As tuisblyma voel ’n mens maklik of jy tonnelvisie ontwikkel terwyl die dae by jou verbyglip en jy ál jou aandag aan jou peuter wy sonder dat jy voel julle bereik ooit iets.

Jy is egter in die perfekte posisie om jou peuter optimale een-tot-een-stimulasie te gee. ’n Dagprogram kan help om jou meer in beheer van jul dag te laat voel en ook verseker dat geen faset van haar stimulasie per ongeluk agterweë bly nie.

Ons het Carla Cronjé van Vryburg, ’n opgeleide voorskoolse onderwyseres en ma van drie, gevra om wenke oor ’n goeie tuisprogram te deel.

Wat moet jy stimuleer?

Jou peuter is ’n ontdekker met ’n natuurlike instink om meer oor die wêreld om haar te leer. Jou rol as ouer is om haar soveel moontlik geleenthede te gee om haar begrip van haar leefwêreld te versterk en te verbeter.

Onthou, dinge wat ons as vanselfsprekend beskou, soos dat watte sag en klippe hard is, moet jou peuter nog ontdek. In jou stimulasie-aktiwiteite behoort jy veral te let op taalontwikkeling, groot motoriese ontwikkeling, sensoriese aktiwiteite en fyn motoriese vaardighede.

Taal slim

Navorsing het getoon die eerste twee jaar van ’n kind se lewe is uiters belangrik vir taalontwikkeling. Natuurlik behels ’n groot deel van peutertaalstimulasie om net voortdurend met jou kind te gesels en te luister wat sy vir jou sê, maar die volgende sal ook help:

  • Beskryf wat jou kind doen of gaan doen en benoem items: “Kom ons trek jou rooi broek aan.”
  • Brei uit op wat jou kind sê.
  • Gebruik liedjies en rympies om jou kind se woordeskat uit te brei, veral liggaamsrympies, soos Duimpie en Duimpie se maatjie.
  • Neem elke week boeke by die biblioteek uit om voor te lees. Dis ’n lekker uitstappie.

Slim lyfie

Jou peuter het pas begin loop en moet nog ’n hele string groot motoriese vaardighede soos hardloop, spring, skop en klouter inoefen. Dis ’n belangrike basis vir latere ontwikkeling.

  • Speel saam met haar bal. Rol dit vir mekaar, laat haar skop.
  • Laat sy op haar swart motorfietsie ry.
  • Bou hindernisbane binne en buite.
  • Klouter op die klimapparaat.
  • Stap, hardloop en spring.
  • Gooi boontjiesakke in ’n emmertjie.

Sensories gesond

Die sintuie is die goue sleutel tot peuterstimulasie – betrek dus haar ogies, oortjies, neusie, mond, lyf en aanraking soveel moontlik by aktiwiteite. So sal sy die heel vinnigste leer!

  • Speel in die sandput en met water of bak modderkoekies.
  • Teken met kitspoeding op ’n bakplaat.
  • Laat haar met gekleurde rou rys of gaar spaghetti speel.
  • Verf met skeerroom teen die stortdeur of spieël of verf met vingerverf.
  • Kry sensoriese bakke: elke week ’n ander bak, soos ’n klomp geel goed (visueel), strooitjies opgesny saam met vorms (tas), en knope in sand saam met ’n kwas (tas).
  • Luister watter klanke julle in die huis en tuin kan hoor.

Fyn vat

Saam met groot motoriese vaardighede vorm fyn motoriese vaardighede later die basis van baie skoolaktiwiteite. Begin eenvoudig.

  • Bou maklike houtlegkaarte met knoppies op.
  • Plak plakkers.
  • Sorteer vorms of gooi oorstokkies in ’n houer met gaatjies.
  • Speel met klei.
  • Verf met dik kwaste. Verf op verskillende mediums soos op foelie of met oorstokkies op polistireen. Of draai ’n koekroller in borrelplastiek toe en verf daarmee op papier.
  • Tel Smarties van die vloer af op.
  • Gooi munte in ’n spaarbussie.
  • Bou torings met stapelkoppies of stapelringe.
  • Teken met dik vetkryt op ’n groot stuk papier of met bordkryt op plaveisel.
  • Skeur, frommel en plak papier.

Jul eie program

’n Dagprogram sal baie help om jou meer doelgerig saam met jou peuter te laat speel. Dit bly egter belangrik dat alle stimulasie in ’n ontspanne atmosfeer plaasvind, beklemtoon Carla. “Die kind moet die ouer lei en die ouer moet aanpasbaar wees.”

Party ma’s werk volgens ’n tema per week, soos my liggaam, my gesin of plaasdiere. So nie, ’n kleur vir elke week. “Dan trek ons geel aan, verf en speel met geel, eet geel kos en selfs die storie kan hierby aansluit,” sê Carla. Ander verkies ’n ietwat meer ontspanne benadering.

Kyk hoe jul dagprogram normaalweg lyk en wat werk en wat nie. Laat jou kind se natuurlike biologiese ritme (soos slaaptye) en geaardheid die skedule vorm. Moenie ure per aktiwiteit inruim nie – ’n peutertjie se aandagspan is kort – en moenie te veel aktiwiteite in ’n dag probeer prop nie. Jou peuter moet nooit gejaag voel nie, want dan gaan hy nie op sy beste leer nie.

Skuif aktiwiteite rond tot dit vir julle werk. Rustiger aktiwiteite werk gewoonlik beter voor slaaptyd, en moenie ’n groot kunsprojek laat in die middag probeer aanpak nie! Carla reken ná ontbyt is ’n goeie tyd vir ’n morsige aktiwiteit, terwyl ’n storie gewoonlik beter werk net voor ’n oggendslapie. “As jou kleinding dan wakker word, is hy gereed vir ’n paar rympies en lekker buite speel.”

Voorstel vir 'n dagprogram

7:00 Opstaan en aantrek

8:00 Ontbyt

8:30 Takies in die huis

Moet jy gou ’n bondel wasgoed ophang of die kombuis opruim? Laat jou peuter help. Takies is uitstekende stimulasie en jy kan ’n hele verskeidenheid vaardighede daarmee oefen soos sortering of kleure met die wasgoed, of fyn motoriese vaardighede as sy wasgoedpennetjies moet vasknyp. Peuters is nie verniet dol daaroor om te help met takies soos afstof en uitvee nie.

9:00 Liedjies en rympies

Dis uitstekend vir taalvaardigheid asook vir wiskunde. Hoe meer bewegings jy by die liedjies en rympies kan voeg, hoe beter. Jou peuter hoef nie die rympies saam te kan opsê nie, maar moet dit hoor. Lyfrympies, wat haar kan help om haar lyfie se dele te leer ken, is veral nou geskik.

9:15 Kuns/opvoedkundige aktiwiteit

Sluit voorbereidingstyd en opruimtyd in. Dis jou hoof- opvoedkundige aktiwiteit van die dag en kan dalk ’n bietjie dinkwerk verg, maar kan vir hope pret sorg asook vir uitstekende fyn motoriese stimulasie.

Wissel dit af: Maandag spuit julle skeerroom op die spieël of strooi kitspoeding op ’n bakplaat en skryf daarop, Dinsdag skeur en plak julle of speel met klei, Woensdag doen julle ’n morsaktiwiteit, Donderdag is verfdag of tekendag en Vrydag kan dit ’n uitstappie na die biblioteek of ’n dierepark wees. 

Hou dit eenvoudig: Dit is dikwels die eenvoudigste goed wat peuters ure lank stimuleer en dit moet vir julle albei uitvoerbaar wees. Soms kan die aktiwiteit so eenvoudig wees soos ’n groot stuk papier en kryt of ’n groot boks waarmee en waarin sy kan speel.

Onthou ook altyd: Die proses is baie belangriker as die eindproduk; moenie ’n kunswerk verwag nie!

