book-icon Uitgawe Oktober & November 2019

Lees-lekkerte

akkreditasie
Leeshoekie
Leeshoekie

Oefen vir grootskool

Die Nuwe Alles-In-Een Voorskoolse aktiwiteitsboek 2 bevat meer as 30 aktiwiteite in volle kleur vir kinders van 18 maande tot vyf jaar oud. Temas sluit in “Goggas”, “Water”, “My klere, kos en liggaam”, “Plaasdiere” en nog meer wat jou kind baie interessant sal vind. Die boek het ’n verwyderbare handleiding met wenke oor elke aktiwiteit en tema en wat verduidelik hoe die aktiwiteite ouderdomsgepas aangepak moet word. NB Uitgewers, R125
Nuwe Alles-In-Een Voor­skoolse aktiwiteitsboek 2, NB Uitgewers, R125.

Spelkoning

Met die Nuwe Alles-In-Een-reeks Pret met spel: Graad 1, Graad 2 en Graad 3 kan jy aandag gee aan die verskillende klanke asook die lees en skryf van woorde wat in elke graad geleer word. Jou kind sal hou van die kaart-, bord- en bewegingspeletjies. Elke werkboek bevat ook ’n lys sigwoorde gepas vir die graad, asook riglyne en wenke vir ouers of onderwysers oor hoe om die speletjies aan te bied. NB Uitgewers, R100 elk
Nuwe Alles-In-Een-reeks Pret met spel: Graad 1, Graad 2 en Graad 3, NB Uitgewers, R100 elk.

Kreatiewe gedagtes

Wie woon hier? is ’n verhaal oor ’n dogtertjie wat op die sewende vloer van ’n woonstelblok woon. Op elke verdieping is daar ’n deur wat anders as die vorige een lyk. Aan elke deur koppel die dogtertjie ’n storie: Daar woon selfs glo ’n seerower by die deur wat na piekelvis ruik, en diewe by die deur met baie slotte! Jou kleinding sal mal wees oor die verbeeldingsreis en verrassings. Human & Rousseau, R145
Wie woon hier? Human & Rousseau, R145.

Seisoene

Kwaai Uil en sy Boom is net die regte boekie vir kinders wat veranderinge beleef. In hierdie pragtige verhaal word Kwaai Uil een oggend wakker en sien dat sy boom besig is om te verander. Kort voor lank is hy gewoond aan die nuwe seisoen, maar dan verander dit weer. Gelukkig bevind hy hom binnekort in ’n situasie wat hy herken. Die mooi en snaakse illustrasies en eenvoudige teks sorg dat hierdie boek ideaal vir drie- tot sesjariges is. Penguin Random House Suid-Afrika, R70
Kwaai Uil en sy Boom, Penguin Random House Suid-Afrika, R70.

Lessie oor die dood

Een pragtige herfsdag ontdek Padda ’n pikswart lyster wat roerloos op die grond lê. Baie bekommerd wonder hy en sy vriende wat die voël makeer. In dié lieflike boekie maak die diere op ’n eenvoudige, maar mooi manier kennis met die dood, en besef hulle ook hoe ’n voorreg dit is om te lewe. Jou kind leer ’n belangrike lewensles en ook dat sy nooit alleen is nie en dat ’n mens sterker is as wat jy dink. Geskik vir drie- tot sewejariges. Protea Boekhuis, R150
Padda en die voëlgesang, Protea Boekhuis, R150.

Wenke vir verandering

Dapper Dawie se onderstebo week is nie net vir kinders ’n baie nuttige boek nie, maar ook vir hul ouers. Die boek help jou kind om spesifieke situasies te hanteer en ingewikkelde gevoelens te verstaan, en is geïnspireer deur gedragsielkunde. Dawie het probleme op die speelgrond en by die huis, maar sy sussie Dorie, ’n juffrou en ouer help hom om elke spesifieke situasie te hanteer. Die boek is gemik op ses- tot negejariges. NB Uitgewers, R145
Dapper Dawie se onderstebo week, NB Uitgewers, R145.

’n Ouma se liefde

Die rooi rok laat jou ’n traan in die oog kry, want as jy ’n ma is wéét jy van opoffering. Doortjie dra haar spesiale Krismisrokkie, wat haar ouma gemaak het, ’n dag te vroeg en bemors dit. Ouma weet hoe ongelukkig Doortjie se pa gaan wees, aangesien hy die materiaal spesiaal vir Kersfees gekoop het. Ouma maak ’n plan – al beteken dit dat sy iets van haarself opoffer. Protea Boekhuis, R150
Die rooi rok, Protea Boekhuis, R150.

Beste maats

Wendy Hartmann se Groot Beer is ’n lieflike verhaal wat jy weer en weer sal wil lees, so mooi is dit. Die boek bied vertroosting en sal jou kleuter goed te pas kom in uitdagende tye. Lara se pa en ma skei. Sy vind vertroosting in die vriendskap van ’n denkbeeldige maatjie, Groot Beer. Die pragtige en kleurryke illustrasies is deur Zinelda McDonald. Die teks is maklik en eenvoudig, wat dit geskik maak vir jong lesers. Lapa Uitgewers, R135
Groot Beer, Lapa Uitgewers, R135.

Piepklein vriendjies

As jou kind Kieme lees, gaan hy sommer baie slim word. In dié oulike boek maak jou nuuskierige agie kennis met bakterieë, virusse en ander mikrobes, en leer hoe belangrik hierdie organismes is. Dié boek bevat fantastiese foto’s, lawwe illustrasies en hope feite wat jou kind lekker sal laat gril. Lapa Uitgewers, R140 
Kieme, Lapa Uitgewers, R140.

Koskaskenades

Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het is ’n snaakse boek deur Jaco Jacobs. Die rymende verhaal is kleurryk geïllustreer deur Johann Strauss, wat sorg dat jou kleuter Ernst nóg beter leer ken. Die groot teksgrootte word maklik gelees en sal veral by beginnerlesers aanklank vind. Ernst eet hamburgers, pizza, herderspastei, spaghetti, bobotie, pampoenkoekies, kerrievis, blomkool en beet, maar hy weier om ertjies te eet. Op ’n dag, toe niemand kyk nie, eet hy egter een klein ertjie … Weet jy watter vreemde dinge gebeur toe met hom? Lapa Uitgewers, R135
Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het, Lapa Uitgewers, R135.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees