Jou baba begin dalk eers ná sy eerste verjaardag praat, maar sy spraak begin al ontwikkel terwyl hy nog knus binne-in jou maag lê.

Mettertyd vloei ’n hele rits ontwikkelingsprosesse saam en stel jou kind in staat om ’n ongelooflike mylpaal en prestasie te behaal: spraak. In die baarmoeder begin hy na klanke luister, ná geboorte kommunikeer hy deur te huil, dan begin hy geluidjies maak, later begin die klankies ál meer na spraakklanke klink. En dan, uiteindelik, begin hy babbel, sê prof. Alta Kritzinger, ’n spraaktaalterapeut wat in vroeë ingryping spesialiseer.

“Die gebabbel is eintlik net inoefening. Dis net een kenmerk van voorspraakse ontwikkeling, maar dis baie belangrik om die motoriese plan vir spraak vas te lê.”

En die motoriese plan is waarom dit uiteindelik gaan: daardie vermoë wat onshet om, sonder dat ons weet, te beplan watter spiere ons hoe moet beweeg om spesifieke klanke voort te bring.

Daar is baie variasie in kinders se spraakontwikkeling, maar van 10 maande af kan hulle al woorde deur spraak aan betekenis koppel, soos “ma-ma”. Spraak- en taalontwikkeling loop hand aan hand, sê Alta.

“Aan die begin is die woordjies sporadies, en ’n paar weke kan verbygaan voor jou kind ’n woordjie herhaal.” Herhalende klanke soos “ma-ma” of “ta-ta” vorm deel van die baba se interne ontwikkelingsplan vir spraak, maar dit moet gestimuleer word deur interaksie met ’n volwassene.

Tussen 10 en 16 maande oefen kinders hul eerste woorde en patrone. Vir elke nuwe woord wat hulle leer, is daar ’n motoriese plan. 

Die resep vir spraak

Verskillende komponente dra by om te verseker dat jou kind se spraak normaal ontwikkel, sê Alta.

1. Normale gehoor

As jou baba nie goed kan hoor nie, sal hy nie goed kan praat nie. Babas en peuters hoor hulleself en ander en verfyn die spraakmotoriese plan wat hulle uit hul langtermyngeheue oproep om mee te werk.

2. Interaksie met ma en ander belangrike mense

Jou kind se binding en verhouding met jou is baie belangrik vir sy spraakontwikkeling – trouens, dit help sy spraakontwikkeling bepaal. Jy leer jou baba so goed ken dat jy weet hoe om hom reg te stimuleer, watter klank om te maak om hom te laat lag, watter liedjie om te sing of dingetjies om te sê om hom te amuseer, sy aandag af te lei, hom te kalmeer of snaaks te wees.

Die feit dat jy elke keer op hom reageer, is hoe hy leer praat. As hy geluidjies maak, rek jy jou oë, boots hom na en prys hom sodat hy dit weer wil doen. Hierdie interaksie met jou, en ook met sy pa en later ander gesinslede en oppassers, is verskriklik belangrik.

3. Gesonde artikulasiestrukture

Die artikulasiestrukture is die meganismes wat asemhaling, stemgewing, resonansie en vorming van klanke moontlik maak. Dit behels hoe die klanke in die neus en mondholte klink, die vervorming van die klanke deur die tong en in die mondholte en die verskil in klank as die kakebeen lig of sak.

Om klank te vorm, het ’n baba bepaalde artikulatoriese strukture en die funksies daarvan nodig. Daarom vind ’n baba met ’n gesplete verhemelte spraak moeiliker, want die verhemelte is anders en daarom klink die klank anders.

4. Ouditiewe verwerking

Jou baba moet spraak kan hoor en volgehoue aandag daaraan kan gee (luister), maar hy moet ook kan hoor dat sekere klanke anders is as ander (onderskei tussen klanke), en uit dit wat hy hoor, moet hy betekenis kan heg aan klanke (verstaan).

5. Behoefte aan kommunikasie

Jou baba moet wíl kommunikeer. Dit hou ook verband met die hegte band met jou en die stimulasie van die omgewing. ’n Baba stel belang in iets, kyk daarna en kyk dan na sy ma asof hy vra: “Wat is dit?” Daardie behoefte om te wil weet is baie belangrik. Babas met outisme leer taal nie op die gewone manier aan nie, want hul behoefte aan kommunikasie is nie so groot nie.

6. Neurologiese ryping en breinontwikkeling

Spraak het ’n baie spesifieke motoriese ontwikkelingsplan wat anders lyk as die motoriese plan vir byvoorbeeld eet, al gebruik jy vir albei jou mond. Jou baba kan immers by geboorte al suig en sluk, maar nog nie praat nie.

Dit is deels omdat die verbindings in die brein wat vir spraak nodig is, eers gevorm moet word en miëlinasie (die vorming van ’n vetterige laag om die senuselle) moet plaasvind sodat die breinboodskappe wat vir spraak nodig is, vinniger kan beweeg.

Vir spraak het jy ’n heeltemal ander interne plan van aksie nodig om die nodige spierbewegings uit te voer. Spraak het jou mees gesofistikeerde motoriese plan.

7. Geheue

Jou baba moet kan onthou om te kan praat. Hy moet patrone na sy werkgeheue (waar hy inligting tydelik berg en daarmee werk) kan oproep, maar ook inligting dieper in die langtermyngeheue kan bêre sodat hy dit elke keer kan herroep as hy wil praat.

8. Soms net stilte

Nuwe navorsing wys dat as daar gedurig verskriklik baie geraas in die klankomgewing is, dit met taalontwikkeling kan inmeng.

Sulke geraas sluit in radio’s en televisiestelle wat gedurig speel of mense wat baie hard met mekaar praat sonder om met baba te praat. Dit maak dit vir jou kind moeilik om tussen klanke te onderskei en te fokus op sekere klanke om woorde aan te leer.

9. Gesonde dieet

Goeie voeding, spesifiek borsvoeding, is nodig vir gesonde breinontwikkeling. Omdat spraak jou hoogste vaardigheid is, is goeie voeding ’n duidelike goue draadjie wat deur die hele ontwikkelingsproses loop.