Babakamer: Droomverlore

akkreditasie
Dié pragtige dogtertjiekamer in Ruimsig, Johannesburg, is met liefde en sorg deur die ouers self aanmekaargesit. Spesiale aandenkings en versierings met betekenis maak dit ekstra mooi.

Sy en haar man, De Waal, het self ontwerp en gemaak, afgeskuur, geverf en opgehang, sê Luzanne Marais, ma van Mia, die baba wat in die mooi kamer woon. Behalwe vir haar en haar man se handewerk is daar ook heelwat elemente wat deur ander familielede en vriende gemaak of present gegee is.  Die muurversiering is deur Luzanne Marais self geteken en geverf. Dit het intussen in 'n stokperdjie ontwikkel en sy het sedertdien al 'n paar babakamers se mure geverf. 

Dié stoel is deur Luzanne se oupa gemaak en was 'n geskenk vir haar 21st verjaardag. Hulle het dit afgeskuur en in dieselfde styl as die res van die meubels geverf. 

Die opgestopte materiaalharte, handgemaak deur Luzanne en haar ma, hou nou die gordyn in plek, maar was eers deel van Luzanne se trouversierings. 

Luzanne versamel harte en het oor die jare ook al 'n paar van vriende en familie ontvang. Van dié harte is nou in Mia se kamer as versierings. Dis oral: op rakkies teen kaste en mure en die deur. Daar is selfs 'n kussing in die vorm van 'n hart. 

Orgideë is volop in die Marais-huis, en die babakamer word nie uitgesluit nie. 'n Orgidee is 'n slim opsie vir mense wat graag plante in hul babakamer wil sit. Die silwer ballerina op die kassie was 'n geskenk van haar suster met die koop van die huis. 

Luzanne het die spieël by Biggie Best gekoop. 'n Spieël op die regte plek kan 'n kamer baie groter laat vertoon. Baba's hou ook daarvan om hulself in 'n spieël te bekyk. 'n Raam rondom die ligskakelaar sorg vir finale afronding.

 

Een van die bruin beertjies op die rak teen die muur is jare gelede deur Luzanne se ma gemaak. Houtletters verkondig trots wie se kamer dit is. 

Mia se ouers het die doekruilkas, rakke en babakot self geverf. Hulle is gek oor die "antieke" verftegniek en die meubels wat dieselfde lyk, sorg vir 'n gevoel van eenheid. 

'n Draadpop staan teen die een muur, aangetrek in 'n tutu wat Mia dalk ook eendag sal kan dra.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees