DAGSORG OF CRÈCHES

Dagsorgsentrums bied aan menige werkende ma die ondersteuning wat haar in staat stel om aan te hou werk. Party verskaf vervoer van en na die crèche en voorsien maaltye. Hoewel jy ’n begroting in gedagte het wanneer jy oor dagsorggeriewe navraag doen, is dit die moeite werd om oor verskuilde kostes uit te vind.

Die meeste dagsorgplekke vra sowat R2 000 per maand per kind (die pryse waar ons aangeklop het, wissel van R950 tot R3 300 per maand). As jy dus meer as een kind het, kan ’n oppasser of dagmoeder jou dalk beter pas en minder kos. Hoe jonger die kind, hoe hoër is die tarief gewoonlik omdat meer helpers per kind nodig is vir baie klein kinders.

Bykomende koste kan insluit nasorg en vakansiesorg, geld vir uitstappies en skryfbehoeftes, asook die koste van voorrade soos afveelappies en sneesdoekies waarvoor jy elke maand moet bydra. Sentrums kan dalk melk, doeke en ander noodsaaklikhede by hul tarief insluit, of hulle kan net een maaltyd per dag voorsien terwyl jy peuselhappies en vrugte moet saamstuur.

Vra vir ’n uiteensetting van die kostes sodat jy die nodige sommetjies kan doen. En maak natuurlik seker dat dit ’n geregistreerde dagsorggerief is. As hulle buitengewoon goedkoop is, is daar ’n kans dat hulle nie geregistreer is nie.

Oppassers

Oppassers of tuisversorgers geniet dieselfde wetlike beskerming as huiswerkers en in baie gevalle sal hulle jou help met huis skoonmaak sowel as die versorging van jou kinders.

As dit kom by salaris, word ’n minimumloon deur die wet voorgeskryf. Lone word elke jaar November aangepas. Om vas te stel hoeveel jy die oppasser volgens wet moet betaal, sal jy haar werkure in ag moet neem asook die omgewing waar sy werk. As jy in ’n groot metropolitaanse area bly (daar is ’n lys by labour.gov.za) is die minimumloon hoër as wanneer jy in ’n landelike gebied bly omdat jou werknemer vergoed moet word vir die hoër lewens- en reiskoste wat met die stadslewe gepaard gaan.

Die loon verskil ook as jou werknemer 27 uur of minder per week werk teenoor 27 tot 45 uur per week. Enige tyd meer as 45 uur per week moet uurliks betaal word teen die loon wat deur wetgewing voorgeskryf word.

As jy dus byvoorbeeld in ’n metropolitaanse gebied bly en jou oppasser werk nege uur per dag, is die maandelikse minimumloon R2 545,22. Buite metropolitaanse gebiede sal dit R2 317,75 wees. Die minimumloon van R20 per uur wat in Mei 2018 deur die regering ingestel is, is nie van toepassing op huiswerkers nie.

Desiree Pather van die huiswerker-agentskap Handy Helpers Recruitment sê die oppassers wat hulle plaas, verdien tussen R3 000 en R5 000 per maand. “Dit hang af van hul kwalifikasies en ervaring soos noodhulpkursusse, kookkursusse of kindersorgklasse en hul salaris in vorige poste,” verduidelik sy.

“Ek dink werkgewers moet die hoë koste van kos en openbare vervoer in ag neem wanneer hulle ’n salaris aanbied. Die minimumloon behoort net van toepassing te wees op kandidate wat die arbeidsmark die eerste keer betree en nie op dié wat jare se betroubare verwysings het en bykomende vaardighede kan bied nie.”

Iets waaroor julle kan onderhandel, is of jy jou oppasser van verversings of maaltye by die werk sal voorsien, wat jou maandelikse kruideniersrekening kan verhoog. “ ’n Oppasser of kinderversorger word dikwels deel van die gesin, veral as dit ’n inwoonposisie is. Sy kry dan dikwels maaltye en gerieflike verblyf. Dié voordele maak deel uit van haar vergoeding bo en behalwe die basiese salaris,” sê Desiree.

’n Uitgawe wat dikwels misgekyk word, is jou bydrae tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF). Alle werkgewers moet hul oppassers registreer en die ekwivalent van 1 persent van haar maandelikse salaris aan die WVF oorbetaal, terwyl die werknemer ook 1 persent moet bydra.

Kleuterskole

Die voordeel van kleuterskole is dat jy waarskynlik ander ouers en kinders sal ontmoet wat naby jou huis woon en dat die kleuterskool ’n voederskool vir die laerskool kan wees. Laasgenoemde sal die oorgang vir jou kleinding makliker kan maak omdat hy die grootskool saam met vriende sal kan aandurf.

Die koste wissel van buurt tot buurt, sê Anton van der Merwe, besturende direkteur van SA Kindersorg. “In sommige woonbuurte kos ’n kleuterskool R1 200 per maand, terwyl een op ’n sekuriteitslandgoed jou meer as R5 000 per maand uit die sak kan jaag.”

Party skole sluit ontbyt, peuselhappies en middagete by hul prys in, maar buitemuurse aktiwiteite soos Monkeynastix kos ekstra. Ander versteekte kostes kan insluit skooldeposito’s, registrasiefooie en skryfbehoeftegeld.

Die meeste kleuterskole is oop van 06:30 tot 17:30 en bly in die meeste vakansies (behalwe gewoonlik die Desembervakansie) oop. Dikwels vra hulle geen ekstra nasorg- of vakansiesorgtarief nie. Vra egter wat hul beleid daaroor is voor jy aansoek doen.

Dagmoeders

Jou skoonma of ’n betroubare buurvrou kan dalk hand opsteek as jy na geskikte kindersorg op soek is. Baie nuwe ma’s maak staat op vriende of familie om hul kinders te versorg en dit is dikwels ’n informele reëling. Die koste kan wissel afhangende van wat ooreengekom is, maar baie mense wat hierdie opsie kies, betaal sowat R1 000 of meer per maand en gee van tyd tot tyd geskenkies en ander bederfies om te wys hoe baie hulle die sorg en steun waardeer.

Al is hierdie reëling baie informeel, is dit belangrik om seker te maak dat julle albei mekaar verstaan en oor sleutelkwessies op dieselfde bladsy is. Dinge wat bespreek moet word sluit in hoeveel kinders hulle gaan oppas (ses is die maksimum wat toegelaat word sonder dat ’n dagsorg formeel hoef te registreer). Stel ook vas of die huis kinder- en babaveilig is, wie almal in die huis sal wees of toegang tot die kinders sal hê en watter maaltye of peuselhappies aangebied sal word. Jy kan gerus ook op jou koste vir jou en die dagma ’n noodhulpkursus laat volg, al is dit net om jul kennis te verfris.