Wat doen jou peuter as jy onver­wags haar handjie van haar lyfie af wegtrek? Bied sy ’n bietjie weerstand of is haar armpie heeltemal slap?

En hoe voel sy as jy haar optel? Voel sy besonder swaar vir haar klein lyfie? As jy aan haar spiere vat, voel dit heeltemal pap? Of staan jy en jou maat telkens verstom oor hoe slap sy is en hoe ver terug haar gewrigte kan buig?

Sukkel sy dalk om haar kos te kou of woordjies duidelik uit te spreek? Kwyl sy buitengewoon baie?

Raak sy besonder gou moeg van fisieke aktiwiteite? En is haar gunsteling-sitposisie met haar sitvlak plat op die grond en haar beentjies weerskante van haar lyfie uitgebuig soos ’n W?

Dink verder terug: Was sy ’n besonderse pap baba en het sy meer as ander babas gesukkel om haar koppie reg te hou?

Het sy meer as normaal gesukkel met borsinfeksies? Dit gehaat om op haar maag te lê? Het sy die maklike suig van ’n bottel bo die har­der werk van borsvoeding verkies?

As die meeste hiervan vir jou bekend klink, het jou peuter waarskynlik lae spiertonus en is dit belangrik dat jy professionele raad inwin. Gesels met die dokter of maak ’n afspraak by ’n arbeids­terapeut om jou kind te laat evalueer.

Het jy geweet?

Kenners onderskei tussen lae spiertonus (hipotonie) en spastisiteit (hipertonie of verhoogde spierspanning). Lae spiertonus is meer algemeen. Hipertonie word gewoonlik binne die eerste 18 maande gediagnoseer en word gekenmerk deur besonder stywe of rigiede spiere in al die ledemate of in een deel van die lyf.


Wat is spiertonus?

Spiertonus is die vermoë van ’n spier om krag te weerstaan en gereed te wees virak­sie, skryf die Jeffreysbaaise arbeidsterapeut Nika Oberholster in haar boek Intelli-Moves.

Sy verduidelik: “?’n Spier kan te ont­spanne of te gespanne wees. As ’n spierte gespanne is, praat ons van lae spiertonus. Hierdie spiere voel sag en swaar. As jy ’n kind moet optel wat lae spiertonus het, kan dit voel of jy ’n sak aartappels optel, want jou kind se liggaam berei haar nie daarop voor dat sy opgetel gaan word nie – en jy kan die verskil voel. As jy teen jou kindse skouers leun, sal jy geen weerstandvoel nie.”

Elrie Maree, ’n arbeidsterapeut van Port Elizabeth, praat van ’n konstante staat van gereedheid wat nie net diespiere betrek nie, maar die hele neuro-spier­stelsel, en wat die liggaam in staat stel om sy postuur in ’n rustende posisie teen swaartekrag te hou, sowel as om bewegings uit te voer.

“Jou kleinding se spiertonus behoort ferm te wees, maar nie so ferm dat dit rigied is en moeilik is om byvoorbeeld haar elmboog te buig nie,” verduidelik sy.

“Lae spiertonus behels die verlies aan ondersteunende spierspanning. So ’n kind sal dus meer aktief moeite moet doen om ’n bewegingspatroon te begin en vol te hou as ander kinders.”

Kinders met lae spiertonus se spiere voel sag en pap en hulle is dikwels slaplittig, sê Elrie.

As ’n kind dit moeilik vind om inligting vanaf haar spiere of gewrigte te verwerk, kan haar arms en bene swaar voel en is dit moeilik om haar te begelei deur aktiwiteite soos skoene aantrek of om haar op tel, sê sy.

“Hulle verkies dit ook gewoonlik om binne te speel en vermy dit om aan fisieke speletjies of sport buite deel te neem.”

Lae spiertonus kan al die spiere indie liggaam aantas, skryf die Durbanse fisioterapeut Pamela Dawson in haar boek Low Muscle Tone in Children.

Swak spiertonus van die stembande kan byvoorbeeld veroorsaak dat ’n baba swakkerig huil, en die tipiese gebrek aan stamina kan veroorsaak dat baba baie slaap.

Net so is dit vir ’n baba met lae spiertonus baie harde werk om te suig en te sluk en kan hulle dus bottelvoeding verkies.

Die lae tonus van die diafragma kan dit vir hulle moeiliker maak om doeltreffend asem te haal en te hoes, en hulle kan dus meer tot lugweginfeksies geneig wees.

Selfs die fyn spiere van die voet word geraak en kan plat voete veroorsaak.

Maak spiertonus saak?

Elrie verduidelik dat onbehandelde lae spiertonus ’n kind later in haar lewe behoorlik kan inhaal.

“Dit beïnvloed die aantal en gehalte van bewegings wat jou kind uitvoer. Dit kan veroorsaak dat sy nie dieselfde sensoriese en motoriese ervarings as ander kinders het nie. Dié ervarings is nood­saaklike boublokke vir latere sosiale en emosionele vaardighede asook akademiese vordering.”

’n Mens moet byvoorbeeld ’n regop posisie kan handhaaf as jy sit, staan of loop sodat jy ingewikkelder bewegings met jou arms of hande kan uitvoer sonder om moeg te word. Die regte spiertonus help ’n regop posisie handhaaf sodat jy meer doeltreffend kan fokus op fyner vaar­dighede soos lees en skryf, netjies eet en aantrek.

’n Kind met lae spiertonus lyk dikwels swak en word vinnig moeg omdat sy haar so moet inspan om net haar kop en lyf teen die swaartekrag regop te hou, sê Elrie.

Ironies genoeg lyk kinders met lae spier­tonus dikwels hiperaktief, al hou hulle nie van beweging nie. Dis omdat hulle heeltyd wieg, wriemel, swaai of van posisie verander in ’n poging om hul lig­gaam regop te hou.

Hoe laer die spiertonus, hoe meer moeite is dit vir jou kind om aan aktiwiteite deel te neem, verduidelik Elrie. Hulle probeer vir hul lae tonus vergoed deur hul lyfie styf te hou, of deur hul basis te verbreed wanneer hulle sit sodat hulle hul arms en hande kan gebruik om te speel. Dit doen hulle dikwels deur in ’n W-posisie te sit. Hoewel dié posisie hul gewig eweredig oor hul sitvlak, bene, enkels en knieë versprei, is dit nie goed vir die ontwikkeling van balans en postuurbeheer nie.

Ouer kinders met spiertonusprobleme sukkel dikwels met ’n swak postuur, lomp­heid en balans, en kan dit moeilik vind om regop te bly sit terwyl hulle skoolwerk moet doen. Hulle stut dikwels hul kop op een arm terwyl hulle skryf, of lê teen iets om hulle te help om regop te bly.

Hulle word dikwels ook gou moeg, het ekstra tyd nodig om take te voltooi en sal liewer voor die TV of rekenaar sit as fisieke aktiwiteite onderneem.

Hulle kan ook met die regte uitspraak van woorde sukkel omdat die spiere om hul mond swak is.

Dit kan alles lei tot swak skoolprestasie en selfs selfbeeldprobleme. Dis nie dat hierdie kinders nie suksesvol kan wees nie; maar hulle moet meer moeite doen om sukses te behaal.

Hoe vroeër ouers dus ingryp en werk maak van swak spiertonus, hoe beter.

Wees versigtig

Moenie ’n kind met lae spier­tonus aan haar hande swaai ofoptrek nie – dit kan haargewrigte laat uithaak.

Oefeninge wat help

Die goeie nuus is dat lae spiertonus in die meeste gevalle met behandeling verbeter kan word.

