#1 Veilige balle

’n Kleuter wat heeldag in die huis vasgekeer is, kan baie woelig word. Balle en ’n huis is meestal nie goeie speelmaats nie, maar ’n lekker sagte papierbal kan uitkoms bied. Vra jou kleinding om jou te help en frommel ’n paar blaaie koerantpapier om vir julle balle van verskillende groottes te maak. As hulle uitmekaar wil val, kan julle dit met aluminiumfoelie oortrek. Julle is nou slaggereed vir ’n hele verskeidenheid speletjies. Julle kan die balletjies om die beurt in ’n asdrom sowat 2 meter (of verder, afhangende van jou kleuter se vaardigheid) gooi, of julle kan na ’n verskeidenheid teikens soos kussings gooi. Laat die asdrom op sy sy lê terwyl jou kleinding mooi mik om die bal daarin te skop. Julle kan ’n gholf- of hokkiestok van die koerantpapier maak (draai dit vas met maskeerband) en die bal in die asdrommetjie probeer slaan. ’n Leë papierhanddoekrol kan ook as kolf werk. Ballonne is ander skadelose binnenshuise balle – kyk hoe lank julle een in die lug kan hou voor dit die grond raak.

WENK
Skuif die meubels in jul leefvertrek weg sodat julle ’n groot oop plek het waar julle kan speel, of trek die motors uit die motorhuis om daar te speel. Pak enige breekgoed weg om skade te voorkom.

#2 Maskeerbandpret

Al ooit gedink doodgewone maskeerband kan jou help om die winterverveling baas te raak? Gee elke kind sy eie rol en omskep saam die kombuis of ’n ander geteëlde deel van die huis in enigiets wat jou kind se hart begeer. Gee jul verbeelding vrye teuels. Plak die buitelyne van huise op die vloer en rig vir elkeen sy eie plekkie binne hierdie grense in sodat julle huis-huis kan speel. Of plak ’n hele dorp met paadjies en vierkantige blokkies vir geboue en sirkels vir bome. Laat die kleinspan met karretjies daarin los. Bou ’n wedrenbaan en hou wedrenne. Plak dierhokke vir jul eie dieretuin met plastiekdiertjies. Laat die kleinspan een vir een plat op die rug lê en plak hul lyfie se buitelyn met die maskeerband af sodat dit lyk of daar ’n klomp kinders op die vloer lê. Hulle kan dan met jou hulp vir hulleself gesigte, hare en ander versierings byplak. Julle kan ook die kombuis met die maskeerband in ’n reuse nulletjies-en-kruisies-bord omskep, of ’n hinkspelbaan (hopscotch) “teken”. As jy meer opvoedkundig wil wees, kan jy verskillende vorms op die vloer plak wat groot genoeg is dat jou kind daarin kan staan. Speel musiek – hy kan rondhardloop terwyl dit speel, maar as jy dit afsit en skree “vierkant!” of “driehoek!” moet hy op die betrokke vorm gaan staan.

#3 Waar kruip dit weg?

Jy kan dit op ’n verskeidenheid maniere aanpak. Steek ’n kookwekker weg terwyl die kleingoed in die kamer langsaan wag. Stel die wekker sodat dit sal lui kort nadat jy dit weggesteek het. Sodra dit begin lui, kan die kinders begin soek – die idee is dat hulle na die klank luister en so probeer om die wekker op te spoor voor dit ophou lui. Nog wegsteekpret is om ’n verskeidenheid van die kinders se gunsteling-speelgoed oral in ’n kamer weg te steek sodat hulle daarna soek. Maak ’n lysie van wat hulle alles moet kry sodat hulle weet wanneer alles gevind is. Jy kan ook 10 kartonhartjies in ’n vertrek wegsteek en hulle laat soek tot hulle al 10 kry. Pak een van elke maat van Snap-of geheuekaarte in julle leefarea uit op meubels soos die bank, koffietafel, vensterbank en stoele. Gee dan vir elke kind vyf kaarte en laat hulle na die identiese maats soek wat in die vertrek rondlê. Of steek iets weg en sê “warm” as hulle naby kom en “koud” as hulle ver daarvan af is tot jy hulle so tot by die item lei.

WENK
As jy dinge deur die hele huis wil wegsteek, gee lekkergoed-leidrade soos Hansie en Grietjie-paadjies van Smarties of ander lekkergoed wat hulle in die regte rigting lei. Jou kinders sal dol wees oor hierdie leidrade!

#4 Swaaibal

Hierdie speletjie gaan ongetwyfeld tot ’n groot gegiggel lei! Druk ’n appel of tennisbal tot by die voetgedeelte van ’n ou sykous af. Bind die sykous om jou japsnoet se lyf vas sodat die appel of tennisbal tussen sy voete hang sonder om die grond te raak. Doen jy dieselfde. Sit ’n tennisbal op die vloer neer en stel vir elkeen doelpale op aan teenoorgestelde kante van die vertrek (dit kan twee kussings wees). As julle meer as twee is, kan julle spanne vorm. Die idee is om die tennisbal te probeer raakslaan met die bal of appel in die sykous sodat julle doele kan aanteken – natuurlik sonder om jul hande te gebruik. Die sykous sal woes rondswaai en dit kan erg komieklik lyk en voel!

#5 Vang vis

Julle kan dalk nie in slegte weer langs die viswaters gaan staan nie, maar dit hoef nie te keer dat jy en jou japsnoet ’n paar visse vang nie! Maak vir die kleingoed elkeen ’n visstokkie met ’n stokkie en ’n toutjie. Vooraan die toutjie kan jy ’n hakie van ’n oopgebuigde skuifspeld hang, of jy kan ’n klein magneet daaraan vasbind. Knip vissies uit gekleurde karton en sit ’n skuifspeld vooraan sodat jy hulle daaraan kan vang. Skryf op elke vissie ’n opdrag. Maak party sommer lekker laf, soos: “Trek ’n lelike gesig”, “Gee jou ma drie soene”, “Tel tot vyf” of “Jy verdien ’n lekkertjie!”

#6 Nuussake

Maak ’n video-opname met jou slimfoon. Krap in jou kaste en soek klere waarmee jou kinders hulle kan uitvat: enigiets van serpe en hoede tot ou brille. Grimering en gesigverf kan ook ingespan word en sal die kleinspan laat jil van plesier, veral as hulle mekaar se gesigte kan verf! Help snorre en moesies of fraai vlinders teken. Druk kussings in vir boepmagies en gryp ’n paar ou hoëhakskoene uit jou kas. Help hulle dan besluit wat hulle gaan aanbied, byvoorbeeld die nuus of dalk ’n konsert spesiaal vir pappa – dink net watter lekker verrassing dit vir hom sal wees as hy van die werk af kom! Dis ook ’n lekker geskenk vir oupa en ouma. Laat die kinders – uitgevat na hul smaak – van die liedjies sing wat hulle ken, rympies opsê, dans en sommer net laf wees voor die kamera. Moet ook nie vergeet om hierdie kosbare opname te bewaar nie – as hulle eendag tieners is, gaan julle julle nog slap daaroor lag.

#7 Tydskrif-skattejag

’n Outydse skattejag in die huis is nooit te versmaai is nie, maar dis goed om soms ’n nuwe aanslag te beproef. Vir hierdie aktiwiteit sal jy ’n bietjie voorbereidingswerk moet doen: Stel ’n soeklysie met sowat 10 items op. Gee vir elke kind ’n tydskrif en ’n skêr of plaknotas. Elke kind moet dan in die tydskrif al die goed op die lysie soek en dit uitknip of ’n plaknota langsaan plak. Die een wat eerste alles op die lysie gekry het, wen. Dit moet items wees wat die kinders maklik kan vind; pas dit dus by jou kind se ouderdom aan en sit gerus hand by as hy vashaak. As jou kind byvoorbeeld die basiese kleure pas baasgeraak het, kan jy hom na enige item in ’n spesifieke kleur laat soek. Vir ouer kinders kan jy ’n letter of syfer op die lysie plaas, en dan moet hy die letter soek. Jy kan ook items wat jy self uit tydskrifte geknip het op ’n papier plak om die soeklysie te vorm sodat jou kind dit self kan “lees” en dan identiese items kan gaan soek.

