Die een oomblik deel hy soentjies uit, endie volgende byt en skop hy. Een oomblik wil hy op jou skoot sit, en dan hardloop hy by die winkelsentrum uit. Hy dra nét pers klere, en hy eet nét wit kos. Ja, daar’s ’n peuter in jou lewe. En as jy jou huishouding van chaos wil red, moet jy plek maak vir hom in jou hart, want dié gedrag is ’n noodsaaklike deel van sy ontwikkeling. Hier is strategieë.

Hy kry die aapstuipe! 

Woedebuie kan dui op jou kind se frustrasie omdat hy hom nog nie goed genoeg in woorde kan uitdruk nie.

Maak so:

  • Bly kalm en maak asof niks gebeur nie. As jy reageer, kan hy dit as aandag beskou. Dit kan ’n bose kringloop van negatiewe aandagsoekery veroorsaak.
  • Bly stil tot die uitbarsting verby is.
  • Bly in die vertrek. As jy uitstorm, gaan hy voel jy verlaat hom.
  • As hy uit woede begin skop en seermaak, neem hom onmiddellik uit die vertrek of winkel. Verduidelik dan dat sy optrede veroorsaak het dat julle moes loop.
  • Praat oor wat gebeur het sodra hy kalm is. Help hom om die regte woorde te vind om sy frustrasie uit te druk. Laat hom insien dat hy meer gaan bereik deur te praat as deur sy humeur te verloor.

Hy val my in die rede

Dis nog ’n bekende toneeltjie: Jy prober ’n gesprek voer, maar kry skaars ’n sin voltooi omdat Jannie die hele tyd ook ’n eiertjie lê. Die verklaring is eenvoudig: Jou tweejarige glo die hele wêreld draai om hom, want almal koer en kweel dan heeltyd oor hom. Boonop is sy geheue nog nie so goed nie en hy wil daarom dadelik iets sê voor hy dit vergeet. Op daardie ouderdom is elke ding wat hy sê vir hom baie belangrik. En, verduidelik Jerry Wycliffe en Barbara Unell in Sonder raas en slaan (Tafelberg), sy ouers se aandag is ’n voorskoolse kind se kosbaarste besitting.

Maak so

  • Maak heel eerste seker dat hy nie sy slegte gewoonte by julle leer nie. Hy dink dalk dis natuurlik om mense in die rede te val.
  • Wees kwistig met woorde soos dankie, asseblief en jammer. Dit leer hom dat goeie maniere vir jou belangrik is.
  • Hou hom besig met speelgoed of sit buite wanneer vriende kom kuier.
  • Maak oproepe wanneer jou kind slaap of hou spesiale speelgoed naby jou foon. Leer hom hoflikheid met speel-speel-telefoongesprekke.
  •  Hou oproepe kort. Onthou, ’n kind kan net so lank stilsit!
  •  Laat hy op jou skoot sit terwyl jy praat. Dit sal hom laat besef hy is steeds vir jou belangrik.
  • Reël soms ’n babawagter sodat jy net weer ’n grootmensgesprek kan voer.

Hy sê vir alles nee! Hoekom?

Bloot omdat hy kan, sê Susanne Denham, ’n Amerikaanse professor in opvoedkundige kindersielkunde en skrywer van die boek Emotional development in young children (Guilford Press).

Maak so

  • Gee ’n keuse. Op ’n vraag soos “Wil jy sap hê?” kan hy moontlik nee antwoord. Maar as jy vra “Wil jy sap of melk hê?” moet hy kies.
  • Maak of jy hom ’n keuse gee, terwyl jy eintlik net jou sin kry. “Wil jy eers speel en dan bad, of dadelik bad?” is so ’n vraag. Leer hom ander woorde soos miskien, dalk of moontlik. Dalk sê hy net nee omdat hy nie baie ander woorde ken nie.
  • Gee meer aandag aan “ja” as aan “nee”.
  • Sommige dinge is ononderhandelbaar, veral as dit oor sy veiligheid gaan.

Hy hardloop weg!

Dis ook doodnormaal. Hy het pas sy onafhanklikheid begin verken én hou boonop instinktief van hardloop. Dis vir hom ’n speletjie.

Maak so

  • Wees ekstra waaksaam, veral op openbare plekke.
  • As dit veilig is om hom vooruit te laat hardloop, los hom.
  •  Leer hom waar hy maar mag hardloop en waar hy moet luister.
  • Vra hom om jou hand vas te hou omdat jy bang is jy verdwaal. Kinders hou daarvan om te help en sal dan naby jou bly. 

Help! Hy is aggressief!

’n Sekere mate van aggressie is normaal by kleuters en is gewoonlik te wyte aan ’n beperkte woordeskat, toenemende onafhanklikheid en swak impulsbeheer. Maar moenie toelaat dat dit buite beheer raak nie.

Maak so

  • Leer jou kind dat afknouery bepaalde gevolge het. Straf hom deur hom dadelik van die speelplek te verwyder en laat hom eers teruggaan wanneer hy bereid is om saam te speel sonder om af te knou.
  • Beheer jou eie humeur – weer eens, ’n kind leer uit ’n voorbeeld!
  • Leer jou kind om om verskoning te vra, selfs al voel jy hy bedoel dit nog nie. Hy sal een of ander tyd die boodskap kry.
  • Prys hom as hy hoflik teenoor maatjies optree.
  • Beperk TV-kyktyd. Selfs strokiesprente is vol geweld en lawaai. Jou kind kan dink dis normaal.
  • As jy nie jou kind se aggressie kan hanteer nie, vra sielkundige of mediese hulp. Buitensporige aggressie kan ander oorsake hê.