book-icon Uitgawe Junie & Julie 2019

Vir die wat hou van lees

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Syfers en Kleure. Human & Rousseau, R130 elk.

Vingers en ogies werk saam

Syfers en Kleure is twee boeke in die Skuif-en-loer-reeks. Dit verskaf opvoedkundige pret oor temas wat op jou kleinding van toepassing is. Syfers help jou kind om syfervaardighede te ontwikkel met behulp van teloefeninge en helderkleurige foto’s. In Kleure leer hy om kleure te herken en bymekaar te pas. Die skuifkaarte bied goeie fyn motoriese oefening vir klein vingertjies. Geskik vir tot sesjariges. Human & Rousseau, R130 elk.
Gaap. Protea Boekhuis, R150.

Slaap is onvermydelik

Gaap is geskik vir drie- tot agtjariges en is ideaal vir slaaptyd. Dis ’n goeie idee vir ouers met ’n kleuter wat sukkel om aan die slaap te raak. Niemand wat hierdie boek lees kan ’n gaap onderdruk nie – nie eens ma of pa nie! Die illustrasies is prettig en die boek is geskik vir voorlees of vir beginnerlesertjies. Protea Boekhuis, R150.
Elmer, Elmer op stelte en Al weer Elmer. Protea Boekhuis, R150 elk.

Elkeen is anders

Elmer, Elmer op stelte en Al weer Elmer is ’n reeks boeke met die oulikste olifantkarakter van wie jou kleuter baie sal hou. Elmer, die lappieskomberskleur- olifant, is ’n vriendelike dier wat sy maats elke dag met sy grappies en poetse laat lag. In Elmer vermom hy hom as ’n gewone grys olifant om by die res van sy trop te pas, maar sy uitbundige geaardheid kan nie weggesteek word nie! In Elmer op stelte bedink Elmer ’n plan om jagters te uitoorlê en sorg vir baie plesier met sy stelte, en in Al weer Elmer trek Elmer ’n skreeusnaakse streep op sy grys olifantmaats. Hierdie boek is geskik vir tot sewejariges en ideaal vir beginnerlesers of vir voorlees. Protea Boekhuis, R150 elk.
Gouelokkies en die drie renosters. Jacana Media, R110.

Gouelokkies in Afrika

Die Suid-Afrikaner Joan Rankin gee nuwe lewe aan ’n ou sprokie. In Gouelokkies en die drie renosters kom Gouelokkies, wat nie eintlik alleen in die woud moet ronddwaal nie, op ’n renostergesin se huis af. Sy ontdek ’n paar dinge in die huis en wag vir die huiseienaars, maar raak dan aan die slaap – net om wakker te skrik met die drie renosters om die bed. Die illustrasies is pragtig en helderkleurig. Jacana Media, R110.
Eerste sprokies: Die paddaprins, Raponsie, Jan en die boontjierank en Aspoestertjie. Human & Rousseau, R85 elk.

Slaaptyd-stories

Eerste sprokies: Die paddaprins, Raponsie, Jan en die boontjierank en Aspoestertjie is sagtebandboeke wat geskik is vir voorlees en vir slimkoppe wat self lees. Elk van hierdie boeke bevat gewilde sprokies met die allervrolikste illustrasies. Ken jou kind vir Aspoestertjie en haar goeie fee, vir die arm Jan wat ’n koei vir ’n paar towerboontjies verruil het, die padda wat uit ’n goue bord wou eet en op ’n sagte kussing wou slaap en die heks wat vies was omdat ’n paar raponsieblare uit haar tuin gesteel is? Human & Rousseau, R85 elk.
Bennie Boekwurm se mooiste sprokies. Human & Rousseau, R160.

Dis Bennie se beurt

Bennie Boekwurm woon diep onder die grond en het rakke vol boeke. In Bennie Boekwurm se mooiste sprokies kom hy vorendag met vyf gewilde sprokies: ”Die drie varkies”, ”Jan en die boontjierank”, ”Hansie en Grietjie”, ”Die lelike eendjie” en ”Repelsteeltjie”. Jou kleuter sal hierdie klassieke verhale met slaaptyd geniet en dit sal ure se leesgenot aan beginnerlesers verskaf. Human & Rousseau, R160.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees