SLAGGAT #1

Jy erken nie die emosies agter haar gedrag nie

Sy neul, kerm, skree of is bloot onplesierig. Jy straf haar, maar wat probeer jou kind met haar gedrag vir jou sê? Dis die moeite werd om te probeer vasstel wat die emosies agter haar optrede is. So kan jy haar help om in die toekoms meer vanpas te reageer en ook soortgelyke situasies vermy.

“Elke kind se gedrag het ten doel om iets aan die omgewing te kommunikeer,” verduidelik Nolene Rust, ’n geregistreerde berader van Pretoria. “Neulerigheid kan byvoorbeeld ’n boodskap van moegheid of honger oordra.”

Die meeste jong kinders het nog nie geleer hoe om hul emosies te reguleer nie, voeg Colleen Law, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, by. “Hulle gee – dikwels kliphard – uitdrukking aan hoe hulle voel, wanneer hulle dit voel. Die fout wat ouers dan maak is om te sê: ‘Moenie kwaad/hartseer wees nie.’ Dis in die haak om kwaad of hartseer te voel. Wat onvanpas is, is die manier waarop jou kind uitdrukking daaraan gee.”

Maak dit makliker

Beoordeel jou kleintjie se gedrag voor jy reageer, sê Nolene. “Dink eers: Wat probeer my kind eintlik vir my sê?” Colleen beveel aan dat jy jou kleinding toelaat om uitdrukking te gee aan haar emosies en die emosie erken: “Ek kan sien jy is kwaad omdat ek nee gesê het.” Sodra jou kind bedaar het, moet jy vir haar wys hoe om haar gevoelens op ’n aanvaarbare manier te kenne te gee. “So word haar emosies erken, ’n manier om dit vanpas uit te druk word verskaf, en terselfdertyd bou jou kind mettertyd ’n emosionele woordeskat op.”

SLAGGAT #2

Jy dissiplineer uit woede/vrees/frustrasie

Selfs die beste ma kan soms haar humeur verloor of uit pure angs om haar kind se onthalwe oorreageer. Maar, waarsku ons kenners, as jy voortdurend vanuit jou emosies dissiplineer – of dit nou vrees, woede of angstigheid is – het jy ’n probleem. ’n Reaksie wat uit woede spruit, leer nie vir jou kind goeie eienskappe nie, maar eerder om volgende keer slimmer te werk te gaan sodat sy jou heftige reaksie kan vermy, sê Nolene.

“Dit leer haar ook dat sy beheer het oor jou emosies, en dat jy nie in beheer van jou eie gevoelens is nie – en dit kan vir ’n peuter angswekkend wees. Ouers behoort hulleself af te vra wat die doelwit van hul dissipline is: om jou kind te straf omdat jou gevoelens seergekry het, of om haar op te voed met die oog op toekomstige gedrag?”

Colleen stem saam. “Dis moeilik vir jou kind om werklik te hoor en te verstaan wat jy sê as jy skree of emosioneel is. Jy moet op ’n ouderdomstoepaslike manier aan jou kinders verduidelik hoe hulle hul gedrag moet aanpas.”

Maak dit makliker

Almal van ons het “warmknoppies”, sê Nolene. “Begin deur van joune bewus te wees. So kan jy betyds besef dat ’n sterk emosie in jou binneste op pad is en het jy tyd om diep asem te haal en tot 10 te tel voor jy reageer. Moenie huiwer om dit so aan jou kind te kommunikeer nie.

Jy kan sê dat jy nie haar gedrag goedkeur nie en dat jy eers buite gaan bedaar voor julle verder gesels. So modelleer jy positiewe hanteringstegnieke.” “Sou ’n ouer wel beheer oor haar emosies verloor, is dit baie belangrik dat sy agterna na haar kind teruggaan om verskoning vra vir haar gebrek aan beheer, en dan kalm die korrekte gedrag bespreek,” sê Colleen.

SLAGGAT #3

Jy is inkonsekwent

Dreig jy sonder om jou dreigemente deur te voer? Is iets vandag verbode net om môre toegelaat te word? As jy dreig om jou kind te straf en jy doen dit nie, leer jou kind dat jy nie regtig bedoel wat jy sê nie en dat daar nie gevolge sal wees nie, sê Colleen. “Jou kind sal waarskynlik woedend reageer en te na gekom voel as jy die slag ‘genoeg gehad’ het en skielik die gevolge toepas. Dit het ’n invloed op die veiligheid en sekuriteit wat sy by jou ervaar.”

Baie ouers voer nie hul dreigemente uit nie omdat hulle nie as te streng beskou wil word nie, of omdat hulle met iets gedreig het wat hulle nooit beplan het om deur te voer nie, soos om ’n verjaardagpartytjie te kanselleer. As jy gedrag oorsien net omdat jy nie die energie het nie, is julle terug by stap een.

“Konsekwentheid leer jou kind wat van haar verwag word en dat reëls altyd dieselfde bly,” sê Nolene. “Dit laat jou kind veilig voel en leer haar dat jy betroubaar is.”

Maak dit makliker

“Die antwoord is eenvoudig: Moenie beloftes maak waarby jy nie kan of gaan hou nie,” sê Colleen. Nolene voeg by: “Die oorsaak-en-gevolg-beginsel moet vir alle gedrag geld, positief en minder gewens. As jou kleintjie stout is, moet daar ’n daadwerklike gevolg wees, maar so ook as jy haar ‘uitvang’ terwyl sy iets goeds vir haar sussie doen. Elke goeie daad verdien dit om uitgelig te word.”

SLAGGAT #4

Onrealistiese verwagtinge

As jy gedrag van jou kleinding verwag wat bo haar vuurmaakplek is, skep jy ’n resep vir frustrasie vir julle albei. “Jy gaan minder gefrustreerd voel as jy ouderdomsgepaste gedrag van jou kind verwag,” sê Nolene.

“Dit help nie jy raak by ’n redenasie betrokke met ’n kind wat nog nie oor die verstandelike vermoë beskik om dit te verstaan nie. Pleks daarvan om vir boeta ’n lekkertjie te gee om vas te hou vir later eet, kan jy dit in jou handsak pak en vir hom gee wanneer hy dit wel mag eet.”

Maak dit makliker

Leer wat jy op verskillende ouderdomme kan verwag sodat jy jou dissipline daarby kan aanpas.

SLAGGAT #5

Jy verwar dissipline met straf

Met ’n woelige kleuter in die huis kan dit later vir jou voel dat al wat jy doen is om te raas en te straf. Een van die grootste foute wat ouers maak is om dissipline en straf gelyk te stel, sê Colleen. “Wanneer ouers dit doen, verloor hulle die algehele doelwit – dat hul kind se gedrag gevorm en gelei moet word – uit die oog.

Natuurlik moet onvanpaste gedrag hanteer word, maar goeie gedrag moet ook versterk en aangemoedig word. Dissipline stel kinders in staat om op sinvolle leiding te reageer eerder as net op dreigemente en straf.” “Elke kind sal mismoedig raak as sy gedurig in die stouthoekie sit, want sy leer naderhand dat sy niks reg kan doen nie,” verduidelik Nolene.

“Dan verloor sy sommer moed, en dit knou die ontwikkeling van ’n positiewe selfbeeld. ’n Goue reël is dat jy gedurende jou dag meer positiewe lof as negatiewe vermanings moet uitdeel. Rigiede straf, sonder lof, kweek rebellie.”

Maak dit makliker

Let goeie gedrag op en prys dit. Noem dit spesifiek: “Dankie dat jy jou karretjie met sussie gedeel het. Dit was gaaf van jou.”

SLAGGAT #6

Geen of te veel grense

Kinders het grense nodig, maar dis noodsaaklik dat jy jou kind binne daardie grense vryheid gee. Deur grense te stel, kan jy proaktief dissiplineer pleks van reaktief. Met ander woorde: Jy stel voor die tyd jou verwagtinge duidelik aan jou kind, asook ’n moontlike gevolg indien sy oortree, pleks daarvan om te reageer nadat sy klaar iets gedoen het, sê Nolene.

Maak dit makliker

Kies ’n paar reëls en pas hulle konsekwent toe, eerder as baie reëls wat net lukraak toegepas word. Colleen sê as ’n ouer ’n grens stel, kan haar kind probeer om haar van plan te laat verander deur te kerm, oor en oor te vra of te soebat. “In die meeste gevalle is dit die beste om nie weer betrokke te raak as die grens eers gestel is nie.

Pleks daarvan om aanmekaar te verduidelik hoekom, kan jy eenvoudig sê: ‘Ek het klaar besluit’ of ‘Dis die reël’.” Aan die ander kant is dit ook belangrik om jou kind ’n mate van keuse binne die grense te gee. “As jy beperkte keuses gee, voel jou kind dat sy ’n mate van invloed op haar wêreld het.”

SLAGGAT #7

Ma en pa werk teen mekaar

Sê jy ja vir jou kleinding as haar pa nee sê, of andersom? Verskille tussen ouers oor ouerskapstrategieë en dissipline is ’n baie algemene slaggat, sê Colleen.

“Dis belangrik dat ouers dieselfde of soortgelyke boodskappe aan hul kinders oordra oor verwagtinge rondom gedrag, grense en die toepassing van gevolge. Dit geld ongeag of die ouers getroud is, saamwoon of geskei is. “As ouers uiteenlopende boodskappe vir hul kind gee, verwar dit haar en ondermyn dit die vertroue wat die kind in een of albei ouers het.”

Maak dit makliker

Dit kan help as albei ouers saam ’n lys opstel van dinge soos verwagte gedrag en takies, en die gevolge wat toegepas moet word as die kind oortree, sê Colleen.

“Verdere bespreking oor beloning en aanmoediging om bestaande positiewe gedrag te versterk, is net so belangrik. Ouers kan onderneem om mekaar openlik te ondersteun en enige verskille oor dissipline privaat te bespreek.”