Vertel ons ’n bietjie meer oor Laiza. Laiza was 10 maande oud toe die voorbladfoto geneem is, maar sy trek nou al by 20 maande. Sy is baie lief vir die natuur en diere. Sy sal die kleinste miertjie op die vloer raaksien of die voëltjie op die dak, en is baie lief vir die sterre en maan! Sy is gek oor musiek en veral lief daarvoor om Disney- video’s te kyk om die musiek te hoor. Dan beweeg sy op maat van die ritme, boots die karakters se bewegings na en sing natuurlik in haar eie taal saam.
Sy sê “maan” met ’n vingertjie wat wys, ”ba-baai” met ’n handjie wat waai en ”eina” met ’n handjie wat simpatiek vryf. Sy maak verskeie dieregeluidjies na en sê ”humm-humm” vir enigiets wat soos ’n motorfiets of valhelm lyk. Sy is ’n baie liefdevolle dogtertjie wat graag drukkies en soentjies uitdeel en letterlik en figuurlik huppelend deur die lewe gaan.
Ons het op jou insta @dear_laiza gesien Laiza kan al split! Ja, ek en Hilton, Laiza se pa, is albei gimnaste en Laiza wys klaar groot belangstelling daarin om in ons voetspore te volg! Sy gly af in splitbeweging, slaan bollemakiesie en loop op haar handjies met mamma of pappa se hulp. Sy punt selfs haar toontjies.