Wil jy sien hoe jou tekeninge lewe kry?

Wil jy jou wonderlike illustrasies van 'n groot wit haai, oulike Nemo-vissie, of 'n agt-been-seekat sien opspring uit jou bladsy en swem rondom jou?

Nou kan jy!

Vir die eerste keer in Suid Afrika kan jy Future Park besoek, by die V&A Waterfront in Kaapstad. Skandeerders en ander tegnologie word hier in nuwe en interessante maniere gebruik om jou verbeeldingstogte ekstra woema te gee. 

In die Sketsakwarium kan kinders visse en ander waterdiere teken en inkleur, dit skandeer en kyk hoe hulle rondswem saam met ander kinders se skeppings oor ’n digitale skerm wat strek van die vloer tot die plafon.

Ander pretaktiwiteite sluit ’n sketsdorp in, waar kinders ’n motor kan teken en sien hoe dit in ’n dorp rondry; ’n ligbalorkes met groot balle wat van klank en kleur verander wanneer hulle aangeraak word; 'n eenbeentjie speletjie met ’n kleurryke verskil; ’n dorp wat kinders kan bou en digitaal verbind; en ’n tafel waar klein mensies woon.

“Dié uitstalling het al meer as 4 miljoen kinders wêreldwyd die geleentheid gebied om in ’n altyd veranderende digitale omgewing te speel, terwyl hul fyn motoriese vaardighede ontwikkel word,” vertel Minette Ferreira, algemene bestuurder van Media24 Weeklikse Tydskrifte.

En wat 'n wonderlike manier om kinders die wonders van die digitale wêreld te wys!

Vir nog inligting, besoek die Future Park webtuiste.

Wanneer: 23 September – 31 January

Waar: The Watershed, V&A Waterfront

Tye: 10:00 – 19:00

Kaartjies: R130 per persoon, R460 vir ‘n gesin van vier, R115 vir afgetredenes en student, en babas onder 18 mane is vry.

Gaan na Computicket se webtuiste om kaartjies te koop.

Wat van Johannesburg?

Van Kaapstad vertrek die uitstalling in 2018 na Johannesburg.