Dis dalk nog oulik as hy sy lippie trek en begin huil, maar dis ’n ander saak as hy in ’n besige winkelsentrum op die vloer neerslaan en gil sodra hy nie sy sin kry nie. 

Dit voel dalk nie so nie, maar troos jou: Vloerstuipe is ’n normale deel van ’n kind se ontwikkeling. Dis vir kleintjies moeilik om selfbeheersing toe te pas en hulle weet nie wat om met hul emosies aan te vang nie. Hulle het ook dikwels nie die woordeskat om hul gevoelens uit te druk nie. Dus skree, skop en slaan hulle wanneer hulle gefrustreerd, kwaad of teleurge-steld voel.

Neem jou kind se emosies in ag.

Daar broei ’n storm ...

  • ’n Mens kan nie altyd vloerstuipe keer nie, maar daar is dinge wat jy kan doen om te sorg dat dit nie te gereeld gebeur nie.
  • Moenie jou kind winkel toe neem as hy moeg of honger is nie.
  • Vloermoere is dikwels ’n manier van aandag soek. Maak dus seker dat jou kind genoeg positiewe aandag kry.
  • Berei jou kind lank genoeg voor die tyd voor as daar ’n verandering in sy lewe gaan kom.
  • Hou die omgewing rustig.
  • Hou jou kind besig, veral in winkels. Verveeldheid lei dikwels tot vloerstuipe.
  • Beplan vooruit en probeer om uitstappies nie te lank te maak of jou kind te lank ná slaaptyd wakker te hou nie.
  • Probeer by jul daaglikse roetine hou sodat jou kind weet wat om te verwag.
  • Moedig hom aan om woorde te gebruik om sy gevoelens uit te druk.Die storm het losgebars! 

Die manier waarop jy vloerstuipe hanteer, hang af van die rede vir die uitbarsting. Hier volg ’n paar redes en hoe jy daarop kan reageer.

1. Jou kind ontplof om jou te manipuleer

Hanteer dit so Wanneer jou kind haar wil aan jou wil opdwing, is die beste plan om haar te ignoreer. Erken haar emosie deur te sê: “Ek sien jy is kwaad, maar die lekkertjies is nou op.” As sy aanhou skree, ignoreer haar tot sy ophou. Jy kan in dieselfde kamer bly; moet net nie vir haar kyk nie. Lees ’n boek of doen iets sodat sy kan sien jy gee nie aandag aan haar nie. Onthou, vloerstuipe werk gewoonlik net as iemand vir jou kyk!

Veiligheidswenk As jy besluit om die vertrek te verlaat, maak eers seker dat daar niks is wat jou kind tydens haar vloermoer kan seermaak nie. Jy kan ook nie vloerstuipe ignoreer as jou kind iemand anders seermaak of gevaarlike goed rondgooi nie.

2. Jou kind ontplof want sy is gefrustreerd

Hanteer dit so Frustrasie-­vloerstuipe moet met empatie hanteer word. Help jou kleintjie as jy sien ’n taak frustreer haar. So wys jy haar dat haar emosies belangrik is en dat jy daar is om te help. Moedig haar ook aan om vir jou te probeer sê wat sy wil hê.

3. Jou kind ONTPLOF en lyk of sy haar gaan seermaak

Hanteer dit so Hou jou kind styf vas tot sy bedaar. Terwyl jy haar vashou, kan jy sê: “Jy is kwaad, maar jy het beheer verloor. Ek hou jou vas, want ek is lief vir jou.” Gewoonlik sal jou kind ná ’n paar minute bedaar. 

4. Jou kind hou aan skree al ignoreer jy haar en al hou jy haar vas

Hanteer dit so Verwyder haar uit die situasie wat haar kwaad maak en gee haar uitsittyd (’n minuut vir elke jaar).

As ouer kinders ontplof
  • Gee jou kind duidelike boodskappe oor wat jy verwag. Verduidelik wat hy nie mag doen nie en hoekom nie. 
  • Stel ’n voorbeeld. Jou kind boots jou gedrag na.
  • Moenie toegee as hy in woede uitbars nie.
  • Hanteer die vloerstuipe net soos met ’n kleiner kind. Wees egter versigtig vir die vasdrukmetode, want jou kind is nou groot genoeg om jou te kan seermaak!
  • Leer jou ouer kind ander maniere om van sy frustrasie ontslae te raak, soos om in sy kussing te skree.
  • Gee hom die geleentheid om baie aktief te wees. Dit help ook om van ontwrigtende emosies ontslae te raak.
  • As ’n ouer kind uit die bloute weer vloerstuipe kry, kan jy gerus seker maak dat daar nie dalk iets gebeur het wat hom ontstel het nie.  

Stilte ná die storm

Wanneer jou kleinding eindelik bedaar het, kan jy weer beklemtoon dat daar niks mee verkeerd is om kwaad te wees nie.

Vertel haar julle gaan ’n bietjie praat oor wat gebeur het en wat julle kan doen om te keer dat sy weer so kwaad word. 

Onthou om vir haar water te gee om te drink; al die geskree maak ’n mens dors. 

Moet egter nie te veel aandag gee sodat die water en geselsie soos ’n beloning begin voel nie.

Jou vloerstuipegids in ’n neutedop

Dinge wat jy glad nie moet doen nie:

  • Moenie kwaad word of geskok lyk nie. 
  • Moenie toegee nie, anders leer jou kind vloerstuipe werk en hou sy net daarmee aan.
  • Moenie probeer om met jou kind te redeneer tydens ’n uitbarsting nie.
  • Moenie met straf dreig nie, anders kan jou kind dalk haar woede en frustrasie probeer inhou en dis nie gesond nie.
  • Moenie jou kind ’n beloning gee as sy opgehou het met die vloermoer nie.

Wat jy moet doen

  • Bly kalm en moenie skree nie.
  • Neem jou kind se emosie in ag. Sê byvoorbeeld: “Ek sien jy is kwaad” of “Ek sien jy is gefrustreerd.”
  • Laat die vloermoer hom self uitwoed.
  • Maak seker dat jou kind haar nie kan seermaak nie. 
  • Moet beslis nie jou kind pak gee nie.
  • Kies jou gevegte! Wanneer jy reëls neerlê, besluit wat werklik belangrik is, soos: Jou kind móét in haar karstoeltjie sit, maar dis nie die moeite werd om haar ’n vloermoer te laat gooi omdat jy vir haar die rooi top wil aantrek en sy eintlik die gele wil dra nie.

Moenie persoonlik beledig voel as jou kleinding ontplof nie. Daar is niks met haar verkeerd nie en die hele petalje beteken nie jy is ’n slegte ouer nie. Vloerstuipe is normaal en ’n deel van grootword.