Rock daai lyfie

akkreditasie
Kry jou kleuter aan die sing en dans... en sien hoe hulle fisiek en verstandelik groei!

Kleintjies is gek oor musiek. Dit kan hul bui beïnvloed, hul musikale ontwikkeling aanhelp, hulle hand-oog-koördinasie leer en boonop hul verstand ’n hupstoot gee. Musiek maak leerervarings ontspanne en prettig, en die band tussen jou en jou kind word versterk wanneer julle saamsing of saam musiek maak.

Die kleuterjare is die ideale tyd om jou kind aan liedjies en ander musiek bloot te stel. Ons bekyk maniere waarop julle saam die klanke – en voordele – van musiek kan geniet.

Musiek is ’n baie prettige manier om van leertyd speeltyd te maak.

Nie net stimuleer dit kinders se gehoor en emosies nie, dit kan ook help met wiskunde en lees wanneer hulle eendag skool toe gaan.

Lees hieronder hoe jy van kleins af musiek deel van jou kleinding se leefwêreld kan maak.

Bespeel verskillende instrumente saam met jou kinders

Wys jou kind hoe lekker dit is om op instrumente te speel en sorg dat musiek maak deel van jul speeltyd word.

Begin sommer deur los te trek en ’n groot geraas te maak met ’n trom, trompet en sambale.
Hierna kan jy jou kind leer wat ritme is deur self ritmies met instrumente te tik, blaas en slaan. Allerhande instrumente soos ’n klapper en klokkies kan ook op die maat van musiek gespeel word.
Sit byvoorbeeld ’n CD met lekker ritmiese musiek op en begin spontaan met die trom of klapper op die maat daarvan speel. Jou kleuter sal jou gou probeer na-aap en die uitbundige lawaai baie geniet.

Blaasinstrumente soos trompette en blokfluite kan kinders weer help met mond- en asemhalingsoefeninge en ook die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede.

Lees ’n storie waarin ’n instrument voorkom, soos die Fluitspeler van Hameln, en wys jou kind dan hoe ’n blokfluit werk. Moedig haar aan om self te speel en haar vingertjies te gebruik om oor die gaatjies te druk. Jou kind sal so beter hand-oog-koördinasie leer en haar mondjie en longe oefen terwyl sy blaas.

Dans en voer bewegings uit op die maat van kindermusiek

Beweging en danse help om kinders se fisieke koördinasie ontwikkel. Laat hulle sommer opdragte op die maat van ’n liedjie of met ritmiese bewegings uitvoer.

As kinders dans of op die maat van musiek beweeg, leer hulle om op meer as een aktiwiteit te konsentreer omdat hulle gelyktydig moet luister én doen.

Dans is ook ’n goeie manier om jou kind meer van ritme te leer.

Speel lekker ritmiese dansmusiek en spoor jou kleuter aan om spontaan te dans. Later kan jy haar handjies neem en saamdans.

Jou kind kan ook leer om opdragte uit te voer as jy haar vra om sekere bewegings te maak. Soek aksieliedjies wat spesifieke bewegings aanmoedig soos “klap jou handjies”, “buig jou knieë” en so aan.

Kreatiewe bewegings saam met musiek spoor kinders aan om hul verbeelding te gebruik en dit wat hulle hoor, in bewegings uit te druk, soos om soos ’n voëltjie te vlieg.

Sing saam met jou kind

Span liedjies en rympies in om jou kind se klankbewustheid te verskerp. Liedjies sing word ook deur baie kenners as voordelig beskou vir die ontwikkeling van kinders se lees- en rymvermoë.

Begrippe soos hard en sag en vinnig en stadig kan uitstekend met liedjies geleer word. Sing liedjies waar julle hard kan skree en dan weer saggies moet fluister, soos Vader Jakob.

Sang in ’n groepie gee kinders ’n gevoel van samehorigheid en leer hulle sosiale vaardighede en hoe om met maatjies en volwassenes om te gaan.

Julle kan inskakel by musiekgroepies vir kleuters en ouers of sommer jul eie groepie vorm en daagliks saamsing. Sanggroepies leer klein mensies ook hoe om in ’n groep saam te werk en hoe belangrik dissipline is om dinge ordelik te hou. Groepies gaan jou kind ook leer om beurte te maak en maatjies na te aap.

Jou kind se geheue kry daarby ’n hupstoot wanneer sy probeer om die woorde van liedjies te onthou.

Luister saam na kinderliedjies

Help jou kleuter om haar luistervaardighede te verbeter en vul haar luister-aktiwiteite aan deur na musiek te luister. Gefokusde luister-aktiwiteite kan jou kind help om te konsentreer en op take te fokus.

Tydens luister-aktiwiteite moet jy probeer om alle moontlike afleidings soos die TV uit te skakel. Jou kleuter moet leer konsentreer op dit wat sy hoor.

Leer haar ook om bewegings met haar vingers te maak wat pas by liedjies se woorde, soos ’n spinnekoppie wat teen die geut opklim.

Onthou, kinders volg voorbeelde en as jy jouself by die aktiwiteit inleef, sal jou kind gou sien hoe maklik dit is om stories te vertel met haar handjies en vingertjies. Dit verskerp sommer ook haar selfvertroue as sy jou bewegings kan namaak.

Julle kan ook seepborrels blaas terwyl die musiek in die agtergrond speel. Vra jou kleuter dan om die belle op haar wysvingertjie te vang of dit met haar toontjie te probeer raaktrap. Dis is ’n goeie oefening vir hand-oog-koördinasie en balans.

Ontdek emosies en ’n verbeeldingswêreld met klassieke musiek

Klassieke musiek is ’n baie opwindende manier om jou kind se verbeelding aan te moedig en emosies op ’n prettige wyse te help verstaan. Jy gaan self jou verbeelding moet inspan met dié oefening!

Spring weg met Vivaldi se Vier Seisoene of een van Mozart se simfonieë en vertel vir jou kleuter wat jy “sien” en voel terwyl die musiek speel. Jy sal ook aktief moet deelneem deur rolspel en gesigsuitdrukkings wat by die musiek se emosie pas.

Vra dan vrae soos of sy ook die soldate sien marsjeer, die voëltjies hoor tjirp en die blomme sien groei. Moedig haar aan om self te marsjeer of soos ’n feetjie te dans, afhangende van die soort musiek waarna julle luister.

Dankie aan Bianca Coetzer, wat ’n Kindermusik-groep in Kaapstad fasiliteer, vir haar hulp met dié artikel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees