Al is jy hoe lief vir ons pragtige moedertaal met sy lekkersê-woorde soos spookasem, holderstebolder, bollemakiesie en fnuik, weet vandag se ouers hoe belangrik dit is dat ons kinders Engels, ons interkulturele kommunikasietaal, magtig is. Maar hoe maak ’n mens jou kind tweetalig groot? Wat is jou opsies? En is die een beter as die ander?

Sommige ouers wil van geboorte af tweetaligheid by hul kleinding kweek, ander verkies dit om eers later te begin of hierdie takie aan die skool oor te laat. Prof. Heila Jordaan van die Universiteit van die Witwatersrand doen reeds jare lank navorsing oor die aanleer van ’n tweede taal. Ons het by haar gaan aanklop om riglyne ...

Die beste resep

In ’n veeltalige samelewing soos ons s’n is dit baie goed as kinders reeds van ’n vroeë ouderdom af blootgestel word aan meer as een taal, sê Heila. Terselfdertyd is dit egter nie noodsaaklik vir volwasse tweetaligheid nie. Jy kán dus van babadae af jou kind twee- of meertalig grootmaak deur afwisselend twee tale met haar te praat, of jy kan eers later begin – uiteindelik kom julle by dieselfde doelwit uit. “Om so vroeg te begin is nie beter of slegter nie. Dis nie belangrik wanneer jy begin nie, maar hoe jy dit doen,” sê sy. Voorheen het baie kenners aanbeveel dat die moedertaal eers goed gevestig moet wees voor ’n tweede taal aangepak word, maar Heila sê dis nie meer die geval nie. Net so het baie kenners voorheen voorgeskryf dat een ouer een taal met die kind praat terwyl die ander ouer die tweede taal praat, maar Heila sê daar is geen bewys dat hierdie taalmetode beter as ander is nie. “Jy moet besluit: tweetalig of eentalig. As jy albei wil hê, gaan julle albei moet praat. Maar moet asseblief nie net Engels praat as jou huistaal eintlik Afrikaans is nie – dis onnodig, want jou kind se brein kan meer as een taal op ’n slag hanteer.”

Interaksie is die sleutel 

Kinders leer taal aan deur interaksie met hul ouers, sê Heila. “As jy besluit jy wil jou kind tweetalig grootmaak, moet jy seker maak sy kry blootstelling aan albei tale op ’n vlak wat sy kan hanteer. Daar moet goeie modelle wees van albei tale en albei tale moet gereeld met haar gepraat word.” 

Kommunikeer dus direk en gereeld met jou kind. ’n Jong kind leer nie ’n taal deur dit net te hoor nie. As jy met jou man Engels praat maar nie met jou kind nie, gaan jou kind nie sommer die taal baasraak nie. Jy moet met haar praat sodat sy ook op jou kan reageer. 

Die taalinteraksie met jou kind moet daarby van ’n goeie gehalte wees: Praat baie met haar oor dinge, lees gereeld vir haar boekies in albei tale en maak seker sy verstaan wat jy lees. Vra haar baie vrae waarop sy moet antwoord en gee haar baie blootstelling aan die taal. Hoe meer jy dit doen, hoe groter word haar woordeskat en hoe beter haar sinsbou.

Wat om te verwag

As jy klein-klein al wegspring met ’n tweetalige opvoeding, gaan jy nie onmiddellik twee perfekte tale by jou kind hoor nie, waarsku Heila. “Sy gáán haar tale meng – ons noem dit kodevermenging – en haar sinne deurmekaar bou. Dis normaal by tweetalige kinders. Sy gaan wel in die een of ander stadium die twee tale van mekaar begin onder­skei. Dit kom mettertyd reg.”

Volgens Heila leer die meeste tweeta­lige kinders taal op dieselfde manier en in dieselfde tyd as ’n eentalige kind.  “Geen navorsing wys dat ’n kind wat tweetalig grootgemaak word, stadiger vorder of later leer praat nie.” 

Maar as jy jou kind aan twee tale blootstel is die tyd wat sy aan kommunikasie bestee, in twee verdeel. “Dit maak dus sin dat jy meer tyd moet bestee aan doelbewuste taalontwikkeling deur interaksie.”

Jy kan verwag dat een taal altyd by jou kind gaan oorheers. “Dit gebeur selde dat ’n kind presies dieselfde vlak van vaardigheid in albei tale het. Haar oorheersende taal gaan dalk nie haar moedertaal wees nie; dit hang af van waaraan sy die meeste blootstelling gehad het.”

Jóú werk

Jou grootste werk as ouer is om doelbewus en gereeld deur interaksie jou kind se tale te ontwikkel – of toe te sien dat iemand anders dit doen! Gee haar ’n goeie taalmodel in albei tale, moet self nie jou tale meng nie, praat een taal op ’n slag goed, lees saam boekies in albei tale en beantwoord haar vrae, praat mét haar – nie ván haar nie – sodat sy jou moet antwoord. “Net gereelde oefening gaan help,” sê Heila. Daar is baie maniere waarop tweetaligheid aangepak kan word. Sommige gesinne besluit om twee dae per week aan ’n tweede taal af te staan wanneer hulle byvoorbeeld net Engels in die huis praat. In so ’n geval moet julle nie te rigied te wees nie en na die moedertaal oorskakel as dringende emosionele boodskappe oorgedra moet word, soos wanneer jou kleinding oor iets ontsteld is. 

Heila beveel aan dat tweedetaal-gebruik eerder deur die konteks gelei word. “As jy uit ’n Engelse boekie lees, kan julle daarna in Engels daaroor gesels, want die storie was in Engels. Baie kinders speel ook fantasiespel in Engels – dan kan jy saam met haar Engels praat. Laat die konteks dit bepaal.”

Jou grootste werk as ouer is om doelbewus en gereeld deur interaksie jou kind se tale te ontwikkel.

Wie nog kan help

Skool Jou kleinding se kleuter­skool kan ’n groot bydrae lewer tot haar tweedetaal-ontwikkeling. Heila sê as jou huistaal van die skooltaal verskil, is dit belangrik dat jy ook tuis van tyd tot tyd die skooltaal praat sodat dit nie vir jou kind heeltemal vreemd is nie. “Die voordeel van ’n Engelse kleuterskool is dat julle tuis alle gesprekke oor skoolkwessies in Engels kan voer.” Tog reken sy dis belangrik om ook jou kind se emosionele ontwikkeling in ag te neem. “Wees versigtig om nie jou Afrikaanse kind in ’n Engelse omgewing te plaas waar daar glad nie Afrikaans gepraat word nie – sy kan baie vervreem en afgesny voel. Die beste is ’n konteks waar albei tale gepraat word.” Jy kan maar ’n ouer kind met Afrikaans as huistaal na ’n Engelse laer­skool stuur. Dit sal ’n rukkie duur, maar sy sal aanpas. Volgens Heila is moedertaalonderrig die beste keuse, maar as ’n kind moet kies tussen goeie onderrig in ’n tweede taal en swak onderrig in die moedertaal, is goeie onderrig in ’n tweede taal die beter keuse. 

Oppasser Jou kind se oppasser praat elke dag met haar en verskaf dus ’n groot deel van haar taalmodel. Maar hoe gemaak as sy Zoeloe is en nie goeie Engels kan praat nie? Dan moet jy aanvaar dat sy nie die beste Engels gaan praat nie en dat jy nie op haar kan staatmaak om jou kind se taalvaardighede uit te brei nie. Jy sal dus self ekstra moeite moet doen, sê Heila. Jy kan natuurlik ook vir haar vra om slegs in Zoeloe met jou kind te praat.

Maatjies Maatjies het ’n groot uitwerking op taalontwikkeling, veral ná drie jaar oud. Heila beveel aan dat kinders maatjies van albei tale het.

Televisie of digitale toestelle Voorskoolse kinders leer nie taal van toestelle of televisie af nie. “Ouer kinders kan taal van die televisie af leer, maar kleiner kinders leer dit wanneer dit met hulle gepraat word,” sê Heila. 

Wanneer?

Voordele van vroeg begin 

Hoe vroeër jou kind ’n tweede taal leer, hoe groter is die kans dat hy dit aksentloos sal praat – mits jy self (of die taalmodel) aksentloos praat. “As ’n kind ’n taal voor 10 jaar oud leer, behoort hy nie ’n aksent te hê nie. Klein kindertjies is egter baie sensitief vir aksentinvloed en leer die aksent aan van die mens wat met hulle praat,” sê prof. Heila Jordaan van Wits.

Nadele van vroeg begin 

Daar is nie eintlik nadele nie, wel ’n risiko: “As ouers nie genoeg fokus op hul kind se taalverwerwing nie, kan die kind uiteindelik nie vaardig in een van die tale wees nie,” sê Heila. “Dis nie net ’n kwessie van ‘ek as ouer besluit nou my kind gaan tweetalig wees en ek los hom’ nie – jy moet sorg dat hy volgehoue interaksie van ’n hoë gehalte in albei tale kry. Jou besluit gaan dus gepaard met ’n verantwoordelikheid.”

Heila sê ’n ander moontlike nadeel is dat dit stresvol kan wees vir tradisio­neel Afrikaanse ouers om doelbewus Engels te praat. “As jy nie daardie stres in jou lewe wil hê nie, moenie tweetaligheid tuis aanpak nie. Daar is baie maniere waarop jou kind tweetalig kan word. As hy Engels eers op skool leer en die gehalte van die onderrig is goed, sal hy tweetalig word.”

Baie ouers wat self uit ’n stoere Afrikaanse gemeenskap kom, eers op skool met Engels te doen gekry het en as volwassenes gesukkel het om Engels te praat, vrees dat hul kinders net soos hulle sal sukkel. Vandag se kinders word egter in ’n heel ander omgewing groot, sê Heila. “Hulle kry baie meer blootstelling aan Engels. Hulle hoor dit baie meer en is gemakliker daarmee.”