Helde uit die Bybel

Superhelde: Storieboek bevat 24 stories uit die Ou en Nuwe Testament met helder illustrasies wat herinner aan ’n strokiesprent. Elke storie in hierdie boek het ’n karaktertrek van ’n superheld, ’n wenk vir jou kleuter en ’n spesiale kernvers sodat jy dit in die Bybel kan opsoek. Die groot teks maak die boek ook ideaal vir beginnerlesertjies. Christian Books, R150. 

Oor die wêreld

My diere-atlas is vol feite, kaarte, tekeninge en foto’s van die diereryk wat jou kind interessant sal vind. Die atlas leer jou kind meer van die wêreld se diere, hul habitat en persoonlikhede – en teen die tyd dat jou kind deur die boek is, kan jy hom amper ’n soöloog noem! Saam met die boek kom daar ook plakkers en ’n reuse-plakkaat wat kinders in hul slaapkamer kan opplak. Human & Rousseau, R120. 

Baba in die huis

Baas Baba is een van daardie boeke wat jou heeltyd laat glimlag! Almal in die huis sal dit geniet, ma en pa ook. Baas Baba wys sommer met die intrap slag wie baas is en voor ma en pa hulle kom kry, dans hulle na sy pype daar waar hy in sy kantoor in die middel van die huis sit. Die teks is lekker groot, die tekeninge skreeusnaaks en die boodskap duidelik: ’n Nuwe baba in die huis is niemand se maat nie! Protea, R130.

Paddas en krokodille

’n Ongewone eier is ’n boek met ’n gelukkige einde waaroor jou kleuter gek sal wees. Die illustrasies is pragtig en die vriendelike, goedhartige paddas genaamd Jessika, Marelie en Ockert sal sorg dat jou kleinding dié boek elke aand wil hoor. Die avontuurlustige Jessika vind ’n hoendereier, maar die hoender wat uitbroei is toe eintlik ’n krokodil wie se ma na hom soek. Jacana Media, sowat R100.

Die eerstes

Dié drie kartonboeke – My eerste liggaam, My eerste troeteldiere en My eerste 1 2 3 – raak kinders se hart én brein aan en leer hulle allerhande interessante feite. Dit bou ook woordeskat en moedig tel- en syfervaardighede aan. Penguin Random House, R90 elk.

Idome & realiteit

Pieter Kokkewieter en die hart op sy mou deur die aktrise, skrywer en regisseur Milan Murray, is gemik op ses- tot negejariges. Nie net moedig dit ’n liefde vir lees aan nie; dit leer jou kind ook van idiome en om die verskil tussen konkrete en abstrakte denke te oorbrug. Die besonderse mooi illustrasies is deur Marisa du Toit. Murray & Me, R100.

Wolf, wolf

Leer hoe laat dit is is geskik vir is vir drie- tot agtjariges en help jou kleuter en voorskoolse kind om tyd te interpreteer. Daar is eenvoudige verduidelikings en prettige aktiwiteite wat jou kind leer verstaan en wys hoe laat dit is. Die boek het ’n horlosie met wysers wat kan beweeg sodat julle saam-saam die tyd kan stel en vertolk. Human & Rousseau, R125.

Wonderlike klanke

Die beer en die klavier is ’n pragtige verhaal oor hegte vriendskapsbande en sal jou kind ook ’n lessie of twee leer. Die boek se helder en gedetailleerde illustrasies is iets besonders. Die hoofkaraktertjie, ’n beer, verwerf beroemdheid in die stad danksy sy uitsonderlike klavierspel, maar hy verlang tog terug na die woud en sy vriende. Beslis ’n gunsteling op enige boekrak. Human & Rousseau, R160.

In die ruimte

As jou kind van sterre, vuurpyle en enigiets in die ruimte hou gaan hy gek wees oor die Buitenste ruimte Plakkerboek! Hierdie boek laat jou kind toe om met meer as 250 plakkers self tonele uit die buitenste ruimte te skep terwyl hy tussendeur allerhande interessante feite wys word. Daar is onder meer plakkers van ruimteskepe, -pakke en -toerusting, teleskope, maanwandelaars, buiteruimtelike wesens en sterrestelsels. Protea, R120.

Wat sal jy doen?

Die gewilde Jaco Jacobs is terug, dié slag met Viskos, ’n boek met ’n skooltema. Dis Troeteldierdag en Dennis neem sy goudvis saam skool toe. ’n Sameloop van omstandighede, om nie van meneer Newton se wetenskapseksperimente te praat nie, veroorsaak egter dat die skool vir die dag gesluit word. Want iets is nie lekker met daai goudvis nie ... Lapa Uitgewers, R100.