7 wenke vir 'n leë kosblik

akkreditasie
Volg hierdie wenke om seker te maak jou kleinding se kosblik kom altyd leeg terug huis toe.

1. Hou die volgende oggend se kosblik in gedagte wanneer jy kos maak. Oorskiethoender kan hoender-mayonnaise op ’n toebroodjie word, en oorskietpasta kan pastaslaai word.

2. Gebruik jou vars bestanddele soos brood en vrugte vroeg in die week, en hou kos uit die spens met ’n langer raklewe soos Provitas en ryskoekies vir later in die week.

3. Praat met die ander ouers en met die klasjuffrou sodat almal ooreenkom om nie lekkergoed en skyfies saam te stuur nie. Dis moeilik vir jou en jou kind as julle die enigstes is wat gesonde kos inpak.

4. Kleintjies eet met hul oë. ’n Trae peuselaar kan aangemoedig word as jy oulik is en die broodjie met ’n koekiedrukker in vorms sny. Oorweeg ook gekleurde sakkies of plakkers op die sakkie, en skaf ’n verskeidenheid kleiner bakkies aan wat binne-in die kosblik pas. Hou al die houertjies wat jy saam met wegneemetes kry.

5. Onthou om ’n plastieklepeltjie en ’n nat lappie in te pak as jy jogurt saamstuur.

6. Skaf ’n klein fles aan en stuur gerus in die winter lekker sop saam skooltjie toe, en in die somer ’n koel jogurtdrankie.

7. Hou die porsies klein. Onthou, dis nie nog ’n maaltyd nie – dis net ’n versnapering. Maak die broodjie met net een sny brood en gee dan ’n halwe vrug en een of twee tamaties daarby. ’n Kosblik wat te veel in het, sal jou kind net oorweldig.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees