Louise het hierdie pragtige uitnodiging by Lieflingkind laat ontwerp.
Louise het gesorg dat die partytjieplek gesellig is met ’n tipitent, komberse en kussings onder koeltebome waar daar genoeg plek vir al die gaste is om te kuier.
Die dekor het fyn beplanning geverg. Elke element, van die potplante tot die koekies, het die tema geëggo.
’n Blink piñata in die vorm van ’n kaktus het uit ’n boom gehang. Louise het dit self geprakseer en sê dit het vir heerlike vermaak by Thomas se fiësta gesorg!
Die tema is lank voor die partytjie gekies en Louise het tyd gehad om alles tot in die fynste besonderhede te beplan en te gaan soek. Selfs die servette en houteetgerei was met fyn kaktusse versier. Louise het dié oulike kaktus-kleefband opgespoor en die eetgerei daarmee versier.
Oulike polistireen-kaktusse soos die een in die agtergrond het as versierings gedien. Louise het dit self gemaak met polistireen wat in die huis rondgelê het. Sy het klein driehoekies uit vilt geknip en bo-op geplak om as dorings te dien. Louise sê sy het net die regte kleur groen verf eendag raakgeloop en die polistireen-kaktusse daarmee geverf. Die hoogtepunt van die partytjie was volgens haar die “Taco Bar”, waar gaste hul eie nacho-maal met tradisionele bestanddele kon pak. En vir die volwasse gaste was daar natuurlik ’n margarita!
Waatlemoen- en pynappel-stokkies. Louise het krale op elke stokkiepunt geryg om vir fyn detail te sorg. Vinger­happies soos dié was te kry by die Taco Bar.
Nie jou gewone makrolletjies en kolwyntjies nie. Dit het kaktuskuns op en is nes die koek deur Mmm Macarons gebak.
Louise se ma, Leonie Vorster, het kaktusvorms uit karton gesny en geverf om die Rice Krispies-koekies mee op te tof.
Louise het lank voor die partytjie al op die fiësta-tema besluit. Dit het haar meer as genoeg tyd gegee om winskopies soos dié hoede raak te loop. Dit is by Flowerspot gekoop.
Die soetgoedtafel was propvol lekkernye en die kaktus-agtergrond wat Louise spesiaal vir die geleentheid gekoop het, het die tafel ’n fokuspunt gemaak. Oliebolle op stokke geryg, kolwyntjies, suigstokkies, makrolletjies en Rice Krispies-koekies het alles met vetplant-versierings gespog.
Louise het Thomas se oulike eenstukpakkie – wat so mooi by die tema gepas het – aanlyn by wish.com gekoop.
Elke gas het ’n ratel gekry, wat nie net by die tema gepas het nie maar ook vir groot pret gesorg het.


WYS VIR ONS
As jy wil hê jou kinder- of ooie­­vaars­partytjie moet op hierdie blad verskyn, stuur gerus ’n e-pos met foto’s van ’n goeie gehalte en ’n kort beskrywing van die partytjie na yolandi@babaenkleuter.co.za