Weghol-peuter

akkreditasie
Nou sien jy haar, nou sien jy haar nie. Hoe voorkom jy dat jou peuter in 'n besige, vol winkelsentrum die hasepad kies?

Dis elke ma se nagmerrie dat jy jou kind in ’n winkelsentrum of ander besige openbare plek sal verloor. Jy dink dalk dit gebeur net met onverantwoordelike ma’s, tot jy jou woorde moet sluk as jou peuter skielik uit jou hand losruk en soos ’n blits tussen die mense verdwyn.

Vir sommige peuters is dit bloot ’n prettige speletjie om in ’n besige winkelsentrum van hul ma af te probeer weghardloop, maar daar kan ook ander redes wees waarom hulle koers kies. Baie peuters begin vreemd optree in winkelsentrums, waarsku die Pretorianer Esta Hansen, ’n opvoedkundige sielkundige en fasiliteerder by die ouerskapsorganisasie Doelgerigte Ouerskapsleiding.

“Party hardloop weg terwyl ander temerig en huilerig raak. Ander sal selfs begin kruip of sit en weier om verder te loop.”

Die helder en kunsmatige lig, aanhoudende musiek en al die mense, kleure en geure stimuleer die peutertjies se sintuie sonder ophou en dit raak gou vir hulle oorweldigend.

“Volwassenes wat oorweldig voel deur die bedrywige sentrum kan kies om buitentoe te loop of ’n stiller hoekie te soek, maar kinders moet teen wil en dank saam met hul ouers inkopies doen.

“Die oorweldigende, intense en aaneenhoudende stimulasie kan hulle hulpeloos en buite beheer laat voel, en dit beïnvloed hul gedrag.” Onthou ook dat peuters inherent nuuskierig is en ’n winkelsentrum ’n hele nuwe wêreld bied om te verken.

“Een van hul belangrikste ontwikkelingstake is om die wêreld te ondersoek en uit te vind hoe dinge werk. Hulle is egosentries en nie in staat om hulle voor te stel hoe bekommerd hulle hul ma en pa maak nie. Hulle kan net op hulleself en die bevrediging van hul eie behoeftes fokus,” sê Esta.

Keer voor dit gebeur

Die ideaal is om die kleingoed liewer tuis te laat as jy baie inkopies moet doen, veral as jy meer as een kind het. Maar vir baie ma’s is dit nie prakties moontlik nie. Wat staan jou dan te doen?

Berei jou kind goed voor op ’n winkeluitstappie, is Esta se raad.

“Dit begin by eenvoudige fisieke voorbereiding deur te sorg dat jou kind nie honger of moeg is wanneer julle winkels toe gaan nie. Hoe beter jou peuter voorberei word op presies wat gaan gebeur en wat van hom verwag gaan word, hoe beter is die gedrag wat jy kan verwag.”

Esta stel voor dat jy die dag vooraf al noem dat julle die volgende dag winkels toe gaan.

“Verduidelik dan al vir jou kind dat dit jou werk is om hom op te pas en dat dit net moontlik is as jy hom kan sien en hy vir jou luister.

Maak dit vir jou kind maklik deur jul gedrag te skets en saam ’n praktiese plan op te stel, soos: ‘Terwyl ons in die winkel is, moet jy asseblief aan die trollie vashou. Dan weet ek jy is naby my en kan ek jou mooi oppas.’ Of: ‘Jy moet mamma vra as jy na iets wil gaan kyk, dan sal ek saam met jou gaan.’ Dit is belangrik dat hierdie plan ouderdomsgepas moet wees.”

Dit help verder om jou kind soveel moontlik deel te maak van die proses.

“Gaan deur die inkopielys en vra of jou kind aan iets kan dink wat op die lysie moet kom. Hulle kan self ’n lysie maak van twee of drie items (gebruik prentjies uit tydskrifte) wat hulle kan help soek, soos brood of wortels. As hulle ’n lekkertjie mag kry, kan hulle dit ook op die lysie plak.”

In die winkel

As jou kleinding in die winkel nie by jul afgesproke reëls hou nie, help dit om te kniel tot jy op haar vlak is, oogkontak te maak en haar emosies terug te kaats, sê Esta.

“Laat haar sien jy verstaan hoe frustrerend inkopies kan wees. Sê mooi duidelik dat jy kan sien dat sy hierdie warboel nie meer kan hanteer nie en net wil weghardloop, of dat sy nie meer kans sien om aan te gaan nie en eerder net wil sit.

Herinner haar aan wat julle besluit het, byvoorbeeld dat sy teen die trollie moet loop of moet vra as sy na iets wil gaan kyk en gee haar ’n duidelike aanduiding van hoe lank dit nog gaan duur. As sy steeds sukkel om te luister, moet jul plan hersien word om seker te maak dit is ouderdomsgepas.”

Slim veiligheidsplanne

  • Skryf jou telefoonnommer met ’n merkpen op sy handjie, kry vir hom ’n armbandjie met jou telefoonnommer op of sit ’n besigheidskaartjie met jou naam en kontaknommer in sy hempsak en leer hom om dit vir ’n grootmens te gee sou hy van jou geskei raak.
  • Harnas: Nie almal is gek oor ’n harnas en leiband vir peuters nie omdat dit jou kind na ’n hondjie kan laat lyk, maar as hy geneig is om weg te hardloop of jy meer as een kleinding het om dop te hou, kan dit ’n lewensredder wees. Gelukkig is daar deesdae oulike harnasse met rugsakkies aan. Kyk by www.kidseshop.co.za/acatalog/Harness_Buddy_Fun_Back_Packs.html.
  • ’n Peutersensor: Met ’n peutersensor met ’n eenheid vir ma en armband vir die kind, kan jy jou kind binne 50 meter opspoor. Party werk so dat jy ’n knoppie kan druk as jou kind afdwaal en dan sal ’n alarm lui sodat jy hom makliker kan opspoor. ’n Ander soort waarsku jou weer sodra jou kind verder as ’n paar meter wegdwaal. Gaan kyk gerus by https://cleverlittlemonkey.co.za/safety-products/kids-safety.html.

Hoe gemaak as sy wegraak?

Geen mens beplan ooit dat hul kind sal wegraak nie, maar dis altyd goed om vir jou kind – klein soos sy is – vooraf basiese veiligheidsbeginsels te leer vir as sy van jou geskei word. (Moet haar nie probeer bangpraat nie.)

Daar is natuurlik geen waarborg dat sy daarby gaan hou nie, maar dit gee jou ’n beginpunt as jy moet soek:

1. Stel duidelik grense: “Jy moet heeltyd mamma se hand vashou” of “jy moet heeltyd aan die trollie vashou.”

2. As sy al redelik kan praat, leer haar om haar naam en van te sê in reaksie op die vraag “Wat is jou naam?” Dit kan help as hulle jou dalk oor ’n interkomstelsel moet roep. (As sy ouer word, kan jy haar jou telefoonnommer leer.)

3. Sê vir jou kind wat om te doen as sy van jou geskei sou raak. Pas dit aan by haar se persoonlikheid. As sy skaam is, sal sy nie maklik vir iemand hulp vra nie. Sê: “As jy mamma nie kan sien nie, bly net op dieselfde plek. Mamma sal jou daar kom kry.”As jou kleinding al in staat is om hulp te vra, leer haar om te soek na ’n mamma met klein kindertjies en vir haar te sê sy soek haar ma.

Dis belangrik dat jy self kalm bly, al voel jy in jou binneste hoe paniekerig. Kyk heel eerste waar julle die laaste keer saam was voor jy jou soektog verder uitbrei en ander se hulp inroep.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees