Resep vir rou klei

Hierdie resep is so eenvoudig dat jou kind jou kan help om dit te maak of dit self kan maak. Teken ’n kaartjie met al die bestanddele en hoeveel sy daarvan moet gebruik, soos ’n koppie wat halfvol is. So kan sy ook leer om stelselmatig te werk en ’n resep te volg.

BESTANDDELE

  • 1 koppie meel
  • ¼ koppie sout
  • 1 eetlepel kookolie
  • paar druppels voedselkleursel
  • ½ koppie water

METODE

1. Meng die meel en sout saam.

2. Voeg die olie by.

3. Voeg die voedselkleursel by die water.

4. Voeg die water bietjie vir bietjie by die meelmengsel.

5. Knie die mengsel tot glad.

SPEEL SO

  • Maak seker jou kind se hande is heeltemal skoon voor julle met ’n nuwe kleiprojek begin.
  • Bevogtig klei wat te droog word deur ’n paar druppels water by te voeg.
  • As die klei taai word, kan julle nog meel, mielieblom of bakpoeier byvoeg.
  • Maak ekstra klei met ’n klam lap toe wanneer julle werk om te keer dat dit uitdroog.
  • Klei kan helderder gekleur word deur ekstra voedselkleursel by te meng.

SPEEL VERDER

Laat jou kind by ’n tafeltjie sit wat die regte hoogte is. Wys hom hoe om die kleiballe met ’n roller te rol. Druk interessante vorms met koekievorms uit. Versier dit met allerhande blink en mooi dingetjies wat in jou naaldwerk- of geskenklaai rondlê.

Neem ’n foto van die kunswerkie en stuur dit vir ouma.

MOTIVEER JOU

Kleispeletjies is fantasties vir jou kind se sensoriese ontwikkeling asook vir die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede. Moenie net speel nie – gesels oor die tekstuur en kleur van die klei en versierings om jou kind se kennis en woordeskat uit te brei, vra vrae om ’n gesprek aan te moedig om jou kind se verbeelding en taalvaardighede oefening te gee. As jy rustig saamspeel, is dit goed vir julle emosionele binding ook.

Maak ’n punt daarvan om agterna saam op te ruim – dis goed vir toekomstige probleemoplossing en julle oefen ’n belangrike lewensvaardigheid: netheid.