book-icon Uitgawe Paasfees 2018

Droomtafel vir Paasfees

akkreditasie
Droomtafel vir Paasfees
Droomtafel vir Paasfees

Nooi familie en vriende om die dag saam te deel, oor Paasfees na te dink of sommer net saam aan die lekkernye weg te lê. Span jou kinders in om met die versierings te help en verduidelik vir hulle waar die verskillende Paasgebruike vandaan kom. ’n Pastel- of roomyskleurskema is ideaal vir ’n laatoggend-Paastee. Die meeste paaseiers wat al kort ná Kersfees hul verskyning in die winkels maak, is reeds in daardie kleure en lyk pragtig in glasflesse of -bakkies. Jy kan ook groot sjokolade-eiers uit hul tinfoelie-omhulsels haal en in mooi geskenkpapier toedraai. As dit lyk of die dag warm gaan word, hou die eiers eers in die yskas. Paashase en die nederige eierkelkie is twee sterelemente op so ’n tafel. Haasbeeldjies is al ’n geruime tyd in die mode en volop in die winkels, en jy sal nie ver hoef te soek na pragtige, unieke eierkelkies nie. Loer sommer ook in jou ma se kaste op soek na nog dekorelemente, klop by ’n pandjieswinkel aan of huur breekware as jy baie mense gaan nooi.

Klop by ’n verfwinkel aan en vra verfmonster-kartonnetjies. Maak vir jou ’n kartonvorm wat soos ’n eier lyk. Trek die eiervorm op die verfmonsters af sodat daar twee of drie kleure op elke eier is. Hang ’n tou teen die muur en steek die eiers met skuifspelde daaraan vas.

Gee aan wit lekkergoeddopsjokolade-eiers ’n nuwe baadjie. Stal die eiers uit deur dit aan boomtakke te hang. Knip tou in kort stukkies. Plak dit met harde versiersel op die bopunt van die eiers vas en laat dit droog word. Maak die twee punte van die tou aan mekaar vas. Die eiers is taamlik swaar en kan nie te lank hang nie – wag tot net voor die gaste opdaag voor julle dit aan die takke hang. Jy kan van die eiers met voedselkleursel kleur. Verdun die kleursel eers met ’n bietjie water en doop die eiers stadig daarin. Laat dit dan in hul houertjies droog word. Beproef verskillende patrone en doopeffekte. Gebruik harde versiersuiker om verskillende suikerblommetjies of -balletjies op die eiers vas te plak. Skryf mooi boodskappe op die eiers of teken prentjies met ’n viltpen met eetbare ink.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees