Leer jou kind alleen speel

akkreditasie
Jou kind ontwikkel belangrike vaardighede as hy alleen speeel. Só kan jy dit aanmoedig.

Vandag se ouers dink dikwels dat hulle hul kinders elke oomblik van die dag moet vermaak. Ons kinders verwag vanselfsprekend baie aandag en jou peuter se hoë energievlakke en kort konsentrasievlakke laat jou dalk dink dat stimulasie noodsaaklik is.

Daar is egter baie voordele daaraan om jou kind aan te moedig om alleen te speel. “Kinders wat aangemoedig word om alleen te speel, ontwikkel belangrike vaardighede soos verbeelding, onafhanklikheid en kreatiwiteiet.

’n Kind wat alleen leer speel, sal waarskynlik in die soort mens ontwikkel wat tevrede is met haar eie geselskap en met nuwe en oorspronklike idees vorendag sal kom dwarsdeur haar lewe. Alleen speel
leer jou kind ook om kalm en gefokus te wees, vaardighede wat later as sy skool toe gaan belangrik gaan wees,” sê Marie-Jeanne Kruger, ’n opvoedkundige sielkundige.

Sy voeg by dat kinders geleer kan word om alleen te speel (sonder volwasse betrokkenheid) van so jonk as 6 maande – ratels en speelringe kan jou baba besig hou terwyl jy ’n koppie tee geniet. ‘n Paar
middele en die regte geleentheid is al nodig is:

Onder 1 jaar

Los jou baba in sy speelhok of op sy speelmatjie. Gee hom speelgoed waaraan hy kan raak en wat hy kan ondersoek, selfs met die mond. Ratels, tanderinge en sagte speelgoed werk goed. As jou baba al kruip, stel Marie-Jeanne voor jy kies ’n kindervriendelike kamer met ’n hekkie en laat hom los om te
verken.

Gee haar speelgoed en laat haar vir ’n rukkie daarmee speel. As jy die middele en geleentheid skep vir ’n veilige omgewing met speelgoed geskik vir haar ouderdom sal sy heel tevrede besig bly.

Onder 2 jaar

Gee jou peuter ’n boks met speelgoed waaruit sy kan kies as dit speeltyd is. Boeke, legkaarte, blokkies, Duplo en ander opvoedkundige speelgoed is goeie keuses.

’n Boks met los goedjies wat sy een vir een kan uithaal, werk ook goed. Jy kan selfs verskillende grootte bokse vir haar gee om mee te speel. Maak net seker hulle is groot genoeg dat sy in en uit kan
klouter sonder dat sy vassit. Julle kan ook saam die bokse versier met kryt of verf. Terwyl julle besig is, verduidelik vir haar hoeveel pret sy met hulle gaan hê.

Onder 3 jaar

Soos jou kind ouer word, vervang die goedjies in haar speelkas met inkleurboeke en kryte, handpoppies en dinge om huis-huis mee te speel, stel Marie-Jeanne voor.

Plaas ’n plastiektafeldoek op die vloer en gee jou peuter tuisgemaakte speeldeeg, ’n koekroller en plastiekkoekieuitdrukkers. Die tassensasie is uiters belangrik om haar fyner motoriese vaardighede te
ontwikkel en dié speletjie sal onmiddellik al haar aandag in beslag neem.

Dit help baie om gesonde snoephappies byderhand te hou wanneer sy dalk honger word.

Onthou om jou peuter te leer om alles weg te sit as sy klaar gespeel het - laat haar help om die speelgoed weg te pak.

Wenke vir Motivering

“As jou kind voel sy word in die speelkamer gelos sodat julle met interessanter dinge doenig kan raak, sal die motivering om alleen te speel, daar en dan eindig. Laat haar stadig, oor ’n tydperk gewoond raak daaraan om alleen te speel,” sê Marie-Jeanne. Hier is enkele voorstelle:

  • Begin deur saam te speel en geesdriftig te maak of jy ook speel.
  • Laat jou kind vir enkele minute alleen en kom dan terug. Herhaal dié oefening, maar bly gelydelik langer weg sodat hy langer alleen is.
  • As dit lyk of sy bangerig raak om alleen te wees, sê vir haar waarheen jy gaan. Iets soos: “Ek gaan net gou kyk of die kos gaar is,” behoort goed te werk. Hou dan by jou belofte en keer oor ’n rukkie terug, voor sy jou begin soek.
  • As jy buite hoorafstand is, sit ’n monitor aan, sodat jy kan inluister hoe sy vaar.
  • Prys hom wanneer jy terugkom: “Ek is so trots op jou, jy’s ’n groot seun om so mooi alleen te speel!”
Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees