Ons hou almal daarvan om ons eie kop te volg en nuwe dinge te beproef, en ons ontplof almal makliker wanneer ons honger, moeg of gefrustreerd is. Peuters ook. Met die ekstra verskilletjie dat hulle alles hewiger, luider en met meer oorgawe doen, want hulle moet nog leer dat ’n mens nie altyd jou sin kan kry nie, dat daar iets soos goeie maniere bestaan en dat ’n mens jou impulse moet beheer.

En hier is die sleutel: Dieselfde gedrag wat ons nou mal wil maak, is ’n noodsaaklike deel van hulle emosionele ontwikkeling. Al kan ons dit nie heeltemal stopsit nie, kan ons dit skaaf en rig sodat ons kleingoed meer emosioneel volwasse uit hierdie fase tree.

Hier is ’n paar strategieë waarmee jy jou kan bewapen om dit reg te kry ...

‘My kind kry die aapstuipe!’

Almal se kinders kry die een of ander tyd ’n woede-uitbarsting – of, soos die woordeboek dit so kleurryk stel: Hulle gooi ’n vloermoer.

Claire B. Kopp, ’n Amerikaanse professor in toegepaste ontwikkelingsielkunde, sê woedebuie kan dui op jou kind se uiterste frustrasie omdat hy hom nog nie goed genoeg in woorde kan uitdruk om sy wense duidelik te maak nie.

Maak so

  • Bly kalm en maak asof niks gebeur nie. As jy reageer, kan hy dit as aandag beskou. Dit kan ’n bose kringloop van negatiewe aandagsoekery veroorsaak.
  • Bly stil tot die uitbarsting verby is. Hy gaan waarskynlik net ál harder skreeas jy ook aan die skree gaan.
  • Bly in die vertrek. As jy uitstorm, gaan hy voel jy verlaat hom, wat tot nog meer woede en frustrasie kan lei.
  • As hy uit woede begin skop, klap en seermaak, neem hom onmiddellik uit die vertrek of winkel. Verduidelik dan dat sy optrede veroorsaak het dat julle moes loop.
  • Praat oor wat gebeur het sodra hy kalm is. As jy weet wat hom ontstel het, help hom om die regte woorde te vind om sy frustrasie uit te druk. Laat hom insien dat hy meer gaan bereik deur te praat as deur sy humeur te verloor.
  • Vermy situasies soos honger en moeg­heid wat uitbarstings kan veroorsaak. 
  • Kry mediese hulp en raadpleeg ’n kindersielkundige as jou kind ná 30 maande oud steeds elke dag ont­-plof, of as hy sy asem tydens ’n vloermoer ophou. 

‘Hy bly my in die rede val!’

Dis nog ’n bekende toneeltjie: Jy probeer ’n gesprek voer, maar kry skaars ’n sin voltooi omdat Jannie die hele tyd ook ’n eiertjie lê.

Die verklaring is eenvoudig: Jou tweejarige glo die hele wêreld draai om hom, want almal koer en kweel dan heeltyd oor hom. Boonop is sy geheue nog nie so goed nie en wil hy daarom dadelik iets sê voor hy dit dalk vergeet. (Onthou, op daardie ouderdom is elke ding wat hy sê vir hom baie belangrik.)

En, verduidelik Jerry Wycliffe en Barbara Unell in Sonder raas en slaan (Tafelberg-uitgewers), “sy ouers se aandag is die kosbaarste besitting van enige voorskoolse kind”.

Maak so

  • Maak heel eerste seker dat hy nie sy slegte gewoonte by julle leer nie. Hy dink dalk dis natuurlik om mense in die rede te val.
  • Wees kwistig met woorde soos dankie, asseblief en jammer. Dit leer hom dat goeie maniere vir jou belangrik is.
  • Hou hom besig met speelgoed of sit buite wanneer vriende kom kuier. 
  • Maak oproepe wanneer jou kind slaap of hou spesiale speelgoed naby jou foon. Koop vir hom ’n speelgoedfoontjie en leer hom hoflikheid met speel-speel telefoongesprekke. 
  • Hou oproepe kort. Onthou, ’n kind kan net so lank stilsit!
  • Laat hy op jou skoot sit terwyl jy praat. Dit sal hom laat besef hy is steeds vir jou belangrik.
  • Reël soms ’n babawagter sodat jy net weer ’n grootmensgesprek kan voer.

‘Hy sê vir alles nee!’

Hoekom? Bloot omdat hy kan, verduidelik Susanne Denham, ’n Amerikaanse profes­sor in opvoedkundige kindersielkunde en skrywer van die boek Emotional Development in Young Children (Guilford Press).

Maak so

  • Gee ’n keuse. Op ’n vraag soos “Wil jy sap hê?” kan hy moontlik nee antwoord. Maar as jy vra “Wil jy sap of melk hê?” moet hy kies. 
  • Maak of jy hom ’n keuse gee terwyl jy eintlik net jou sin kry. “Wil jy eers speel en dan bad, of dadelik bad?” is so ’n vraag. Al wat belangrik is, is dat hy wel uiteindelik bad. 
  • Leer hom ander woorde soos miskien, dalk of moontlik. Dalk sê hy net nee omdat hy nie baie ander woorde ken nie.
  • Gee meer aandag aan “ja” as aan “nee”.
  • Sommige sake is ononderhandelbaar, veral as dit oor sy veiligheid gaan. Onthou, jy bly die ouer en mag soms sê hy moet iets doen omdat jy so sê!

‘Hy hardloop vir my weg!’

Dis ook doodnormaal. Onthou, hy het pas sy onafhanklikheid begin verken én hou boonop instinktief van hardloop. Dis nie ongehoorsaamheid nie, maar ’n speletjie.

Maak so

  • Wees ekstra waaksaam, veral op openbare plekke.
  • As dit veilig is om hom vooruit te laat hardloop, los hom. Moenie agter hom aanhardloop nie. Hy sal in ’n stadium self stop en omkyk om jou reaksie te sien – en as jy nie reageer nie, sal hy gewoonlik self terughardloop.
  • Leer hom waar hy maar mag hardloop en waar hy moet luister. Neem hom gereeld na ’n plek waar hy na hartelus kan hardloop.
  • Vra hom om jou hand vas te hou omdat jy bang is jy verdwaal. Of om die trollie te help stoot. Kinders hou daarvan om te help en hy sal dan naby jou bly.

‘Help! My kind is aggressief!’

’n Sekere mate van aggressie is normaal by kleuters en is gewoonlik te wyte aan ’n beperkte woordeskat, groeiende onafhanklikheid en swak impulsbeheer. Maar moenie toelaat dat dit buite beheer raak nie.

Maak so

  • Leer jou kind dat ’n afknouery bepaalde gevolge het. Straf hom deur hom dadelik van die speelplek te verwyder en laat hom eers teruggaan wanneer hy bereid is om saam te speel sonder om af te knou. 
  • Beheer jou eie humeur – weer eens, ’n kind leer uit ’n voorbeeld!
  • Leer jou kind om om verskoning te vra, selfs al voel jy hy bedoel dit nog nie. Hy sal wel die een of ander tyd die les leer.
  • Prys hom as hy hoflik teenoor maatjies optree. Dan sal hy dit weer wil doen.
  • Beperk skermtyd. Selfs strokiesprente is vol geweld en lawaai. Jou kind kan dink dis normaal. Volgens die Amerikaanse vereniging van pediaters behoort ’n kind jonger as twee om dié rede glad nie TV te kyk nie.
  • As jy nie jou kind se aggressie kan hanteer nie, soek sielkundige of mediese hulp. Buitensporige aggressie kan ander oorsake hê.
8 planne met vloerstuipe

1. Moenie ’n bohaai maak oor klein dingetjies nie. Gaan dit die einde van die wêreld wees as hy ’n onpaar sokkies dra? Onthou, hy wil sy onafhanklikheid toets en dit soms uitoefen.

2. Let op na wat jy sê. Sê jy aanmekaar (en soms onnodig) nee? Motiveer soms jou nee – hoe anders gaan jou kind leer hoekom hy iets nie mag doen nie? Hy sal dalk beter reageer op “Tel asseblief jou blokkies op voor iemand daaroor val en seerkry” as op ’n bars “Nee, moenie jou blokkies net daar los nie!"

3. Volg jou moederinstink. As ’n drukkie ’n woede-uitbarsting sal stopsit, géé hom ’n druk. Jou kind se gedragsprobleme is dalk te wyte aan onsekerheid, skeidingsangs of’n ander emosionele rede.

4. Moenie onderhandel of toegee aan ’n kind se eise nie. As jy jou eenmaal laat manipuleer, sal jou kleuter dit weer en weer waag.

5. Wees konsekwent in jou dissipline, anders gaan jy jou peuter deurmekaar maak.

6. Roetine, roetine, roetine! As jou kind weet wat om volgende te verwag, gaan hy minder onvoorspelbaar optree.

7. Moet nooit ’n kind se logika onderskat nie.

8. Vergeet dit wat verby is. As jy jou kind gedurig herinner aan negatiewe gedrag, gaan hy dit weer probeer.