Pale toe!

akkreditasie
Jou grootseun se ogies sal vonkel wanneer hy hierdie koek sien. Die rugbytemapartytjie kom uit Partytjies is Pret 5.

Benodighede vir die koek:

  • 4 ronde sponskoeke van 20cm elk
  • 875ml liggeel botterversiersel
  • 250ml groen botterversiersel
  • Wafelstrooitjies
  • Jellieboontjies
  • 4 ronde jellielekkers (geel, rooi of pienk)
  • 5ml kakaopoeier
  • Klapper

Om mee te versier:

  • 5 blou-en-wit gestreepte papierstrooitjies
  • Peuselstokkies
  • Rugbybal-verjaardag-kersie (of soek 'n mini-sjokoladerugbybal)
  • 4 klein Suid-Afrikaanse vlaggies op tandestokkies

Stap 1:

  • Sit een van die 4 sponskoeke op die punt van ’n reghoekige broodbord neer.
  • Sny nog ’n koek in ’n halfmaanvorm – sorg dat jou snylyn die ronding van die heel koek volg – en sit dit teenaan die koek op die bord neer.
  • Skuif die koeke sodat dit in die middel van die bord staan.
  • Plaas die ander twee koeke bo-op en sny ’n netjiese reghoekvorm daaruit.

Stap 2:

  • Neem ’n riffelmes en sny die rande waar die koek weggesny is, skuins na onder af om die pawiljoen te vorm.
  • Sny die res van die koek se kante gelyk sodat die boonste laag nie oorhel nie.

Stap 3:

  • Smeer die hele koek behalwe die binneste deel waar die gras moet kom, met ’n lagie liggeel botterversiersel toe.
  • Skep van die groen versiersel in ’n spuitbuis of -sak met ’n sterpunt en spuit die gras op die binneste deel.

Stap 4:

  • Maak strepe op die veld met wafelstrooitjies en pale met papierstrooitjies en peuselstokkies.
  • Plaas die bal in die middel van die veld en steek die jellieboontjies in – dis die spelers.
  • Maak spreiligte met die ronde jellielekkers en tandestokkies.
  • Steek die vlaggies ook in die hoeke in.
  • Maak die ingange met geel versiersel gemeng met kakao.
  • Smeer groen versiersel oor die res van die bord en sprinkel klapper daaroor.

Peuselhappies:

Sit papierglasies oral neer met die soort versnaperinge wat ’n mens eet terwyl jy rugby kyk. Biltongrepies, stukkies droëwors, skyfies en springmielies is maklik om met die hand te eet en lekker om aan te peusel. 

Kolwyntjies:

Soek na miniatuur-sjokoladerugbyballe, rugbybal-kersies of fluitjies. Versier ’n baksel mini-kolwyntjies met ’n liggroen botterversierselspiraal. Sprinkel koekstrooisels oor en rond dit met jou rugbyversiering af. Plaas een op elke gas se bord en pak die res op die tafel sodat die maats hulleself kan help.

Uitnodiging:

Knip rugbybalvorms uit A4-velle karton. Teken nate met ’n viltpen. Knip twee smal en twee breër stroke uit die afvalkarton en plak vas. Teken kolletjies en strepies bo-oor die smal stroke. Skryf partytjiebesonderhede agterkop die kaartjies.

Partytjiepresent:

  • Koop papier- of plastieksakkies met handvatsels in een van die partytjiekleure.
  • Knip rugbytruivorms uit riffelkarton in ‘n ander kleur.
  • Knip strepe en nommers (1-15) uit karton in die eerste kleur en plak dit op die trui vas.
  • Plak die trui op die sak vas.
  • Vul dit met lekkergoed en sit ’n klein rugby-aandenking in elke sakkie, soos ’n goedkoop fluitjie of rugbyplakkers.


Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees