Ek het altyd weggeskram van ’n babakompetisie. Selfs met ons fotoblaaie verkies ons dat almal op die blad iets kry, nie net een gesin nie. My gevoel was dat ons met ’n voorbladkompetisie een ma, die ma van die wenner, ontsettend gelukkig maak; en die res?

Maar omdat ons lesers vra en vra en vra vir so ’n kompetisie het ons besluit om dit tog te doen. En ai, is dit nou pret!

Ons het meer as 4 000 inskrywings ontvang. Ek weet dus dat dit soms frustrerend was dat ons nie op elke versoek vir terugvoer kon reageer nie, maar dit was eenvoudig onmoontlik. Ons is ’n klein spannetjie en het immers ’n tydskrif om uit te gee! Die stroom e-posse en Facebookbood-skappe wat dag en nag ingestroom het, het dit bewys: As daar een ding is wat ons lesers wil hê, is dit ’n voorbladkompetisie.

Baie, baie dankie aan almal wat deelgeneem het. Ek wil ook veral dankie sê aan die ma’s in ons Facebookgemeenskap wat gehelp het deur ander se vrae oor hoe die kompetisie werk te beantwoord.

Julle kinders is pragtig. Ons het ge-oe en ge-aa oor al die oulike gesiggies, maar wat vir my die mooiste gedagte was, is dat elkeen van die inskrywings spreek van die liefde wat ’n ma vir haar kind het. Daar is vir ’n ma niks so mooi soos haar eie kind se gesig nie. (Dis vir my ook so. Ek glo vas ek het die mooiste dogters onder die son.) Ma’s mag mos maar spog met hul spruite, en die beste plek daarvoor is tussen ander ma’s wat verstaan waar die gevoel vandaan kom en die sentiment deel.

My opregte dank ook aan die borge wat ons ondersteun en die wenner goed gaan bederf. Wie die wenner is, weet niemand nog nie – nie eens ek nie. Gaan kyk gerus op bl. 10-13 na ons finaliste. Ek wens elkeen van hulle kan op die voorblad verskyn.

Groete tot volgende maand

Helen