Hope kinderpret by Aardklop 2015

akkreditasie
Clover Aardklop 2015
Clover Aardklop 2015
Press release
Vanjaar se Clover Aardklop, van 6 tot 10 Oktober in Potchefstroom, is propvol familiepret!

Die skoolvakansie is om die draai en jy kan reeds nou jou kaartjies bespreek vir vanjaar se Aardklop-fees. Toegang tot die feesterein is vriendelik op die sak en sluit tonne aksie vir die hele gesin in.

Kinderkonserte: In die kindertent kom kuier Tjiff & Tjaff, Sonja en Tjokker, Lollos én Oom Karoolus en Lente. Die konserte vind plaas elke feesdag om 10:00, 12:00 en 14:00. Vrydag 9 Oktober en Saterdag 10 Oktober is daar ook om 16:00 vertonings.

Speelpark: Die speelpark is daagliks van 10:00 tot laat in die aand oop.

Oppasdiens: Vir ‘n minimale fooi is daar ‘n oppasdiens op die feesterrein waar ouers hul kinders in bekwame hande kan los, maar as ma en pa wil saam speel, is die toegang gratis. Daar gaan sandkuns gemaak word, met klei gespeel word, gesigte gaan geverf word en vir dié met baie energie is daar springkastele om op te baljaar. Die oppasdiens is van 09:00 tot 17:00 beskikbaar.

Stalletjies: Ook op die feesterrein is daar stalletjies waar heerlike kos gekoop kan word. ‘n Nuwe toevoeging tot Clover Aardklop vanjaar, is ‘n leefstylarea waar feesgangers onder ‘n tent kan kuier met wyne uit die Rawsonville-area en kos wat brode, smere, olywe en kaas insluit. Daar sal ook boetiekbier te koop wees.  

Tienertoneel: Die finale rondte van die ATKV Tienertoneel-kompetisie is vanjaar weer by Clover Aardklop en verskeie van die produksies het geen ouderdomsbeperking nie. Kom beleef die jong talent van Suid-Afrika in hierdie uitsonderlike produksies.

Kunsklas: Gaan maak ‘n draai by die Alumni-saal by die kykNET Ouditorium waar die 2014 L’Atelier-wenner, Liberty Battson, gaan wys hoe om met strepe te werk. Die kunsklas is slegs 15 minute lank en is daagliks van 09:00 tot 17:00. Jy kan van die FNB-pendeldiens gebruik maak om van die feesterrein na die Alumni-saal te reis.

• Musiek: Deur die dag word daar op twee verhoë op die feesterrein musiek gemaak. Die OFM-verhoog en die FNB-verhoog sal beide blootstelling aan opkomende kunstenaars gee. Saans gaan hulle groot!

Op Dinsdag 6 Oktober is dit tyd vir Afskop met Wynand en Chereé, Marcato, Blackbyrd, Georgia en Henk Grimsel wat ook as seremoniemeester sal optree.

Die Woensdag-kuierkonsert op 7 Oktober het Pieter Smith, MoniQue, Jakkie Louw, Elizma Theron en Bok van Blerk op die verhoog met die komediant Barry Hilton as seremoniemeester. Die Wêreldbeker-rugbywedstryd tussen die Springbokke en die VSA sal om 16:45 op die grootskerm gewys word.

Met die Donderdag-kuierkonsert op 8 Oktober gaan Snotkop, Liza Brönner, Ricus Nel, Gerhard Steyn, Andriëtte Norman, ADAM en Steyn Fourie en die Steyners die gehoor vermaak.

Vrydag-jol spog met Steve Hofmeyr, Karlien van Jaarsveld, Dewald Wasserfall, Riana Nel, Bobby van Jaarsveld en Theuns Jordaan op die verhoog. 

Vir die Saterdag-opskop op 10 Oktober gaan Juanita du Plessis, Kurt Darren, ddisselblom, Karen Zoid en Wynand en Chereé skare op hulle voete hê. Die seremoniemeester is Pieter Koen. 

Toegang:

Kinders onder 6 jaar kry gratis toegang. ‘n Weekkaartjie vir die duur van die fees is R300 vir volwassenes en R200 vir kinders ouer as 6 jaar. Toegang sluit outomaties toegang tot die aand se groot konserte in. Indien jy net vir ‘n dag of twee wil kom, is die kostes as volg:

Dinsdag 6 Oktober: R50 vir volwassenes, R30 vir kinders
Woensdag 7 Oktober: R80 vir volwassenes, R40 vir kinders
Donderdag 8 Oktober: R100 vir volwassenes, R60 vir kinders
Vrydag 9 Oktober en Saterdag 10 Oktober: R120 vir volwassenes en R70 vir kinders

Kaartjies vir Clover Aardklop is by Computicket beskikbaar. Om jou feesterreinkaartjies te bespreek, klik hier.

Vir meer inligting, besoek die Aardklop-webtuiste.

 
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees