
Barend die barbaar deur Leon-Ben Lamprecht
Bekoorlike barbaar
“Barend, die barbaar, was genadeloos en naar. Dis nogal erg vir ’n seuntjie van net sewe. Die kind is nogal stout en dit maak sy maats benoud, en sy juffrou vrees selfs vir haar lewe.” So begin Leon-Ben Lamprecht se boek
Barend die barbaar, met illustrasies deur Thomas Snyman. Die sewejarige Barend se eskapades het die hele dorp op hol, selfs die kerkraad. Hierdie flink en vinnige rymstorie het my laat hik van die lag en die ommekeer aan die einde is ’n aandoenlike verrassing. R160, Kraal Uitgewers. Bestel aanlyn by
www.kraaluitgewers.co.za/e-winkel en gooi sommer Leon-Ben se vorige boek,
Wie skrik vir Wortel Wolf?, ook in die mandjie.

Stap vir stap: Tel tot 50, Human & Rousseau
Een, twee, drie
Dis ’n helder hardebandboek wat jou kind aanmoedig om te leer tel. Elke aanloklike blad het iets interessants om te tel. Daar’s ook versteekte goedjies wat gevind moet word om sommer daai ogies ook skerp te maak.
Stap vir stap: Tel tot 50, R130, Human & Rousseau.

mystories.co.za
Die krag van ’n naam
Om jou eie naam in ’n storie te sien bly betowerend, en as jy dan nog die held van die verhaal kan wees – sjoe! Maak dit vir jou kind ’n werklikheid deur ’n boek by MyStories te bestel. Twee Afrikaanse skoonsussies, Mariana van der Merwe en Cené de Wit, skep al sedert 2020 verpersoonlikte boeke. Dit het begin toe Mariana sewe unieke stories vir elke kind in haar familie geskryf het met elkeen van hulle as hoofkarakter. Gaan kyk na die opsies by
www.mystories.co.za en kies die een wat die beste by jou kind pas. Die boeke is in Afrikaans en Engels beskikbaar. Hulle is A4-grootte en beslaan 24 tot 32 bladsye. Die illustrasies is oorspronklik en in volle kleur. ’n Sagteband-uitgawe kos R400 en die hardeband is R500.

Die Maanling deur Tjaart en Daniel Lehmacher
Wat ’n besonderse boek!
Al die illustrasies in
Die Maanling is geskep uit foto’s van rommel. Die dioramas of 3D-tonele deur pa en seun Tjaart en Daniel Lehmacher bestaan minstens 90 persent uit herwonne materiaal. Dis geskryf deur Tjaart Lehmacher en Paula Oelofsen en is in Afrikaans vertaal deur Antjie Krog. Die boek is gemik op kinders van ses tot 12 jaar oud en vertel die storie van ’n maanling wat Aarde toe kom, maar mettertyd besef dat hier groot fout is op die groen-en-blou planeet wat van ver af so mooi lyk. Die boek help ouers om met hul kinders te gesels oor die aarde se prognose, wat volgens die skeppers nie goed lyk nie weens gebroke stelsels en fossielbrandstofpolitiek. Dis iets besonders! R279,
www.murrayandme.co.za.

Raai hoe lief is ek vir jou deur Sam McBratney
Elke huis moet een hê
Raai hoe lief is ek vir jou deur Sam McBratney, wat in 2020 oorlede is, is wêreldwyd ’n wegholsukses. Gelukkig leef skrywers se werk voort. As jy nog nie jou Afrikaanse eksemplaar het nie, waarvoor wag jy nog? Dis ook ’n lieflike ooievaarsteegeskenk. R180, Human & Rousseau.

Nellie en Sion – Thwala deur Claudette Browne Storrar
Lief vir mekaar
Ons wonderlike, diverse, kleurryke land is vol stories wat verdien om vertel te word. So ’n pragtige en belangrike storie is dié van die vriendskap en liefde tussen kinders en hul oppassers. Hierdie titel is die tweede in die reeks en gaan oor ’n klein seuntjie, Sion, en sy kreatiewe en inspirerende oppasser, Nellie. Sy bring ’n bietjie van haar wêreld, woorde en hart in syne in. Sion doen op sy beurt wat alle klein seuntjies doen: Hy word vrolik deel van die avontuur.
Nellie en Sion – Thwala deur Claudette Browne Storrar, R120, Lapa-uitgewers.

Katastrofe deur De Wet Hugo en Martinus van Tee
Kopie vir katliefhebbers
Katastrofe deur De Wet Hugo en illustreerder Martinus van Tee is ’n storie vol kinkels en speel af op Katjiesfontein. Die karakters is almal katte en voorin die boek is daar ’n versameling portrette wat aandui wie watter soort kat is. Daar is alles van ’n Noorweegse woudkat tot ’n luiperd. Ek het van die rasse gaan google want dit was so interessant. Die storie: Geld wat mevrou Mynie Koen vir die talentkompetisie geskenk het, is van juffrou Katoliek se lessenaar af gesteel. Leo is seker dit was daardie boelie Spiertier. Tiere soek mos altyd skoor! Of is die skuldige dalk die vreemde, nuwe leerling van Katalonië? R140, Human & Rousseau.
Slaaptydstorie
Kom saam met Hasie wanneer sy die eerste keer die holte verlaat en die wêreld aandurf. Sy vind uit sy het alles wat ’n hasie nodig het – lang ore om mee te luister, ’n knoopneusie om mee te snuffel en sterk agterpote vir hardloop, huppel en hop. Hierdie pragtige hardeband- slaaptydboek met foto-illustrasies en eenvoudige stories sal jou kind in ’n kits droomland toe stuur.
Babadierestories: Nag, Hasie, R125, Human & Rousseau.

My gunsteling-dierestories deur Kobus Geldenhuys
Vir voorlees op jou skoot
My gunsteling-dierestories deur Kobus Geldenhuys sluit vyf stories in wat jou kind se aandag sal hou vir ’n lekker leessessie op jou skoot. Hou dit ook vir wanneer jou kind met skool begin, want dit word dan ’n goeie selfleesboek. Die klassieke stories wat jy sekerlik uit jou eie kinderjare sal onthou, sluit in
Die vos en die ooievaar,
Die lelike eendjie,
Die haas en die skilpad,
Die kraai en die kruik en
Die drie rammetjies rof. R150 Human & Rousseau
Volgende op Baba en Kleuter