#8 Raai die inhoud

Maak vir die kinders een of meer vat-en-voel-boksies. Enige skoendoos kan werk. Sny ’n gat in die kant van die boks wat net groot genoeg is dat jou kind se hand daardeur kan pas, en versier dit mooi. Plak die onderkant toe met was­papier of plakplastiek sodat jy dit maklik kan skoonvee. Plaas ’n item in die boks sonder dat jou kind sien wat dit is. Sy moet dan haar hand insteek en voel of sy kan agterkom wat daarin is. Sy mag jou vir leidrade vra. Begin met een­voudige gebruiksartikels soos ’n tandeborsel of vrug, maar wissel dit af met meer grillerige goed met verskillende teksture soos ’n bakkie meel, gekookte spaghetti of pampoenpitte. 

#9 Blaaspret

Kleurryke papierstrooitjies kan vir groot pret sorg en gee terselfdertyd jou kind se gesigspiere oefening. Gee vir elke kind ’n strooitjie en laat hulle regoor mekaar by die tafel sit. In die middel plaas jy ’n veertjie. Elkeen moet probeer om die veertjie eerste aan die ander kant af te blaas. Daarna kan julle ’n tafeltennisbalwedren op die kombuisvloer hou: Elkeen moet sy bal deur die strooitjie vorentoe tot oor die wenstreep blaas – eerste daar wen natuurlik.

#10 Malvalekker-konstruksie

Wintertyd woel met die aptyt, en wat is dan beter as om die kleingoed met kos besig te hou? Bederf hulle en pak bakkies met groot sagte malvalekkers, Jellie Tots, sagte koekies en ander sagte smulgoed uit, vergesel van ’n bondel tandestokkies. Daag hulle uit om mannetjies, karretjies en diere met die lekkers te bou en kyk waarmee hulle vorendag kom. Natuurlik sal heelwat van die soetgoed ook hul weg direk mond toe vind. As jy ’n gesonder weergawe wil beproef, kan julle dieselfde met komkommerstukkies en -wieletjies, kersietamaties, brood, en kasies doen. Met langer sosatiestokkies kan groter konstruksies soos huise gebou word. 

Bonusidees
  • Sit musiek met ’n sterk ritme op en laat almal op die maat daarvan dans. Skakel dit skielik af. Almal moet dan vries in die posisie waarin hulle is. Die idee is dat een met sy been in die lug moet vries, en die ander met sy mond wyd oop of sy gesig snaaks getrek.
  • Teken jou kinders se lywe af op ongedrukte koerantpapier en laat hulle dit versier met alles van blinkertjies, vingerverf en stukke lap tot knope, geskenkpapier en papier wat uit tydskrifte geskeur is.
  • Gee die kinders elkeen ’n paar gladde klippe en verf, en laat hulle die klippies versier om as deurstuiters te gebruik, in potplante te pak of die huis mee te versier.
  • Speel “waar’s die krokodil?” Die speelkamer verander in ’n groot rivier en die enigste manier om van een kant na die ander te kom is om van klip tot klip te spring – doen dit op ’n mat en gebruik kussings as die klippe.
  • Bou ’n huisie onder die eetkamertafel. Dit bly ’n treffer!
  • Versier jul vensters met nat bordkryt – dit lyk pragtig en was maklik af.
  • Maak julle eie xilofoon met glase wat verskillende hoeveelhede water bevat. Laat jou kind met ’n teelepel op die glase tik en die verskillende toonhoogtes hoor. Giet water by of uit waar nodig.