Elrie sê baie kinders word met lae spiertonus gebore en as daar geen onderliggende mediese oorsaak soos Down-sindroom, spierdistrofie of serebrale gestremdheid is nie, kan die situasie dikwels reggestel word.

Ironies genoeg lê die sleutel tot beter spiertonus by beweging, iets waarvan jou japsnoet met lae spiertonus nie juis vrees­lik baie hou nie!

Jou rol as ouer is dus om haar speel-speel so ver te kry om meer te beweeg en haar spiertjies so te versterk. Hoewel spiertonus en spierkrag nie dieselfde ding is nie, kan sterker spiertjies jou kind met haar laer tonus help.

Moenie enigiets vir jou kind doen wat sy self kan doen nie, is die raad van Liz Victor en Melodie de Jager in hul boek Speel, leer, slim.

“Spiertonus ontwikkel wanneer ’n kind haar eie liggaamsgewig teen die trekkrag van swaartekrag gebruik. Laat haar beweeg, goed trek en optel, iets stoot en aan goed hang,” stel hulle voor.

Jou eerste prioriteit is altyd om by ’n arbeidsterapeut of pediater aan te klop sodat julle ’n professionele program kan kry, maar jy kan ook heelwat tuis doen om jou kind se spiertonus te verbeter.

  • Laat jou peuter gereeld in verskillende posisies lê. Op haar magie kry maag- en rugspiere oefening, en op haar rug word haar nekspiere sterker.
  • Moedig haar aan om te kruip, al kan sy al loop. Kruip ontwikkel die spiertonus van die hande en die skouergordel.
  • Moedig haar aan om op ’n klimraam te speel – dis wonderlike oefening vir spiertonus en -krag. Begelei haar as sy onseker voel.
  • Laat haar op ’n handdoek sit en trek haar in verskillende rigtings oor ’n gladde oppervlak.
  • Laat haar op ’n hobbelperdjie ry.
  • Trampolien spring is uitstekende oefening. Moedig begin-en-stop-aktiwiteite aan. Sy kan byvoorbeeld begin spring wanneer die musiek speel en stop asdit ophou. Verandering van bewegings­patrone maak die spiere lekker sterk.
  • Laat haar heen en weer oor verskillende oppervlaktes soos die gras en ’n mat rol.
  • Doen oefeninge wat haar spiere inspan sowel as laat ontspan. ’n Goeie lyfmassering laat die spiere ontspan.
  • Laat haar met blokkies van verskillende groottes en gewigte speel sodat haar spiere verskillende grade van weerstand ervaar wanneer sy dit optel.
  • Moedig simmetriese bewegings aan sodat die kop-en-skouer-bewegings met die heupe balanseer. Laat haar ’n verskeidenheid speelgoed stoot, trek en optel. ’n Klein kruiwa waarin sy sand of speelgoed kan laai en afgooi, word aanbeveel.
  • Laat jou kleinding kruisbeen op ’n telefoongids sit. Sy sal dink dis snaaks en terselfdertyd laat dit die nodige spiere teen swaartekrag werk en skakel dit onnodige spanning op die gewrigte uit.
  • Laat haar deur ’n strooitjie drink sodra sy kan (of laat haar borrels blaas) – dit gee haar gesigspiere oefening, wat op hul  beurt met spraak en eet help.

Herken lae spiertonus

Jou kleinding met laer spiertonus ...

  • se skouers is gerond en haar agterste skouerbene steek kwaai uit.
  • se magie staan baie boep.
  • hou haar rug hol en haar bekken effens vorentoe gedruk.se knieë en elmboë is slaplittig.
  • se voete is besonder plat en die enkels draai na binne.
  • maak swak oogkontak.
  • se ken staan uit terwyl sy sukkel om haar lippe toe te hou.
  • haal vlak en met ’n oop mond asem.
  • sukkel om ’n posisie te handhaaf.
  • staan altyd met haar bene wyd uitmekaar.
  • soek altyd iets wat haar lyfie kan steun of waarteen sy kan leun.