Om jou peuter van haar kot na haar eerste bed te skuif, kan ’n trotse oomblik vir julle al twee wees – maar dit kan ook angswekkend wees.

Jou tweejarige het moontlik eers onlangs begin deurslaap en jy het nou eers ontslae geraak van daardie kringe onder jou oë, dus is die laaste ding wat jy wil doen om die roetine waaraan julle so hard gewerk het, te versteur. Hoe weet jy as jou peuter gereed is om haar veilige kotomgewing te verlaat? En hoe kan jy hierdie verandering so maklik moontlik vir julle albei maak?

Tekens van gereedheid

Kinders lyk nie dieselfde nie, en hulle is ook nie dieselfde nie. Een kind kan daarop aandring om in ’n bed soos haar boetie te slaap, terwyl dieselfde verandering ’n ander een vreeslik kan omkrap. As laasgenoemde jou kind is, is dit beter om so lank moontlik met die oorskakeling te wag.

Die meeste kinders tussen twee en drie en ’n half jaar sal die trek goed hanteer, mits hulle tekens van gereedheid wys. Dis veral belangrik dat jou peuter reeds goed moet slaap. Sy moet dus nie gereeld meer as twee keer per nag wakker word en dan langer as 30 minute neem om aan die slaap te raak nie.

Ouers van slegte slapertjies dink dikwels ’n skuif van bed na kot gaan hul probleem oplos, sê Erica Neser van Kaapstad, skrywer van Slaapgids vir babas en kleuters (Protea). Maar dis nie soos dinge werk nie.

“Ouers het gewoonlik al reeds die moontlike redes vir wakker word uitgeskakel soos temperatuur, honger, ongemak, pyn of siekte, en neem uiteindelik aan dat die kot die probleem moet wees. Hulle dink dat hul peuter beter in die bed sal slaap – maar dis nie wat gebeur nie, want nou kan die slapelose peutertjie uitklim,” sê Erica.

Dis nie ’n goeie plan om slaapprobleme te probeer oplos in dieselfde tyd dat jou kind van die kot na die bed moet oorskakel nie. Een groot verandering op ’n slag is genoeg om te hanteer. “Skuif haar eers wanneer sy maklik aan die slaap raak en aan die slaap bly,” is Erica se raad.

Die tweede teken van gereedheid is dat jou peuter uit haar kot kan klim. Daar is nie net die gevaar van ’n seer val nie, maar sy kan ook in haar kamer ronddwaal. Sy kan dalk ¬siek te groot vir haar kot raak – nog ’n aanduiding dat dit tyd is vir verandering.

Penney Hames, ’n Britse kindersielkundige en skrywer van Help your Baby to Sleep, voeg by dat wanneer jou kind potjielesse gehad het, dit ’n goeie idee is om haar in haar eie bed te laat slaap omdat sy dan in die nag toegang tot die potjie of toilet het.

Laastens: As jou peuter begin vra wanneer sy na ’n bed kan oorskakel, is dit tyd om die skuif te oorweeg.

“As jou kind nog gelukkig in haar kot is en daar geen onmiddellike rede is om haar te skuif nie, wag gerus. “Die meeste ouer peuters sal opgewonde wees om te skuif wanneer hulle gereed is,” sê Erica.

Werk slim met tyd

Moenie jou peuter na die groot bed skuif as daar enige oproer in die huislewe is nie, soos wanneer ’n nuwe baba daar is nie. Maak die verandering ’n paar maande voor of ná die baba se koms.

“Peuters kan uiters besitlik wees en sal nie daarvan hou om die kot aan ’n ‘indringer’ te gee nie,” waarsku Erica. Moet ook nie jou peuter tegelyk na ’n ander kamer én ’n bed skuif nie. Laat slaap haar liewer eers ’n paar weke lank in haar kot in die nuwe kamer voor jy die bed bekendstel.

As dinge skeefloop

Jou peuter kan aanvanklik ’n bietjie onseker voel. Selfs volwassenes voel deur die wind as hulle in ’n vreemde bed wakker word. Jy kan verwag dat jou peuter uit die bed gaan klim.

Sit haar sonder enige bohaai terug. Sy sal dalk protesteer en huil, maar as sy gewoond daaraan was om self rustig te raak, moet jy haar ’n kans gee om dit in die bed ook te doen. As sy nie bedaar nie, bly eerder by haar.

As sy aanhou huil, probeer dan wat Erica die “verdwynende stoel”- roetine noem. Sit op ’n stoel langs jou peuter se bed en skuif dan geleidelik nader en nader aan die deur namate sy in die loop van ’n paar nagte rustiger word. Dit kan tot 10 nagte duur.

Van twee jaar af sal jy met haar kan onderhandel. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek sal bly as jy jou ogies en mondjie toe hou. Dit is nou slaaptyd.” As sy langer as drie dae skree en hewig op die skuif reageer, is dit dalk beter om haar weer in die kot te laat slaap.

“Party ouers kom agter hulle het hul kleinding te vroeg bed toe geskuif. As dit die geval is, skuif jou peuter terug na haar kot. “Maak net seker dat jy dit voorstel as nog ’n opwindende verandering en nie as straf of ’n stappie terugwaarts in ontwikkeling nie,” sê Penney.

Baie ouers skuif hul kind teen die ouderdom van twee – die presiese ouderdom wanneer nagmerries en vrese algemeen is. Hulle is dan bekommerd dat die skuif die nagmerries veroorsaak, maar eintlik is dit net toevallig.

Erica sê wel dat jy jou instink moet vertrou. As jou kind gelukkig in haar kot was en nie goed in die bed aanpas nie, moet jy haar liewer laat terugtrek.

Daar is nie ’n presiese afsnydatum vir hierdie mylpaal nie en ook niks daarmee verkeerd as ’n kind op drie steeds in haar kot slaap nie. Jy kan die skuif selfs heeltemal aan jou kind oorlaat – troos jou daaraan dat sy beslis nie nog in die kot sal slaap teen die tyd dat sy op die skoolbanke sit nie!