Ek wens regtig ek kon slaaptydstories vertel soos my pa. Maar ek kan nie. Ek onthou sy stories as groot, magiese, kleurryke vertellings. Avonture gelaai met interessante karakters, elk met unieke, snaakse stemme en gebeure wat tot in die fynste besonderhede beskryf is. En natuurlik ’n deeglik beplande spanningslyn wat ’n hoogtepunt so nét voor die fluit-fluit bereik.

As ek vandag daaroor nadink, voel dit vir my daar was honderde sulke verhale wat ek en my sibbe kon aanhoor deur bloot net daarvoor te vra. En voilà. Ek onthou ongelukkig nie genoeg van die storielyne om nou, 30 jaar later, ’n getroue weergawe aan my eie kinders voor te hou nie.

Boeke vol sprokiesverhale is volop in ons huis, ja. Maar in die regte wêreld bestaan daar een wesenlike probleem met voorlees voor slaaptyd: Die kamerlig of bedlampie moet aan wees. Daarom verg dit ’n ruiltransaksie voor my twee kleuters aanvaar dat die lig nou afgeskakel gaan word. Ek sal ná die lees ook ’n storie in die donker vertel, mits hulle dan ogies toemaak. Dit klink dalk of ek beheer oor die situasie het, maar helaas nie. Want dis dan dat die sports begin. Noudat hulle ingestem het tot mý eise oor die lig (en hul oë), moet ek dan ook húl versoeke toestaan: Hulle wil kies waaroor die storie gaan. Dit klink dalk of ek verniet kla, maar sal jy my glo as ek sê hul keuse van temas is nege uit tien keer presies dieselfde? In die storie soek kleinsus Almi asseblief “ ’n kat en ’n muis” en ouboet Janco “ ’n baie groot boom in ’n tuin”.

Aanvanklik was dit doenbaar genoeg: Hansie en Grietjie word vervang deur Kat en Muis, en as ’n sprokie nie reeds ’n boom bevat nie, word die lekkergoedhuisie dan mos sommer ’n lekkergoedboom. En dan is daar abrakadabra ’n storie. Maar daar is natuurlik die aande dat een storie alleen nie naastenby hul storielus bevredig nie. Wanneer ek die stryd dan gewonne gee ná die “nog ’n storie, nog ’n storie”-bombardement, begin die tradisie van versoeke eers weer van voor af. As daar oplaas klaar geredekawel is oor wie éérste mag kies, kom die nuwe versoeke: ’n Kat en ’n muis, en ’n baie groot boom in ’n tuin. (Sug!) Met hierdie skrapse boumateriaal begin ek dan maar kap en beitel aan ’n storie waarvan ek self nog nie die einde ken nie. Jy het reg gehoor – ’n storie sonder einde. Die begin ken ek wel: Eendag, lank, lank gelede, was daar ’n kat en ’n muis. En dan, op welke manier ook al, moet dié twee diere by ’n groot boom in ’n tuin uitkom. Daarna luister hulle alte lekker, asof die storie mos maar een van honderde is wat pappa nog altyd van sy eie kleintyd af ken. Hulle verkies selfs dié soort stories, dié wat hulle kamtig self kies.

En so leer ek as verteller mettertyd darem van die fynere kunsies aan. Die snaakse stemme van die kat en die muis, die magiese vermoëns van die wonderlike boom, die kleurryke besonderhede van die tuin waarin ’n avontuur hier voor ons ontvou. Dis nou nie heeltemal op Dr. Seuss-vlak nie, maar glo my, ek tap elke bietjie potensiaal uit my voorgeskrewe onderwerp. Ek doen dit gedagte vir gedagte, tot ’n sinvolle einde my byval en ek die storie verlig en versigtig in daardie rigting stuur. Kom ons noem dit wat dit eintlik is: ’n ietwat lagwekkende worsteling met jou volwasse verbeelding. Veral as jou storie halfpad ’n doodloopstraat bereik en jou eggenoot haar lag probeer inhou, juis omdat sy jou pyn so bitter goed verstaan. Dis gewoonlik dán dat jy nie anders kan as om die groot kanonne uit te haal nie: ’n towenaar, ’n feetjie, ’n reus of ’n dwerg. Die onwerklike elemente wat die bestaan van kat, muis en boom dramaties en sonder grense opkikker. Vermoëns heeltemal onmoontlik in ’n wêreld wat hierdie insluimerende kleintjies nou, en hopelik gou, tot môreoggend groet. Wanneer ek vir oulaas fluit-fluit sê, las ek gou die gebruiklike stertjie by: “Nee, ek het mos vooraf gesê dit is die laaste storie vanaand”. Hul oë val toe en so laat jy hulle rustend herkou aan dié verbeeldingsreis waarop jy ’n paar minute gelede so moeisaam en koersloos vertrek het.

Dit is seker dan reg as jy, die amateur- storieman, so ’n bietjie ingenome voel met jou eie skeppingswerk in woord en beeld? Jy voel jy raak beter daarmee, ná honderde probeerslae om enige onderwerp onder druk van kleuterverwagtinge met jou verbeeldingskwas te verf. As jy my vra, veral die onderwerp van Kat en Muis, Boom en Tuin. Toegegee, ek verwag nie juis dat hulle dié opgemaakte vertellings lank sal onthou nie. Maar soms wonder 'n ou tog: Sal jou kinders miskien eendag – lank, lank die toekoms in– ook wil kan stories vertel, en dit doen nes hulle pa dit eens gedoen het?