dat jou peuter se tandeborsel die regte grootte vir haar mond is sodat julle die nodige plekkies met gemak kan bykom sonder om haar seer te maak. Belê in ’n klein, sagte rondepuntborsel van gehalte. Hoe sagter die haartjies, hoe minder skade kan dit aan die tandvleis en tande aanrig. Moenie bang wees om een te koop wat soos haar gunsteling-TV-karaktertjie lyk nie.

Plan 2

Lekker tandepasta

Sommige kinders hou nie van die smaak van tandepasta nie. Beproef gerus ’n paar handelsname. “Kinders aanvaar spesiale kindertandepasta oor die algemeen makliker,” sê Hennie. Daar is ook die uitsonderings wat grootmenstandepasta verkies!

Plan 3 Borsel saam tande

Staan saam langs die spieël en laat sy jou naboots. Borsel dan stelselmatig saam – jy kan haar ook vra om jou tande te borsel, en dan borsel jy weer hare.

Plan 4 Laat haar self borsel

Dikwels verkies jou kind dit om self te borsel. Laat haar eers self borsel en dan kan jy die afronding doen – speel gou en benut die geleentheid om haar tande deeglik te borsel.

Plan 5 

’n Elektriese borsel

’n Elektriese tandeborsel fassineer klein kindertjies en sal jou peuter baie magtig laat voel. Verskeie studies het boonop getoon dat elektriese tandeborsels oor die algemeen plaak makliker verwyder en die tandvleis stimuleer. Jou kleinding hanteer dit ook makliker en dit werk baie vinniger.

Plan 6

Praat haar bang oor slegte tande

Gaan biblioteek toe of koop ’n boek oor tandemonsters wat die gevolge van vuil tandjies uitspel.

Laaste uitweg 

Die lappie-benadering

As jou kleinding regtig steeks is, kan jy haar tande met ’n skoon stukkie lap of gaas skoonvee terwyl sy slaap. Dis egter nie die ideaal nie, sê Hennie. “Dit werk goed met babas, maar sodra daar meer tande met gleufies en groefies tussenin verskyn, is ’n borsel beter.”

Getty Images
Getty Images

Nog antwoorde op tande-vrae

V: Moet ek ’n fluoriedaan­-vulling gee?

A: Tandartse het lank gemeen fluoriedpilletjies help om tande te versterk, maar navorsing het nou bewys dis eintlik onsin, sê Hennie. “Fluoried wat gesluk word, doen niks aan die tand nie. Die fluoried in tandepasta is wel baie belangrik.”

V: Is kindertandepasta ’n moet?

A: Daar is geen rede waarom kinders nie gewone tandepasta kan gebruik nie, solank hulle dit nie eet of insluk nie en dit nie hul mondjies brand nie. “Te veel fluoried is nie goed nie en kan lei tot tandfluorose en tandverkleuring. Maar as hulle groot genoeg is, kan hulle gootmenstandepasta gebruik,” sê Hennie. Sowat ’n ertjiegrootte word aanbeveel.

V: Wanneer moet ons die eerste keer tandarts toe?

A: As jou kind gesonde tande het, moet sy van twee jaar oud af gereeld tandarts toe gaan, sê Hennie. Dis wanneer sy al haar melktande het. “Jy kan self ook ’n ogie hou en vroeër ’n afspraak maak as jy tandprobleme oplet.”

V: Speel dieet ’n rol?

A: Vir gesonde tandontwikkeling het jou peuter genoeg kalsium nodig. ’n Goeie keuse vir tussenin-happies is dus melk, kaas en vars vrugte. Vermy enigiets wat baie suiker bevat. Selfs sogenaamde gesonde kosse soos droëvrugte en vrugtestafies bevat baie suiker en kan tandbederf aanhelp; so ook te veel stysel. As jou kind wel lekkers eet, is die geheim om dit vir haar ná ’n maaltyd te gee sodat sy direk daarna kan gaan tande borsel.

V: Wat is die grootste oorsaak van tandbederf by peuters?

A: Seker die algemeenste fout wat ouers begaan is om hul kind met ’n bottel vol melk, sap of soet rooibostee aan die slaap te maak, sê Hennie. “Dit veroorsaak kwaai tandbederf. As jou kind met ’n bottel moet gaan slaap, gee dan net water. Selfs melk bevat baie suiker.”

V: En as haar tandjie skeef is?

A: Daar is min wat jy kan doen as baba­tandjies skeef uitkom, maar dit gebeur selde, sê Hennie. “Skewe tande draai gewoonlik ná ’n rukkie self reg.” Dit beteken ook nie noodwendig dat die permanente tande skeef sal uitkom nie – ”maar dit kan beteken dat daar te min plek vir al die tande is, sodat dieselfde wel ook met permanente tande kan gebeur.”

WENK

Dis dikwels makliker om jou kleinding se tande te borsel as jy skuins agter haar staan en haar kop effens na agter buig.