10:00 Iets te ete

Etenstyd is stimulasietyd. Vertel vir kleinding jy sny die piesang in sirkels of die koeldrank is groen. Laat haar teksture met haar hande en mond ervaar (beskryf dit), geure ruik, of hoor hoe die kos in haar mond kraak. Julle kan ook ’n klomp verskillende snoephappies soos druiwekorrels, kasies en appels in die holtes van ’n kolwyntjiepan pak.

10:30 Storietyd (taalontwikkeling)

Tel jou kleinding op jou skoot en moedig haar aan om aktief deel te neem. Kies kort stories met baie prentjies of boekies met enkele groot prente per bladsy.

Benoem dit of vra haar om dit vir jou te benoem. Plastiekboekies en kartonboekies is nou wenners. Gee haar kans om “self” te lees, al beteken dit dat die boekies in die mond beland.

10:45 Danstyd/bewegingspeletjies

Behalwe dat dit pret is om te dans, kry die groot motoriese vaardighede en ouditiewe persepsie oefening omdat sy na die liedjie moet luister om die ritme te hoor. Speel vrolike kindermusiek of marsmusiek. Span gerus DVD’s in (die kleinspan is gek oor Lollos). Jy kan haar ook op ’n kombers rondsleep, of na-apertjie speel en haar verskillende dierebewegings laat uitvoer.

11:00 Buite speel

Jou kleinding moet minstens twee keer per dag buite kan ontspan. Dis die ideale tyd om groot motoriese vaardighede te stimuleer. Laat haar doen wat vir haar lekker is, of dit nou is om op die klimraam te klouter of om saam met jou bal te skop.

Jy kan ook ’n eenvoudig hindernisbaan bou of haar op haar swart fietsie laat rondjaag. ’n Swaai bied uitstekende vestibulêre stimulasie en sand- en waterspel bly treffers.

12:00 Etenstyd

12:30 Middagslapietyd

Jou peuter behoort nou lekker moeg te wees en ’n middagslapie is presies wat sy (en jy!) nodig het om die energiereserwes te herstel. Maak ’n koppie tee en ontspan met jou Baba & Kleuter – dis ’n welverdiende ruskans!

As jou peuter nog twee keer ’n dag slaap, kan jy net ná storieleestyd slaaptyd inruim, en kan sy buite speel wanneer sy wakker word.

14:30 Iets te ete

14:45 Spel met toerusting

Nou is dit tyd om al daardie opvoedkundige speelgoed wat julle aangeskaf het, vir hul geld te laat werk. Eenvoudige legkaarte (die houtsoort met die knoppies), vormsorteerders en konstruksiespeelgoed soos houtblokkies bied uitstekende stimulasie en help met visuele persepsie en fyn motoriese vaardighede.

As jy nie ’n kas vol duur speelgoed het nie, werk tuisgemaaktes net so goed, soos ’n skoenboks met ’n gleuf waarin sy kaartjies kan pos, of ’n tuisgemaakte rammelaar. Gesels met jou kind oor vorms, kleure en die ander eienskappe van die speelgoed waarmee julle speel.

15:30 Vrye spel tot badtyd

Dis baie belangrik dat jou peuter genoeg tyd het om te speel net wat sy wil speel, of dit nou is om in die sandput te ontspan of verbeeldingspel binne te speel. Jy hoef nie saam te speel nie – bly net in die omgewing ingeval sy jou soek.

Gee haar toerusting soos poppe, ’n telefoon, koppies en pierings waarmee sy teddiebeerpiekniek kan hou, ’n kammahamer en spykers of ’n tuinstel waarmee sy kan tuinmaak, en sy sal in die sewende hemel wees.

17:00 Badtyd

Badtyd is uitstekende stimulasietyd. ’n Verskeidenheid skepgoed help jou peuter om meer van begrippe soos grootte, massa en skatting te leer.

17:45 Etenstyd

18:00 Ontspantyd

19:15 Storietyd

Dit help jou kleinding ontspan en maak slaaptyd ook bietjie makliker.

19:30 Slaaptyd