WENBRIEF

SKOPFIETS & HELDINNE

“Kom bad!” Ja, dis die begin van suicide hour. Etenstyd, badtyd, slaaptyd is ongetwyfeld dié deel van die dag waarna ouers met klein kinders die meeste opsien. En ná die aankoms van Reuben (20 maande) op die hakke van sy boetie, is selfmoorduur ekstra spesiaal. Terwyl Claire sorg dat Reuben ferm in sy badstoeltjie sit, onderskep ek vir klein Paul om die eerste blinde draai wat hy met sy blou-en-wit skopfiets neem. “Kom ons trek gou uit,” sê ek terwyl ek hom kamer toe dra. Nadat hy die nodige protes aangeteken het, gee hy oor en sy klere lê soos konfetti oor sy kamervloer gestrooi. Ek het net sy handjie geneem om bad toe te stap, toe ek hoor daar is aksie in die badkamer. Reuben het net begin omrol en besluit hy gaan sy nuwe toertjie in sy badstoel probeer. Al wat hy immers nodig het, is dat mamma haar gesig net halfpad weg draai op soek na ’n waslap en dan is die tyd ryp! So besef klein Paul hy is nou alleen en spring terug op die skopfiets! Hoe dan anders? Dié tyd van die dag is gewoonlik ook wanneer die natuur druk en normaalweg vang Pampers die presentjies. Vandag, egter, gaan klein Paul nie keer dat sulke tyd inmeng met sy fietsrygenot nie. Met elke vastrap word die naproduk van die dag se vaste kos uitgerol tot op die sitplek van sy skopfiets, met die eerste draai beland dit bo op die agterwiel, ’n halwe sekonde later onder die wiel en toe word dit deel van die wiel. Natuurlik laat hy ’n afdruk oral waar hy ry! Oomblikke later tref die reuk my en gewaar ek die spore van pret en plesier oor die sitkamervloer en -mat. So ’n fiets kan nogal skerp draai, dink ek. Dié keer tel ek die protesterende renjaer onder sy kieliebakke op en dra hom met uitgestrekte arms na sy ma toe. Tye soos dié is dit verseker haar kind! Mammas doen alles vir hul kinders, offer alle ydelheid op, skuif hulleself en hul behoeftes altyd opsy, troos, dokter, dissiplineer en is ’n rots vir hul kinders se onseker sieletjies. Dit alles doen hulle net om meeste van die tyd met ondankbaarheid beloon te word. Die waarheid is egter dat pappas sonder mammas beswaarlik die mas opkom. Mammas is verseker die ongesonge heldinne van ons daaglikse bestaan! Met ’n oorweldigende gevoel van dankbaarheid teenoor my vrou kruip ek handeviervoet met ’n emmer seepwater en ’n skropborsel agter die skopfiets se spoor aan. So leer ek vinnig dat die omtrek van daai wit agterwiel presies 40 cm is! Hoe insiggewend is dit tog nie om kinders groot te maak nie!

Paul Gerber, Pretoria, Gauteng.

HOU NET AAN

Deur te kyk na die paartjies wat my vriende is, het ek besef dat ’n mens nooit soveel liefde sal ervaar soos dié van jou eie babatjie nie, en dit wou ek bitter graag hê. Ek het altyd gesê: As ek nie ’n man het teen die tyd dat ek 28 is nie, gaan ek ’n babatjie aanneem. Ek glo dat daar miljoene kindertjies in die wêreld is wat die liefde van ’n mamma verdien, en nie om weggegooi of verwerp te word nie. Teen die ouderdom van 27 het die Here my met ’n wonderlike man geseën. Drie maande later is ons getroud en 10 maande later is my eerste wonderwerkie gebore. Ek is nou in die derde trimester van my tweede swangerskap en besef elke dag wat ’n wonderwerk dit is om ’n lewe te dra. Ek glo dat die Here vir elkeen wat in Hom glo, sal gee wat sy hart begeer. As dit jou begeerte is om die lewe te skenk en jy jou baba aan die Here opdra, sal jy kry wat jou hart begeer, in God se tyd. Hou net moed en glo.

Chantel du Plessis, Namibië.

Chantel, Nicol en Chenique (19 maande) du Plessis – en daar is nog ’n kleinding op pad.

WARE LIEFDE

Ons pragtige babadogtertjie, Lea, is op 26 Februarie 2018 gebore. Dit was die hoogtepunt van my lewe, nie net omdat my grootste droom waar geword het nie, maar omdat ek op daardie dag gesien het wat ware liefde is. Van die oomblik dat sy gebore is, het haar pappa haar sy nie verlaat nie; die trane van blydskap en liefde in sy oë was onbeskryflik. Ons is huis toe met die perfekste mensie wat ek nog gesien het. Haar pappa, die beste man vir wie enige vrou kan vra, is met elke vuil doek wakker, hy is daar as ons borsvoed om seker te maak ons het nie iets nodig nie, hy bad haar, knip haar naeltjies en help tot om haar uitrusting vir die dag te kies. Dankie my man, Werner, jy is ’n engel uit die hemel en ons is baie lief vir jou.

Bernedette Lombard, Centurion, Gauteng.

DIT WIL GEDOEN WEES!

Ek het ’n knop in my keel gekry toe ek Elbie van Zyl se brief (Baba & Keuter, Februarie & Maart 2018) lees en gedink ek moet my storie ook met julle deel. Op Saterdag 19 Augustus 2017 om 10:00 die oggend skakel my dogter my om te sê dat my kleindogter Christelle in kraam is. So vinnig het julle iemand nog nooit sien pak en vliegtuigkaartjie en huurmotor bespreek nie. Om halfses die aand land ek en my skoonseun in Port Elizabeth. Ons jaag teen ’n hoë spoed deur Knysna toe. Tien minute voor klein Wian gebore is, om 19:35, hardloop ek die kraamsaal binne. Saam met my dogter het ons die wonderlike voorreg gehad om my kleindogter by te staan met klein Wian se geboorte. Dankie aan Knysna se provinsiale hospitaal en suster McClean vir die wonderlike en onvergeetlike voorreg.

Chrissie Swart, Kempton Park, Gauteng.

BORSMELK BO!

Toe my oudste 12 jaar gelede gebore is, het ek net twee weke lank geborsvoed. Seer, onkundig en moeg het ek die strydbyl neergelê en die formuleblik nader getrek. Nou, baie jare later, borsvoed ek my tweede seuntjie al 10 maande lank. Bors is die beste! Aan die ma’s wat kan: Hou uit! Woon ’n paar fisiosessies by en druk deur die aanvanklike seer. Dis regtig die moeite werd. Ek werk heeltyds en met my Lansinoh-dubbelelektriese pomp melk ek drie keer bedags in ’n japtrap uit. Aanvaar dit van ’n ma wat misluk, opgestaan en weer probeer het!

Liezel Freeman, Kaapstad, Wes-kaap.

Matthew John Freeman (10 maande) floreer van al die borsmelk wat hy by sy ma kry.

JY WEET JY HET 'N VYFJARIGE AS...

  • Jou naels stukkend is van al die Lego-blokkies uitmekaarhaal. ’n Vyfjarige dink ook dis jou primêre doel in die lewe om sy Lego-blokkies te soek en hy beskou dit as ’n guns wat hy jou doen as jy saam met hom speel.
  • Jy moet debatteer oor hoe die tandemuis nou eintlik die geld by hom uitkry. Jou dogtertjie het tyd afgestaan om ’n kaartjie vir die muis te skryf, jou seuntjie werk uit hoe hy die geld na jou toe vervoer. Dra hy dit in sy mond? Het hy dalk ’n sakkie om sy lyf? Is daar twee muise wat mekaar help?
  • Jou seuntjie jul vasgestelde prys vir tande ignoreer en glo dat elke tand individueel beoordeel en volgens verdienste betaal moet word.
  • Jou kind sy eie speletjiereëls maak en meen die doel van elke speletjie is dat hy wen.
  • Hy dink hy is snaakser as Trevor Noah en die woord “poep” of “boude” laat hom lê soos hy lag.
  • Hy jou aan Donald Trump laat dink. Elke keer as ek na Donald kyk, dink ek aan my kind. Hulle sê goed net om te kyk hoe kwaad hulle jou kan maak en vyf minute later kry jy die vetste soen en drukkie en staar hy jou met die grootste liefde aan. Jy vergewe alles wat hulle nou net gedoen het en dink aan jou ma se woorde: “Seuntjies moet toegesluit word tot hulle 30 jaar oud is.”

Estie Meyer, Kaapstad, Wes-kaap.

Die vyfjarige Thomas Meyer en sy sussie, Mia (6).

OM AAN WONDERWERKE TE GLO

In 2003 verwag ons ’n wittebrood-babatjie en nege maande later is ons seuntjie gebore. Ons was maar jonk, net 24. Hy was die mooiste en vriendelikste baba. Ons probeer ná twee jaar weer, maar tevergeefs. Ons beproef alles wat finansieel bekostigbaar is en ons bid, glo en hoop. Ná 10 jaar besluit ons om alles te staak – dit is emosioneel te uitmergelend. Ons het darem een kind, ons enigste wonderwerkie. Toe, in 2017 ná 14 jaar van getroude lewe, vind ons uit ek is op amper 40 swanger. Nou hoe het dit gebeur? vra my man so ewe. Ná ’n paar groot skrikke is ons laatlam gebore, ’n volle 13 en ’n half jaar later as sy ouboet. ’n Pragtige tienerseun en sy bababoetie – ons gaan nooit oud word nie!

Ansi Coetzee, Ermelo, Mphumalanga.

Ouboet Henk Coetzee (13) en kleinboet Anrico (3 maande) op Anrico se doopdag.

ONS FACEBOOK-MA'S VERTEL ... Wat laat jou hart smelt?

Marice Aylward van Rayton Wanneer ons driejarige seuntjie Nathan my kom druk en sê: “Love you, mamma.”

Tania Bisschoff van Secunda Wanneer my dogtertjie, Zanike (4 maande), uit haar pensie lag en dan vir haar eie laggie skrik.

Lisa Rudman van Centurion As my dogtertjie, Luca (6 maande), in die nag wakker word en groot glimlag as sy my sien. Dan wil ek haar nie weer neersit nie.

Heidi Kotze van Kaapstad Wanneer my seuntjie, Shawn (3), vir my uit die bloute sê: "Mamma, ek wil vir jou bid", of Annike, my dogtertjie van agt, sê: "Mamma, jy is die beste."

Jeanette Jonker van Bloemfontein Wanneer my babatjie, Charl (5 maande), sy handjies op my wange sit en diep in my oë kyk, en ek sy boodskap aanvoel: "Ek weet jy’s my mamma en ek is lief vir jou."

Tanya Myburgh van Vryheid, KwaZulu-Natal Ons boer en boeta, Gideon (3), is ’n boerseun in murg en been. Wanneer hy my roep, sal dit so klink: "Mamma-bees, jou bultalfie soet jou (“bulkalfie soek jou”, maar hy sukkel nog ’n bietjie met die k-klank). Ek kan hom opvreet en ek sal enige dag sy mamma-bees wees.


Die skrywer van ons wenbrief kry ’n R2 200- geskenkbewys van Clicks Made 4 Baby.

Hier is 4 redes waarom jy Clicks Made 4 Baby Nappy Pants moet beproef:

  1. Die rekbare middelband skeur maklik aan die kante.
  2. Die kern is uiters absorberend; geskik vir dag- en naggebruik.
  3. Lekbeskerming hou baba droog.
  4. Die materiaalagtige agterkant is ekstra lugdeurlaatbaar.

Kry dit by Clicks-winkels, of bestel by clicks.co.za.

Clicks Made 4 Baby Nappy Pants