Modderbad

Daar is geen plaasvervanger vir modder as dit kom by smerige speelplesier nie. Sandbaksand sal nie deug nie, net regte modder wat glip en gly en bruin is. As julle nie modder in die tuin het nie, hoor by die kwekery of jy ’n sak kleigrond kan kry. Gooi die sand in ’n reuse plastiekspeelskulp en oorweeg hierdie plesiere:

Bak saam modderkoekies Versier dit met klippies, stokkies en ander rondlêgoed. Jy kan jou kleinding gereedskap gee soos ou jogurtbakkies, grafies en margarienbakkies, maar die beste is as sy dit met haar kaal handjies bewerk tot dit ’n paar smerige modderkoekies vorm. Bied dit vir pappa aan wanneer hy tuis kom.

Maak drupkastele Daarvoor moet die modder nat genoeg wees om tussen jou vingers deur te glip. Druk dit inmekaar sodat die druppels bo-op mekaar val en kyk wie kan die hoogste toring bou.

Verf modderpatrone op mekaar Trek jul oudste bikini’s aan en versier mekaar se lyf met modder. Sy kan huisies en blommetjies op jou lyf teken en jy kan haar in ’n katjie of seerower omtower.

Geniet ’n bad Sorg dat die modder goed nat is (gebruik verkieslik louwarm water) sodat dit glad en glibberig is. Hou net ’n klein broekie aan kleinding se boude en laat haar daarin los! Sy kan aanvanklik huiwerig wees, maar sal gou-gou van kop tot tone besmeer wees tot net twee wit oë vir jou loer.

Skoonmaakwenk
Dra ou swemklere of laat haar kaal in die modder speel. As dit warm is, kan jy haar agterna met die tuinslang afspuit. Hou ’n badjie louwarm water byderhand as die weer kouer is.

Klei speel

Klei bly ’n gunsteling en is goed vir kreatiwiteit asook fynspierontwikkeling. Jy kan speelklei koop, maar dis ook heel maklik om dit self te maak.

Maak eetbare speelklei Meng ’n koppie gladde grondboontjiebotter met ’n koppie poeiermelk en drie teelepels heuning, of vervang die heuning met twee derdes van ’n koppie Rice Krispies. Dan kan kleinding weglê terwyl sy speel.

Maak en speel Meng twee koppies meel met een koppie sout, een koppie koue water en een eetlepel olie. Kleur met voedselkleursel (voeg die kleursel by die water voor jy dit by die meel meng). Jy kan ook voedselgeursel ingooi, asook gemmer, kaneel of rooswater. Vir ’n meer rekbare klei kan jy die meel met bruismeel vervang. Laat jou kleinding die klei druk, rol, vorm en platslaan. Gee haar gereedskap soos ’n mini-koekroller, plastiekmessie en drukvormpies en laat haar die klei versier met klippies, gebruikte vuurhoutjies, strooitjies, roomysstokkies, botteldoppies, knope en tou. Help haar om juweliersware daarvan te maak, of diertjies waarmee sy ure lank kan speel.

Skoonmaakwenk
Die geheim is om van matte weg te bly. Laat haar op ’n plastiektafeldoek of tafelmatjie werk en ’n plastiekvoorskootjie aantrek.

Glibberige slym

Kinders is dol oor slym! Jy kan dit by speelgoedwinkels koop, maar jy kan dit ook goedkoop by die huis maak. Los een koppie seepvlokkies in twee liter warm water op. Voeg voedselkleursel by om dit interessanter te maak. Laat die mengsel staan tot dit dik en slymerig is. Klits dit tot dit ’n skuim vorm en giet in ’n skottel. Moenie dat dit in haar oë kom nie. Nog ’n resep is om ’n koppie koue water stadig by twee koppies koekmeel te voeg. Roer tot die water deur die koekmeel geabsorbeer is. Voeg kleursel by as jy wil. Jy kan die slym weer gebruik nadat dit droog geword het deur dit te verkrummel tot ’n poeier en dan weer water bietjie vir bietjie by te voeg. Gee jou kind van tregters en sponse tot siwwe, handklitsers en lepels – dis gewaarborgde pret.

Skoonmaakwenk
As die slym op die vloer beland, hoef julle net te wag tot dit droog is en dit dan met ’n besem te vee. Trek vir jou kleutertjie een van jou ou T-hemde bo-oor aan om te keer dat sy haar klere bemors.

Morsige spel laat kinders…

  • ontspan en van hul frustrasies ontslae raak,
  • eksperimenteer met die verskillende eienskappe van stowwe,
  • hul gevoelens op ’n skeppende manier uitdruk,
  • leer oor kleure meng, patrone, ontwerp en tekstuur, en
  • se hand-oog-koördinasie ontwikkel omdat hulle gooi, meet, meng en klits.

Getty Images

Smullekker vuilspel

Hoe meer sintuie kleingoed inspan, hoe beter. As jou kleuter haar modderkoekies verorber, oorweeg vuil pret met eetbare opsies. Maak ’n skotteltjie jellie, kitspoeding of spaghetti. Sit dit buite op die gras neer, of op ’n vloer wat met koerantpapier bedek is. Sowat 15 tot 20 pakkies jellie en drie tot vier pakke spaghetti maak groot hoeveelhede waarin jou kind pens en pootjies kan klim. Die spaghetti moet gekook word tot sag en klouerig. Jy kan ook verskillende geure en kleure jellie of spaghetti maak (kook die spaghetti in water met voedselkleursel en -geursel) en dit in aparte roomysbakke giet, of jy kan die jellie of spaghetti in ’n speelskulp uitgooi en kleinding sommer daarin laat wriemel. Jou kind sal gek wees daaroor om met haar vingers deur die jellie of spaghetti te woel en te proe sover sy gaan.

  • Gee haar groot velle papier waarop sy met die jellie kan teken of patroontjies met die spaghetti kan plak.
  • Moedig haar aan om die spaghetti te knoop.
  • Maak lyfversiersels met die spaghetti.
  • Laat rol haar in die jellie rond!
  • Laat sy en sussa mekaar met die jellie en spaghetti besmeer.
Skoonmaakwenk
Dis beter as sy hierdie aktiwiteit met die minimum klere aan doen. Was hare en bad direk ná die spelery. Gooi die klere dadelik in wasmasjien.
’n Skoner opsie
Maak die bokant van ’n vel papier nat. Strooi droë jellie bo-op en laat haar met haar vinger daarop verf.

Teken met seep en kos

Laat haar met sand verf Meng wit sand met verskillende kleure voedselkleursel. Roer tot die sand gekleur is en laat dit droog word. Gee ’n plat houer (soos ’n bakplaat met rande) waarop sy die sand kan strooi en dan met haar vingers, hande of ander gereedskap patroontjies kan teken. Jy kan ook gom op ’n stuk papier smeer en haar die verskillende kleure verf daaroor laat strooi om ’n prentjie te maak.

Maak seepverf Meng seepvlokkies met warm water en klits tot taamlik dik en skuimerig. Sit jou kleuter en die verf op ’n plastiektafeldoek neer en laat sy die seepverf met ’n kwas op die tafeldoek verf.

Vingertekeninge Sprei ’n plastiektafeldoek op die grond oop en spuit skeerroom daarop of skep kitspoeding, roomys of heuning daarop. Dis alles verfgoed. Jy kan ook ’n bakkie daarvan by ’n lae vensterruit of spieël sit en haar daarteen laat prentjies teken. Moedig haar aan om dit te proe en aan haar lyfie te smeer!

Mikrogolf-kuns Meng een eetlepel bruismeel, een eetlepel sout en ’n paar druppels voedselkleursel om verf te maak wat pof as jy dit in die mikrogolf sit. Meng die bestanddele met water en maak ’n paar verskillende kleure. Laat jou kind dit op dik papier verf en mikrogolf dit 10 sekondes of tot die verf droog is.

Skoonmaakwenk
Beperk klere tot die minimum. Vee die plastiektafeldoek agterna net met ’n klam lap af.