Een van die grootste bederwe van die somer is dat jy en jou gesin die etenstafel kan verruil vir ’n piekniekkombers onder ’n skaduboom of selfs die sterre. ’n Piekniek hoef nie spoggerig of duur te wees nie – die betowering lê juis in die eenvoud daarvan – en dis min werk! Ná net ’n paar pieknieksessies sal jy die wenresep vir ’n perfekte piekniek deeglik onder die knie hê en behoort dit ’n somertradisie in jul huis te word.

Waar?

Julle kan op amper enige plek gaan piekniek hou. Die belangrikste is dat daar genoeg ruimte moet wees waar jou kinders kan rondhardloop en speel, soos ’n groot grasperk. Moenie te ver gaan soek nie – ’n park naby jul huis is ideaal. Hier is idees:

  • Die strand
  • ’n Veilige park naby die huis
  • ’n Botaniese tuin
  • ’n Spesiale gerief soos die dieretuin of ’n dierpark. Pak so in: Laat die kinders met die voorbereiding help. Hulle kan die glase, borde of piekniekmandjie uithaal, die vogdoekies inpak of lappies natmaak. (Maak net later seker dat alles inderdaad gedoen is.) Moenie te veel goed pak nie – alles moet gedra word!
  • Drinkgoed
  • Bekers of bottels, papier- of plastiekborde
  • Jammerlappie of vogdoekies
  • ’n Plastieksak waarin al die skottelgoed agterna gepak kan word
  • Een groot kombers, verkieslik met seilstof aan die onderkant
  • Sonsambreel of -dak
  • Sonskerm
  • Hoede
  • Jou selfoon om foto’s te neem
  • Speelgoed soos ’n bal, Swingball-stel, frisbee, strandtennisstel of vlieër
  • Ekstra klere en onderklere vir die kinders
  • ’n Rugsak of twee vir die ekstra klere en speelgoed
  • ’n Koelsak vir die kos en koeldrank
  • ’n Noodhulptassie vir die motor met pleisters en ontsmettingsalf
  • Insekweerder
Tuispiekniek
’n Piekniek op jul eie grasperk of op die mat wanneer dit buite reën, is net soveel pret. Skakel jou foon af en vergeet van alles wat in die huis gedoen moet word. Geniet die tyd saam jou kleingoed!

Die kosmandjie

Die geheim: lekker, maar eenvoudig. Hou eerder by vingerkos. As jy daarvoor kans sien, kan die kinders help met die spyskaart – maar gryp in as dit te eksoties en te veel moeite word. Berei al die kos tuis, dit maak dit baie makliker. Pak die kos in bakkies wat dig sluit. Jy kan ook vir elke kind sy eie piekniekkosblik pak. Pak sommer ’n verrassinkie ook in soos ’n briefie of klein speeldingetjie.

Hier is ’n paar idees

  • Toebroodjies. Vul dit met ham en kaas, biltong of hoender en mayonnaise (neem tamatie en slaai los saam, anders word die broodjies saf)
  • Stukkies wortel, komkommer en kersietamaties met ’n doopsousie
  • Gekookte eiers
  • Stukkies biltong en droëwors
  • Kaasblokkies of kaasskyfies
  • Worsbroodjies
  • Klein frikkadelletjies
  • Koue hoenderboudjies
  • Koue tuisgemaakte pizza
  • Broodrolletjies met lekker vulsels
  • Vrugteblokkies
  • Koekies vir nagereg

As julle daar is

Ontdek die omgewing saam met jou kleinspan. Soek saam na blomme, goggas en blare.

Speletjie-idees

Waterpret. Skiet mekaar met waterpistole. Almal sal nat word, maar dis deel van die pret!

Blaas seepbelle. Laat jou kinders dit vang. Maak jul eie: Meng 500 ml water met 125 ml skottelgoedseep en 175 ml gliserien.

Rustyd. Werk ’n bietjie rustyd in. Julle kan op die piekniekkombers boekies lees. Speletjies uit toeka se tyd Speel speletjies soos vroteier, aan-aan en hamerspyker.

Winterpiekniek
’n Piekniek is nie net vir die somer bedoel nie. ’n Winterpiekniek kan eweveel pret wees – maak net seker almal is warm aangetrek. Neem ’n fles vol heerlike sop saam wat jy saam met vars toebroodjies kan voorsit.