Eiergooi, sakresies, driebeenresies en kruiwastoot... bring dit warm herinneringe terug? As jou klein stads- of selfs plaasjapie nie weet wat hierdie dinge is nie, is dit hoog tyd dat julle ’n dag vol pret en plesier opsysit om toeka se speletjies te herontdek.

Boeresport was nog altyd so deel van die Afrikaanse kultuur soos bobotie en koeksisters en dit is ewe lekker. Moenie dink jou kleutertjie is te klein om dit te geniet nie – jy sal dalk die reëls moet aanpas, maar outydse boeresport sal ’n treffer wees op enige partytjie en sal net so goed werk as maats of die familie se kleingoed kom kuier of vriende in die park saamtrek. Hier is ’n paar ou treffers wat julle gerus kan afstof. 

Wasgoedpennetjiepret

Span ’n lyn tussen twee pale, laag genoeg dat die kleingoed dit met gemak kan bykom. Voorsien elke kleinding van ’n emmertjie vol wasgoedpennetjies. Sodra jy die fluitjie blaas, moet hulle probeer om binne ’n minuut soveel wasgoedpennetjies moontlik aan die draad vas te knip. Sorg dat die ma’s gereedstaan vir die nodige aanmoediging!

Sakresies

Sakresies is nie net heerlike pret nie, dis ook uitstekende groot motoriese oefening vir jou asjas. Hoor by die koöperasie of hulle streepsakke het of maak groot hondekossakke bymekaar waarin die kinders kan hardloop. Sommige speelgoedwinkels bied ook sakresies-sakke te koop aan. Die resies self is eenvoudig: Die kinders moet agter ’n streep met albei voete binne-in die sak staan. Sodra die fluitjie blaas, kan hulle na die wenstreep toe afsit. Hulle kan in die sak spring of hardloop, wat hulle ook al verkies. Moedig hulle met oorgawe aan. 

Driebeenresies

Vra die kinders om elkeen ’n maatjie te kies en help die verdwaalde skapies wat sukkel om by mekaar uit te kom sodat hulle twee-twee in groepies staan. Laat hulle langs mekaar staan en bind hul binnevoete om die enkels met ’n sagte lap soos ’n stoflap aan mekaar vas sodat hulle dit saam moet beweeg om vorentoete loop.

Dit sal baie help as twee volwassenes eers vir die kleinspan wys hoe hulle driebeen moet loop, naamlik binne-buite, binne-buite, met hulle binnearms om mekaar se lywe gehaak. Laat hulle ’n bietjie oefen voor hulle in die ry moet staan vir die wegspring – dis deel van die pret. Blaas die fluitjie en hulle kan laat wiel!

Kruiwaloop

Vir kruiwastoot het jy geen toerusting nodig nie en dis ’n uitstekende ontwikkelingsoefening vir die skouers en bolyf. Dit werk so: Elke kind kry ’n maatjie. Hulle moet verkieslik omtrent dieselfdelengte wees. Laat die twee agter mekaar staan.

Die eerste een moet handeviervoet gaan staan terwyl die agterste een die voorste maat se voete om sy enkels vasvat en dit optel. Die voorste maat moet sy bene styf maak, soos ’n kruiwa se handvatsels. Die agterste maat moet dan vorentoe loop terwyl die voorste maat op sy hande vorentoe loop. As hulle anderkant die wenstreep kom, moet hulle omruil en weer terugloop.

Toutrek

Kies ’n dikkerige tou van sowat 1,5 cm in deursnee wat nie te glad is nie en wat maklik deur kleuterhandjies
vasgehou kan word. Aan die middel van tou word ’n rooi lap as merker vasgebind. Deel die kleinspan in twee spanne. Kies ’n gelyk terrein, trek ’n streep in die middel en twee parallelle strepe sowat ’n halwe meter aan weerskante van die middelstreep.  

Laat die tou dwars lê met die rooi lap op die middelste streep. Laat die spanne langs die tou staan, aan weerskantevan die tou en sowat ’n meter van die rooi merker af. Hulle moet die tou styf trek sodat die rooi merker reg bo die middelste streep is, maar nog nie hard genoeg om die ander span te probeer wegtrek nie.

Sodra jy die fluitjie blaas, kan hulle in alle erns begin trek. Sodra die merker oor een van die buitenste strepe beweeg, wen die span aan daardie kant.

Aartappelresies 

Hiervoor het jy ’n klomp aartappels en lepels nodig – een vir elke kind. Die kinders moet almal agter ’n streep staan, elkeen met sy lepel met ’n aartappel daarop gebalanseer. Sodra die fluitjie blaas moet hulle probeer om so vinnig moontlik na die wenstreep te hardloop sonder dat die aartappel afval. Hulle mag nie met hul hande of
vingers aan die aartappel raak nie. 

Appel hap

Dis ’n morsige storie, maar kleuters sal dol daaroor wees. Laat ’n kleinerige appel in ’n skotteltjie water dryf. Die
kleinding moet dan probeer om die appel met sy mond te hap sonder om sy hande te gebruik. Hy moet sy handjies deurentyd agter sy rug hou.

As hy klaar die appel gehap het (of moed verloor het!), moet hy met sy nat gesig ’n Smartie of ander klein lekkertjie uit ’n bord meel probeer hap, weer eens sonder om sy hande te gebruik. Moet egter nie te veel meel gebruik sodat die kleinspan daarin verstik nie. Hou beslis die kamera gereed vir al hul pogings.

Waterkaskenades

Waterpret in enige vorm is altyd gewild en hier kan jy jou verbeelding gebruik afhangende van wat jy tuis beskikbaar het. Een idee is om vir elke kind ’n emmertjie of bekertjie te gee wat vol gate is sodat die meeste water uitspuit terwyl hulle daarmee hardloop.

Hulle moet dan water uit ’n groot sinkbad skep en probeer om elkeen sy eie groot emmer sowat 5 meter van die sinkbad af vol te maak. Die een wie se groot emmer eerste vol is, wen. Of jy kan die kinders laat dans met ’n glasie water op elkeen se kop – as dit afval, is hy uit!

Kussinggeveg

Kussinggevegte word gereeld by boeresportbyeenkomste gesien en sal jou kleutertjie laat jil van plesier! Jy kan
dit op twee maniere aanpak: Jy kan ’n sponsmatras as gevegskryt gebruik en sodra een van die teenstanders
buite die kryt beweeg, wen die ander een die geveg. Of jy kan ’n ronde paal (sterk en sonder splinters) sowat ’n meter bo die grond opstel met ’n sagte, dik matras daaronder waarop die kinders kan val as hulle afgeslaan word. Die kinders moet dan tegelyk balanseer en slaan. 

Eiergooi

Dis nog ’n morsige aktiwiteit – bêre dit dus liefs tot naby aan die einde sodat hulle tydens die waterkaskenades kan was. Laat elke kind ’n maatjie kies en laat hulle ’n halwe meter van mekaar af in twee rye staan, elkeen regoor sy maatjie.

Al die kinders in die een ry ontvang dan ’n rou eier. As jy roep “Gooi!” moet hulle die eier vir hul maatjie gooi en hul maatjie moet dit probeer vang. Dan moet die kinders met die eiers elkeen een tree agteruit gee. Jy roep weer “Gooi!” en hulle moet die eier vir hul maat teruggooi, wat op sy beurt weer ’n treetjie agteruit moet staan voor hy weer gooi.

Herhaal dit tot al die eiers gebreek is – wat waarskynlik sommer gou gaan wees.