Meermin-partytjie

akkreditasie
Jou dogter en haar maatjies sal mal wees oor ’n meerminpartytjie met ’n eilandgevoel. Meng pastelle met helder kleure en bederf hulle met alles mooi en lekker, sodat hulle dié dag nog lank sal onthou.

Bou die meermintema uit deur kos voor te sit wat daarby pas. Versier kolwyntjies soos see-anemone; kyk by spesialis-bakwinkels vir suikerversierings in skulpvorms. Piepklein broodjies met slaai en kouevleis of salm, asook visvingers en viskoekies is ook mos meerminkos. Maak seker dat daar vars vrugte is wat opgesny is in stukke.

Beste raad

Kies ’n helder kleurpalet en probeer jou dekoritems daarvolgens aankoop. Ons het op turkoois, pienk, pers en oranje besluit met ‘n titsel blou.


Begroet elke maatjie by die deur met ‘n blommehalsband en ‘n armband van lekkergoed. Vir vermaak kan jy klein houertjies borrels aanmaak sodat die kleingoed kan borrels blaas, soos meerminne onder die water. Versier verder die vertrek met dik bosse versierpapierstroke wat soos helder seewier lyk. Beplan ‘n skattejag na ‘n onderwater skat wat kwansuis in ‘n skip gesink het. Laat die kleingoed in die huis rond ‘swem’ om die skat te soek.


Maak dié helderkleurige Mariebeskuitjies in ‘n paar minute deur versiersuiker met kookwater te meng totdat dit ’n dikkerige pasta vorm. Gooi voedselkleursel by, smeer ’n dik laag bo-op elke koekie waarop helderkleurige versiersel geskud word. Laat dit afkoel en bêre in lugdigte houers.


Vir die versiering van die anemoon-kolwyntjies kan plastiek-versiersel met CMC gemeng word. Rol die versiersel uit, sny in repe en laat dit hard word. Smeer die kollewyntjies met botterversiersel en plaas die anemoon-vingers bo-op.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees