Daar is een ding wat jy in gedagte moet hou wanneer jy die groot skuif na ’n grootmensbed aandurf: Moenie haastig wees nie.

As jou peuter nie wil nie, en sy kot is nog groot en veilig genoeg, laat hom gerus voortgaan om daarin te slaap. As hy egter al begin uitklim, is dit beslis tyd om die oorgang te maak, want hy kan sleg val as sy voet met die uitklimslag vashaak.

Ander redes om die skuif te oorweeg sluit in dat die kot te klein geword het en hy met sy kop of voete teen die kante wakker word, of dat julle die kot nodig het vir ’n nuwe baba wat kom. Onthou altyd dat die oorgang van kot na bed met hope liefde en geduld hanteer moet word.

As ’n nuwe baba die rede vir die skuif is, doen dit ’n goeie paar maande voor dit werklik nodig is. Anders moet julle liewer wag tot die nuwe baba al ’n paar maande in die huis is. ’n Nuwe boetie of sussie gaan jou kleinding se wêreld omkeer. As hy in dié onseker tyd nog sy veilige slaapplek ook saam met sy enkelkindstatus verloor, gaan dit regtig vir hom ’n slag wees.

Besluit daarom mooi oor die tydsberekening. Kies ’n rustige tyd in sy en jul lewe sodat die omwenteling tot die minimum beperk kan word. Moet liewer ook nie twee vlieë met een klap probeer slaan nie ... Dis nie ’n goeie plan om tegelyk van bed te verander en terselfdertyd die fopspeen ook weg te gee nie. Een treetjie op ’n slag maak die proses so pynloos moontlik. Sorg daarby dat jul slaaptydroetine goed gevestig is. Dit skep die raamwerk van sekuriteit waarbinne julle die veranderinge kan aanpak.

Maak dit pret

Skaf ’n mooi bed en beddegoed aan en maak die nuwe slaapplek so aantreklik moontlik. As hy nie vanself vuur en vlam is om daar te slaap nie, kan julle solank begin om met middagslapies daar te lê, of met storietyd saam daar boek te lees.

Maak seker die bed voel vir hom veilig deur byvoorbeeld ’n reling aan te bring (daar is ’n verskeidenheid op die mark), of ’n stoel of twee teen die bed te skuif, of kussings op die vloer neer te sit. As die hoogte jou of hom angstig maak, kan julle ook begin met ’n matras op die vloer. Onthou ook om sy kotspeelgoed saam na die nuwe bed toe te trek. Hierdie troosvoorwerpe laat die nuwe omgewing bekend voel.

Die eerste aand

Maak seker hy’s sommer lekker moeg! Gaan swem die middag of bring baie tyd in die buitelug deur. Moet egter nie die laaste uur of wat voor slaaptyd te vol pak nie. Jy wil hê hy moet moeg wees, maar nie oorgestimuleer nie.

Volg dan jul normale aandroetine, maar doen dit met ekstra liefde en tyd. Moet niks jaag nie. Oppas om die roetine te verander deur byvoorbeeld by hom te lê, want dan gaan hy dit elke aand verwag.

Teen dié tyd ken jy ook jou kind. As hy goed reageer op ’n groot bohaai, maak dan ’n groot bohaai van die skuif. Neem foto’s en wens hom geluk en vertel vir almal daarvan waar hy jou kan hoor. As hy enetjie is wat beter reageer wanneer dinge sonder veel bespreking stil-stil en outomaties deurgevoer word, tree dan daarvolgens op.

Slaapomgewing

Gee aandag aan sy slaapomgewing om die verandering minder traumaties te maak. Probeer die bed op dieselfde plek inrig as waar sy kot gestaan het. Dis nie altyd moontlik nie, maar as dit kan, sal dit hom help om nie gedisoriënteerd te voel wanneer hy wakker word nie. ’n Nuwe bed se matras kan baie anders voel.

Maak goeie keuses sodat hy baie gemaklik sal wees. Katoenbeddegoed is die beste vir kleingoed. Die nuwe matras se waarborg sal verval as die matras nat word, en dis byna gewaarborg dat jou peuter nog in die bed sal piepie. Sorg dus dat jy van die begin af die matras beskerm deur ’n goeie paslaken aan te skaf wat spesifiek vir dié doel geskep is.

Kyk uit vir eienskappe soos dat dit kan asemhaal en ook 100 persent waterdig is, en veilig in die wasmasjien en tuimeldroër gesit kan word. Protect-a-Bed spesialiseer in dié soort paslakens. 

Het jy geweet?
Moet nooit jou kind se bed of slaapplek as strafplek gebruik wanneer hy ongehoorsaam is nie. Hy moet nét positiewe verbintenisse met sy bedjie hê. Sy bed moet sy veilige hawe wees.

Maak dit hiermee maklik

Dié World Globe Touch-lamp kos R299,99 by Mr Price Home.
Protect-a-Bed se matrasbeskermer is uiters absorberend en waterbestand, vanaf R480 (enkelbed). By alle groot bedwinkels of gaan na protectabed.co.za om die kleinhandelaar naaste aan jou op te spoor.
Koop dié dubbelkantige Polar-duvetstel by cleverlittlemonkey.co.za, vanaf R810.
Chicco se Bed Guard kos R699 en is by Baby City te koop.
Die Star Master - nagliggie is R100 by 4akid.co.za.