(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Feb 2016, Bladsy 72)

JY HET NODIG 

  • 2 stukke oorskietmateriaal wat verskil in tekstuur, soos ’n sagte handdoek of stywe katoen
  • verskillende linte
  • spelde
  • naald en garing
  • naaldwerkmasjien 

MAAK SÓ 

1. Knip uit albei materiaalstukke ’n vierkant van sowat 20 x 20 cm uit. Gebruik ’n glas om die hoeke van elke blok rond te knip.

2. Knip elkeen van die stukkies lint tot sowat 6 cm. Vou dit dubbel.

3. Plaas een van die blokke materiaal met die regte kant na bo neer. Steek die dubbelgevoude linte reg rondom die rand van die materiaal vas sodat die punte na buite wys en die gevoude middelpunt na binne. Ryg die linte met die naald en garing aan die materiaal vas.

4. Plaas die ander materiaalvierkant met sy gesigkant bo-op die linte. Die materiale se regte kante lê dus na mekaar toe en die linte is binne.

5. Stik die lappies en linte om die rande aan mekaar vas. Los die helfte van een kant oop sodat jy die lappie maklik regom kan draai sodat die linte na buite wys. Werk die opening met die naald en garing toe en stryk jou taslappie plat.