book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

Spaar in papier

akkreditasie
Maak self 'n spaarvarkie
Maak self 'n spaarvarkie

Jy benodig

  • koerantpapier
  • muurpapiergom
  • 1 ballon
  • 1 karton van toiletpapierrol
  • stukkies karton van ’n eierhouer
  • maskeerband
  • 4 botteldoppies
  • 1 verfkwas
  • wit of ligte verf
  • donkerder kleur verf (kleur wat julle die varkie wil hê)
  • afvalmateriaal (opsioneel)
  • 2 plastiekogies
  • dik swart koki
  • 1 pypskoonmaker wat by die buitenste verfkleur pas

Maak dit so

Stap 1: maak ’n lyfie

Maak die muurpapiergom as ’n dik jel aan en skeur die koerantpapier aan repe. Blaas die ballon op in die grootte wat jy jou spaarvarkie wil hê. Smeer ’n dik laag gom op die ballon en plak die eerste lae koerantpapier reg rondom. Jy kan jou papier droog hou of effens nat maak. Klam papier sorg vir ’n meer eweredige oppervlak, maar duur langer voor dit droog is. Herhaal die proses sodat daar sowat vier lae koerantpapier bo-op mekaar geplak is. Skeur die skoon stukke koerantpapier in nóg fyner repe en gebruik dit vir die buitenste, laaste laag. Met die kleiner stukkie sal jy die buitenste oppervlakte glad en gelyk kan vorm. Laat die ballon droog word deur dit oornag te laat lê of met ’n haardroër te blaas.

Stap 2: voete, neus en ore

Knip ’n stukkie toiletpapier-karton vir die varkie se snoet en die hoeke van ’n eierhouertjie vir twee ore. Plak die stukkie toiletpapierkarton met maskeerband aan die voorkant van die droë lyfie vas (die ballon se knoop is die agterkant) en die ore weerskante van die kop. Plak die vier doppies aan die onderkant van die lyfie vas sodat die varkie daarop kan staan. Plak dun stukkies koerantpapier met die gom om die ore, snoet en pote af te werk. Laat dit droog word en sny die ballon aan die agterkant oop sodat dit stadig afblaas. Vis dit by die lyfie uit. Sny ’n opening bo waar jou kind die geld kan ingooi. Verf ’n wit of ligte onderlaag en laat dit droog word voor julle die bolaag-kleur oorverf.

Stap 3: versier jou varkie

Versier jou varkie met verfpatrone of stukkies materiaal wat jy uitknip en opplak. Plak die oë met gom vas en teken met die koki neusgate op die snoet. Knip ’n stukkie van die karton in ’n driehoek, maak ’n gaatjie en ryg die pypskoonmaker daardeur. Plak dit in die opening waar die ballon stukkend gesny is en krul die stertjie aan die buitekant. 
HET JY GEWEET? Wag tot die varkie vol geld is en maak hom dan by sy stertjie oop, of knip sommer die hele varkie uitmekaar.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees